Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
wenner van Eybers-prys
Gibson vertel van digkuns
‘Moet ’n waarheid praat, enige’

Hy skryf omdat hy wil, nie omdat hy moet nie, sê die Vrystater en een van Afrikaans se digtende dokters, Gilbert Gibson. Hy gesels met Elmari Rautenbach nadat die Elisabeth Eybers-poësieprys aan hom vir sy bundel Vry- toegeken is. Gibson is volgende week op die Vrystaatse Kunstefees.

Gilbert Gibson

Jy is ’n Vrystater – praat onder meer Sotho; het grootgeword op ’n plaas by Marquard, met ’n oupagrootjie wat in die konsentrasiekamp by Winburg dood is en sy pa wat een van die eerste artse op die Vrystaatse platteland was. Hoe het dié ruimte jou gevorm tot die man wat jy vandag is?

Toe ek nog ’n kind was, het ek baie mense met die aarde sien stoei. Die grond was nie jou vriend nie, maar in koue en ryp, vloede en droogte jou teenstander. Boere was nie dust-whisperers nie. Hulle was in ’n stryd om oor­lewing. Die Vrystaat was die geografiese agtergrond hiervoor – en ’n metafoor vir enige plek in die land of op die aarde. Die grondheid van die wye wêreld herinner my elke dag hieraan – dan onthou ek hoe ’n mens die 2 km van die koshuis af skool toe geloop het, en hoe vuil jou voete van die stof in die ongeteerde strate geword het. Stof, soos Petra Müller my vertel, wat jy nooit van jou voete kan ­afskud nie. Die weer is anders in die Vrystaat. Dis hard en wild en ongenaakbaar, sodat selfs Bloemfontein baie dae, veral in die ­winter, voel soos ’n woestyn met water. Dis my wêreld.

Die ruimte waarin ’n digter hom vind, word sy stramien – waarop hy borduur. By my is dit hier en nou die Vrystaat. Die ­wêreld om die digter staan in die poësie soos ’n pool bo ’n magnetiese naald: Dit is nie die gedig self nie, maar skemer in die ­gedig, soos iets wat gedurig ontglip, net-net deur. Die digterlike ruimte en die wêreldse ruimte (in Marquard en Bloemfontein) staan eintlik in spanning teenoor mekaar. Hoe beter jy die landstreek met sy mense, dinge, taal en idioom ken, hoe meer ­vervreem dit jou van die aardse en aardelike bestel. Dis op sy ­beste maar ’n voortdurende ­geveg tussen die “jy” en die “nie-jy” daarbuite.


Tien jaar nadat Boomplaats die Proteaprys gewen het en sewe ­sedert die ATKV-poësieprys vir Oogensiklo­pedie wen Vry- die Elisabeth ­Eybers-prys. Was jy bly?

My vrou en kind was by en saam verbaas. Aandag van buite maak ’n digter eintlik ongemaklik. En in elk geval is so ’n evaluasie maar redelik subjektief – daar is vrek goeie digters in Afrikaans, veral as jy die volume van ons kleinerige letterkunde in ag neem. ’n Boekbekroning gaan eintlik meer om die poësie in die breë – dis ’n erkenning ten eerste aan almal wat gedigte lees en skryf.


Die omslag van die bundel Vry-.

Jy het al vertel hoe gelukkig jy was dat jou boer van ’n pa moeite ­gedoen het om jou ook kreatief te stimuleer . . .

Om die een of ander rede het ek op so 12 gevra vir digbundels (Sprokkelster, Gebed van ’n groen perske, Leitourgos, Mannin), waarmee hy vóór Amazon en die internet en al daai ná so ’n paar weke op die dorp opgedaag het, nogal op ’n Maandagmiddag, en Kinderkrans onderbreek het. Ek onthou dit soos gister. Die meeste stimulasie kom van wat jou veral as kind onwetend raak: pa’s, ma’s, susters, onderwysers, predikante, maats, meisies, boeke, die land om jou veral.


In jou spreekkamer se wagkamer is onder meer ’n? kitaar. Maar jy het 15 jaar se formele klassiekemusiekopleiding op jou kerfstok – wanneer het dít dan gebeur?

Op Marquard was ’n buitengewoon begaafde musiekonderwyser, Christo Oberholzer, wat my my stuurs soeke na wat ek gedink het jazz was, laat begaan het. Hy het my geleer hoe om te luister, en dat ritme die eerste was van alle ­musiek. Ek het baie lank daarna besef ritme was die eerste ook van alle woorde.


En jou vlieglisensie?!

Tot my familie se angs en bekommernis boor ek paaie in die Vrystaatse en Noord-Kaapse bloutes. Ek is mal daaroor, doen dit al vir 20 jaar, in so ’n mate dat my (vorige) redakteur ­François Smith vir my sê ek is ’n veel beter piloot as digter . . .

Dit was toevallig ook Petra wat my eendag daarop gewys het hoe finaal en watter volledige stop ’n punt is. Ek dink leestekens werk vir my soos musieknotasie in gedigte. Spasies. Pouses. Skeppers van verwagting. Uiteraard irriteer dit sekere lesers, soos kritici my tereg al op gewys het, maar in my interne poësie is dit logies dat leestekens, soos gespanne enjambement en interne (ver)wringing van idioom en taal, meganismes is waarmee ek dig – voorwerpe om onderwerpe van te maak.


Benewens die Vrystaat en jou werk as dokter, speel bloed en die slagveld ’n deurlopende rol in jou werk. Kaplyn, jou tweede bundeltitel, is ’n term wat met die Bosoorlog vereenselwig word, terwyl Boomplaats na ’n veldslag in 1848 verwys . . .

Geneeskundiges-as-digters . . . dis maar wat jy doen, jy dink nie daaroor nie. Maar bloed en gevegte en ander metafore vir en van venyn is ’n ander storie. Daaroor dink jy. Oorloë, nie net van buite nie, maar van binne veral. Innerlike demone en tussen-kwaad-en-goed en emosionele terminalisasie en al daai. Dis waarmee digters hul deurposte bestryk.


Hoe beskou jy jou rol as digter?

Ek haal asem omdat ek moet. Ek skryf omdat ek wil. Wat die langtermyngevolg daarvan is, is baie dae vir my onduidelik; vaag. Dit maak jou soos ’n priester in ’n ateïstiese dorpie: iemand met eintlik maar min sosiale mag, maar tog interessant. Die digter moet bo alles die waarheid praat. Eintlik moet ek sê: Die digter moet bo alles ’n waarheid praat. Enige waarheid. Selfs die waarheid gelieg.

* Besoek die webwerf by www.vrystaatkunstefees.co.za.

Meer oor:  Digter  |  Vrystaatse Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.