Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
G’n keer toe dié vrou haar stem vind

Hoewel die temas in haar 11de boek skerp en diep sny, hanteer Sophia Kapp dit met omsigtigheid, deernis en heerlike humor, skryf Anna Kemp.

Kantelpunt
Kantelpunt

Kantelpuntdeur Sophia Kapp. Uitgewer: Lapa. Prys: R315.

“Nie vir sensitiewe lesers nie,” lui die waarskuwing op die agterblad van Sophia Kapp se sprankelende 11de boek waarin sy die patriargie met sy giftige voelers wat ver en wyd reik, met mening pak.

In haar “Vrywaring” definieer Kapp die roman as “nie romantiese fiksie nie”, maar as die boekstawing van Nellie van der Merwe (gebore Petronella Jacoba van Aarde) se wederopstanding in die vorm van hupomnemata, oftewel los herinneringe, wat sy aan die hand van Foucault definieer.

Nellie is op 50 ’n “bibberende bol onsekerhede” (bl. 44), vasgevang in ’n huwelik met ’n narsis wie se slap ruggraat regop gehou word deur die kodes van ’n uitgediende patriargale stelsel. Hoe het dit gebeur? Wanneer? In watter mate is sy self aandadig en skuldig aan die plek waar sy haar in hierdie stelsel bevind?

In Deel 1 van dié slim gestruktureerde drieledige roman leer die leser die “ou” Nellie ken: Sy bly stil, kalm en op haar plek; sy vergewe ter wille van die vrede; sy draai die ander wang in elke konfrontasie met haar gesin en familielede, haar kollegas by die skool, die dominee, en vriend en vyand in haar sosiale omgewing. Dit is hoe sy grootgeword het, hoe sy geleer is in gesin, kerk en skool. Maar onder dié kalmte en redelikheid worstel sy met verlammende onsekerheid, woede en skuldgevoelens oor haar rol in die stelsel as vrou en eggenoot, as dogter en skoondogter, as ma van drie uiteenlopende kinders, as wit en bevoorregte burger van die land.

In die eerste hoofstuk van Deel 1 lê sy besoek af by ’n ginekoloog, wat haar inlig sy moet ’n histerektomie ondergaan. Haar uterus – dié geldigmaking en stawing van haar rol as vrou en moeder in die wêreld – gaan verwyder word.

Tydens hierdie besoek ontmoet sy ook Gaia, die bruin moederaarde wat haar Vergilius, haar innerlike stem én haar duiwelsadvokaat gaan word op die moeisame tog na nuwe insig in elke aspek van haar lewe.

In die daaropvolgende sewe hoofstukke word die leser blootgestel (in die volste sin van die woord) aan Nellie en haar man, Hendrik, se fisiek en psigies disfunksionele verhouding, en aan hul verhouding met hul kinders, vriende, ouers en skoonouers.

Hoofstuktitels in dié deel (“Mannin”, “Vrou en moeder”, “Aangetroud”, “Ontheem”, “Tribe” en “Outsider”) vind eggo’s in die titels in Deel 3 wat ’n interessante spieëleffek skep. Lesers sal genot daaruit put om dié twee dele met mekaar te vergelyk – sowel die ooreenkomste as verskille is belangrik ten opsigte van die gebeure en die struktuur van die roman.

Deel 2 bestaan uit ’n enkele hoofstuk, “Kantelpunt”, ook die titel van die roman. Die setel van dít wat Nellie in die oë van die patriargale stelsel ’n vrou (en bruikbaar) maak – haar uterus – is verwyder. Daar is nou niks, ’n groot, wit naatlose niks, ’n vrugbare niks waaruit sy geboorte gaan skenk aan die nuwe Petronella van Aarde met die alomteenwoordige aardmoeder Gaia as vroedvrou. Nie verniet word dié hoofstuk sentraal en geïsoleer geplaas nie. Dit bevat verrassende, skokkende inligting wat ’n domino-effek op die res van die verhaal gaan hê en baie van die voorafgaande gebeure in ’n nuwe lig plaas.

In Deel 3 trek Nellie stadig maar berekend haar handskoene uit. Sy gaan die gevegte wat voorlê, kaalvuis aanpak. Sy begin bevraagteken, eers stilweg in haar binneste, maar vind toenemend – tot haar konsternasie en die leser se vermaak – sy kan nie meer stilbly nie. Sy het haar stem gevind en haar Rubicon oorgesteek. Van terugdraai is daar nie sprake nie.

Haar “teenstanders”, wat man, kinders, skoonma, vriende, skoolhoof en dominee insluit, vind tot hul skok en verbasing uit die wapens van die patriargie (beheer, manipulasie, stereotipering, etikettering, lydsaamheid, onderdanigheid en vleitaal, om maar ’n paar te noem) is nutteloos teen haar aanslag, wat opstoppers insluit.

Met haar skerp insig, wat sy vredeswil altyd onder die maatemmer gehou het, wys sy dubbele standaarde en huigelagtigheid uit. Benewens die reeds genoemde sosiale verhoudings kom rasse- en genderverhoudings ook nie skotvry daarvan af nie – die patriargie is immers nie beperk tot wit en manlik en Afrikaans nie. Állesbehalwe. Boweal skyn Nellie haar laserlig op haar eie aandadigheid aan ’n stelsel wat steeds soveel leed en wanstaltigheid veroorsaak.

Hoewel die temas in Kantelpunt skerp en diep sny, hanteer die skrywer dit met omsigtigheid, deernis en heerlike humor. Kapp skitter veral met dialoog. Sy onthul soveel emosies en karaktereienskappe in gesprekke dat haar beskrywings van reaksies soms oorbodig voel. Sy lê pittige woorde en frases in die mond van haar karakters: Nellie se dogter is nie van “stilblystoffasie” gemaak nie; Nellie self “kwetter soos ’n spreeu op tik” by die ginekoloog; Gaia maan haar dat die lewe ’n reis is en nie “ ’n stel prestasieteikens” nie. Voeg hierby die prikkelende aanhalings wat elke hoofstuk vergesel, Nellie se persoonlike notas oor byvoorbeeld plaasmoorde of EFF-politiek (hier laat sy werklik die leisels gaan) en die hegte en selfreflekterende romanstruktuur, en ’n mens sien dit is werklik ’n uitstekende en vermaaklike werk.

’n Mens hoop dié boek het ’n herdruk en ek noem steurnisse: “surve” pleks van “survive” (bl. 184), “metaphore” vir “metaphor” (bl. 407) en “ondermydelike” pleks van “onvermydelike” (bl. 432). En is “onuitbesteebare” (bl. 249) ’n nuutskepping?

  • Kemp is ’n kortverhaalskrywer en ywerige leser van Koringberg in die Swartland.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.