Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘God se liefde staan sentraal'

Dr. Ben du Toit neem in sy boek God – Is daar ’n ander antwoord afskeid van God. Du Toit was ’n bekende predikant van die NG Kerk wat die kerk op verskeie vlakke verteenwoordig het.

Die werklike rede waarom hy afskeid van God neem is steeds nie altyd duidelik nie, al voer hy verskeie redes aan. Hy verklaar homself as post-teïs, dus iemand wat verder beweeg het en die geloof in God afgelê het.

Foto: iStock

Ek het die boek gelees, intens bestudeer en daaroor nagedink. My indruk is Du Toit is nie bloot iemand wat dialoog wil voer nie. Hy word ’n priester van die ongeloof wat mense van sy ongeloof wil oortuig.

‘Geen doel vir geloof’

Du Toit is uiters krities teenoor die NG Kerk wat hom – na sy mening – gefaal het. Daaroor lewer hy verskeie argumente, maar hy wys veral op die gebrek aan eenheid en die apartheidsteologie, die optrede van funksionarisse en die fundamentalistiese Bybelgebruik in die kerk.

Die magsbeheptheid van die kerk word ook gekritiseer.

Hy erken enkele goeie dinge soos hulp aan armes.

Dit is egter veral die ontwikkeling van die wetenskap en tegnologie wat hom op die spoor van ongeloof plaas.

Hy sluit aan by die Nederlandse neuroloog Dick Swaab, wat die boek Ek is my brein geskryf het. Daarmee bedoel Du Toit dat God nie voor die mens bestaan het nie, maar dat ons God bedink het met ons breine wat evolusionêr ontwikkel het.

Du Toit se post-teïstiese posisie bied volgens hom groot vryheid. Die geloof in eksterne magte inhibeer hom. Hy wil net mens wees as individu en (in die) gemeenskap. Hy soek na radikaal bevrydende humaniteit.

Hy stel sy standpunt soos volg: “As ’n mens van hierdie punt af terugkyk, dan besef jy die bevrydende aard daarvan. Daar is geen bedreiging van ’n lewe hierna met die moontlikheid van ewige straf teenoor (hopelik) ’n ewige lewe nie. Die doel van geloof in God het geen gronde meer nie.

“As daar nie ’n voortbestaan van lewe hierna is nie – en die betrokkenheid van ’n godheid by ons lewe hier en nou uitermate problematies is (soos alreeds aangedui in terme van die trilemma-argument van ’n liefdevolle, almagtige, alwetende wese) – is die nut van geloof in ’n godheid, ’n superieure wese, ’n energie of metafisiese figuur sonder enige motivering.”

Daar kan volgens hom ook nie onderskeid tussen goeie en slegte godsdiens gemaak word nie. Godsdiens kan nie meer probleemoplossend funksioneer nie. Die tegnologiese era het daarmee afgereken. Alle godsdienste, beweer hy, is selfgesentreerd.

Hy sluit soos volg af: “Ek is ’n mens met ’n brein. Ek is as mens met ’n brein ’n produk van ’n lang evolusionêre proses. Daar was geen transendente, metafisiese mag of God as skepper by betrokke nie. Ek is die resultaat van ’n biologiese proses. Dis die waarheid.”

Die mens se brein is vir hom allesbepalend.

‘Wat die oog nie sien nie’

Maar is dit alles waar?

Die mees essensiële vraag vir die kerk op die oomblik is die vraag na God. Daarin moet al ons energie gaan, nie in randsake nie. God se liefde moet absoluut sentraal staan, bely en verkondig word.

Is daar ’n liefliker antwoord op Du Toit se argumente as juis Romeine 5:5-11?

“Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.”

Dit is God se liefde.

Daarin sien ons dit. Dit is wonderbaar en gee volle betekenis aan ons lewe, selfs in moeilike en traumatiese tye. Die Seun van God sterf vir sy vyande. God dra die ellende van die wêreld.

Die Nederlandse teoloog Bram van de Beek neem ’n geheel ander standpunt as Du Toit in. Van de Beek verduidelik dat God mense juis opneem in die geskiedenis van Jesus, in sy dood en opstanding. God het in die liggaamlike lewe van sy Seun Jesus tot by ons gekom. So laat Hy ons deel kry aan sy geskiedenis.

Van de Beek bring lyding dus direk in verband met die kruis van Jesus en meen dat dit nie anders as in die lig van die kruis verstaan kan word nie.

Van de Beek beklemtoon dat God ’n vreemde Vader is. Hy gee sy eie Seun prys ter wille van sy vyande. Daarom is die kruis sentraal. Daar word die absolute liefde van God openbaar. Van de Beek handhaaf dus God se bestier oor die wêreld en vind dit in die kruis.

Gedurende en ná die Tweede Wêreldoorlog verloor baie ook hul geloof.

Bekend is die Rabbi wat uitroep: “Daar is geen God nie!” wanneer hy in die konsentrasiekamp aanskou hoe van sy geloofsgenote opgehang word.

Ná die wrede bombardering van Dresden verklaar ’n Duitse vrou hoe sy altyd gelowig was, maar toe haar geloof verloor het.

Daarteenoor is die getuienis van Corrie ten Boom, ’n Nederlandse vrou wat verskeie Jode gered het en toe self in die konsentrasiekamp beland het, uiterste ellende beleef het, maar juis in haar geloof versterk is. Ná die oorlog sit sy haar werk as Christen voort en reis selfs op 80-jarige ouderdom na kommunistiese Rusland om haar geloof uit te leef.

Pieter Verster

Sy leef die liefde van God uit en vind wonderbare sin in haar verhouding met die lewende Christus.

Die bekendste Bybelse voorbeeld van iemand wat die teenswoordige wêreld liefgekry het, is Demas.

Teenoor hom staan Paulus wat uitermate vervolg is, maar steeds die wonder van die evangelie verkondig het.

Paulus beklemtoon daarom die belofte van God in 1 Korintiërs 2:9: “Maar soos daar geskrywe staan: ‘Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,’ en wat in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet.”

  • Verster is ’n emeritus-professor in sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.
Meer oor:  Ben Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.