Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Giliomee: Outobiografie van ’n Afrikanergetuie

Hermann Giliomee: Historikus – ’n Outobiografie. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R380. Resensent: Amanda Botha

In dié boek verreken Hermann Giliomee sy lewe en werk in ’n historiese tydvak wat hom intellektueel en as mens geslyp het. Hierdie “historiese verstaan” van gebeure word uiteindelik ’n boeiende en prikkelende verkenning van eietydse politieke geskiedenis waaroor hy as “getuie van groot tye” rekenskap doen.

Hy plaas sy lewenservaring in hierdie groter konteks en benut sy 18 vorige politiek-historiese publikasies van 1974 tot 2015 om die gang en verfyning van sy denke en insigte te karteer. Só skep hy ’n breë maar gedefinieerde raamwerk waarbinne hy hom as historikus én Afrikaner verantwoord.

Die outobiografie sou ook gelees kon word om veral – ná die publikasie van sy The Afrikaners: Biography of a People (2003) of Die Afrikaners: ’n Biografie (2004) – ’n antwoord te vind op die vraag hoe die Afrikaner ná sy magsverlies van 1994 sou vaar om sy kultuurwaardes as ’n kleinood te beskerm en uit te bou tot nut van die geheel. Durf die Afrikaner sy verlede en dít wat positief opgebou is as fondament vir ’n post-1994-demokrasie te verguis oor die “besoedeling van apartheid”?

In dié verband onderskryf Giliomee die diktum van die Joodse filosoof Elie Wiesel, wat sê: “To live ­without a past is worse than to live ­without a fu­ture.” Dit is regstreeks waarop hy reageer deur te herinner dat dit op bankrotskap (en vernietiging) afstuur as die Afrikanergeskiedenis voor 1990 bloot verguis sou word. Vir hom gaan dit oor ’n kritiese ingesteldheid wat beredeneerd en objektief na feite kyk.

Dit het onder meer betrekking op ­Giliomee se verrekening van H.F. Verwoerd as historiese figuur en sy herbesinning van die (verlore) rol wat Van Zyl Slabbert kon gehad het. Wat aan Verwoerd toegevoeg word, het immers ’n historiese aanloop gehad lank voor die Verwoerd-era, maar vir Giliomee is dit ook belangrik om te fokus op wat Verwoerd sou kon verrig het, soos sy siening in 1950 dat swart leiers binne ’n stedelike konteks met “selfregering” tegemoetgekom kon word – ’n konsep wat, meen hy, potensiaal gehad het.

Giliomee se studie van die Afrikaner staan nooit in isolasie nie. Hy het in sy studie oor ander minderheidsgroepe bepaalde ooreenkomste gevind met byvoorbeeld dié van die swart bevolking in die Amerikaanse Suide. Hy sluit regstreekse aan by die gevierde Amerikaanse historikus C. Vann Woodward, wat meen dat geskiedskrywing in diep verdeelde samelewings nie gaan oor die begrip van die verlede nie, maar oor hoe die hede geregverdig kan word.

Dit is wat Giliomee in sy outobiografie doen: Hy laat hom deur sy persoonlike en sy land se geskiedenis lei in ’n poging om die vrae van vandag te beantwoord.

Sy kinderdae op Porterville in die ­Boland neem hom terug op ’n nostalgiese verkenning waar hy prontuit erken dat die Afrikaner-volksbeweging van die 1950’s en 1960’s ’n “vormende invloed” op hom gehad het. Hy is openlik oor sy ouers se politieke sentimente en is steeds getrou aan die oproep van die tyd om “nooit jou mense en jou taal as minderwaardig te beskou nie”.

As nagraadse student het Giliomee met sy dosente op Stellenbosch gebots oor sy siening dat die historikus nie in die midde van sy volk moet staan nie, maar juis soms baie krities moet kyk na die volk met wie hy hom vereenselwig. Die pretensie van “absolute sekerheid” sou altyd vir hom ’n waarskuwingslig wees. Hy is immers ’n pragmatis. Sy mede- Afrikaanse historici het dikwels en radikaal van hom verskil en hom selfs probeer isoleer as “die slang in die gras”. Was dit dalk oor sieninge soos sy erkenning dat swart en bruin mense groot dele beset het lank voor wit mense in Tafelbaai voet aan wal gesit het? Is dit omdat Giliomee in sy studies kon wys dat die NP van die 1960’s die historiese reg tot grond die hoeksteen van die ideologie van apartheid gemaak het?

As historikus wou Giliomee “ ’n heilige respek vir feite” koppel aan ’n “voortdurende waaksaamheid teen ’n anachronistiese omgaan met die geskiedenis”.

Juis deur die blik van die hede kan Giliomee ook omkyk en sy foute aanstip. Dit is dié integriteit wat hom ’n wêreldklashistorikus maak. Om net een te noem, sy erkenning van opregte spyt dat dit hom tot 2007 geneem het om te besef watter groot onreg apartheid bruin mense aangedoen het. Dit was met die skryf van sy boek Nog altyd hier gewees dat hy van die ongevoeligheid van wit mense oor bruin mense se verskuiwing onder die Groepsgebiedewet bewus geword het.

Te veel boeiende temas wat tot hewige bespreking lei, word deur Giliomee aan bod gebring om in ’n beperkte resensie verslag oor te doen. Wat besonder insiggewend is, is sy openhartige besprekings van sy teleurstelling in De Klerk in wie hy soveel hoop gevestig het ná 2 Februarie 1990.

Vir hom gaan dit daaroor dat De Klerk nie ’n mandaat gehad het vir die grondwetlike onderhandelings van 1993 nie en dat hy nie sy beloftes nagekom het om ’n tweede referendum te hou as ’n vorm van magsdeling die basis van onderhandeling geword het nie. Hy het, volgens Giliomee, magsdeling beloof en toe heeltemal oorgegee weens ’n gebrek aan ’n onderhandelingstrategie wat bepaalde beginsels en belange van minderheidsgroepe sou beskerm.

Giliomee se nalatenskap is dat hy die rassekonflik ontleed het om voorstelle vir hervorming te doen in die nastrewing van menslikheid, billikheid en regverdigheid om ander in staat te stel om nugterder te oordeel.

Dié boek is ook ’n spieëlbeeld vir ons as Afrikaners wat ons tot herbesinning dwing. Dalk maak dié oproep dit een van die belangrikste boeke van die afgelope dekade.

  • Amanda Botha is ’n skrywer, joernalis en omroeper.
Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.