Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Godsdiens, rugby . . .

Kerneels Breytenbach steek sy kop behoorlik in ’n byenes met sy nuwe roman waarin die drie-eenheid van godsdiens, politiek en rugby so behendig vervleg word dat dit haas onmoontlik is om te peil waar die een begin en die ander eindig, skryf Jonathan Amid.

Hond se gedagte deur Kerneels Breytenbach. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R320.

Hond se gedagte is ’n monumentale tydsdokument waaroor daar nog lank en met mening gedebatteer gaan word, al is die verhalende onderbou betreklik eenvoudig en maklik om te volg: Fleur de Villiers, ’n gerekende joernalis, maar geen rugbykenner nie, word deur haar vriend Maurice Kumalo gevra om ’n biografie oor die Springbokkaptein, Katstert Nel, te skryf. Niks nuuts of uitdagends daar nie, of hoe?

Maar daar is tog twee jakkalsies in die wingerd: rugby, wat met sy ingewikkelde, immer veranderende reëls, fanatiese ondersteuners en persoonlikheidskultusse nie juis die domein van vroue is nie (Fleur is veel gemakliker in die ondersoekende joernalistiek én tussen die lakens); en tweedens Jaap Schvantz en sy vrou, Krystle, wat reeds in Piekniek by Hangklip (2011) ’n buiging gemaak het. In Hond se gedagte vind ons uit hoe hulle dit reggekry het om hul cash cow, Corpus Christi, te begin en as’t ware getroud te wees met rugby, rand en sent én die kerk.

Hoewel die Duitse “Schwanz” “stert” beteken, word dit veral as verwysing na die penis gebruik. In dieselfde asem dus “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, maar ook ’n balhorige kopknik na Schwanzus Longus en Biggus Dickus in Monty Python’s Life of Brian (1979) . . . om die bal so ’n bietjie lug te gee is mos deel van die pret.

Op eiesoortige wyse speel hy die man én die bal.

Breytenbach se werk herinner immers aan dié van die Amerikaanse meester Thomas Pynchon, wat geglo het skrywers moet die alledaagse bespotlik maak en die bespotlike alledaags, maar altyd die storie se hartklop in gedagte hou.

Hond se gedagte het ’n tamaai rolverdeling, wat onder andere die hele Springbokspan insluit – van Hannes “The teacher” Gerber, die “petit Chabal” Sol Miang, Francois “The Damager” Martins, Knife Marawa, Gert “Big Time” de Clerque, Neef van Eeden, die losskakels Pedrovene Smith en Frommel Vinck, tot die kaptein, Katstert Nel, Diepte Zuma en die heelagter, Slapogie Losper, met sy swak vir Spaanse skoonhede en strepe wit poeier. Hierdie knapsekêrels word byna almal genoeg ruimte gegun om voor die oë vorm aan te neem en behoorlik lewe te kry.

Op eiesoortige wyse speel Breytenbach in sy fiksie die man én die bal: Hy stuur eerstens ’n wêreldklas-verhaal van stapel met onweerstaanbare momentum, mojo en magic wat veel meer bied as blote ontvlugting of ontspanning. So plesierig soos dit is om te lees van al die kaperjolle, kreatiewe name en liplek-lekker beskrywings van kos, musiek, kuns en kitsch, is dit maar een van die vele geregte wat hier voorgesit word.

Breytenbach skryf die binnekamers en binnewerkinge van rugby as geloof, sport as politiek, en politiek as ’n soort sports oop met ’n ikonoklas se weersin in matigheid en mooi broodjies bak, en die skerpskutter se ingesteldheid op presies die regte hoek en trefafstand. Dis die soort preek wat soos moedersmelk afgaan.

Ek vermoed menige leser wat nader aan die middelmoot skoffel, gaan hulle behoorlik vervies vir die skrywer en hom beskuldig van ’n gebrek aan respek vir die kerk. Maar eerder as om te skok of te ontstel gaan dit hier oor die ontluistering van die setels van mag, die bevraagtekening van die vanselfsprekende, die aansteek van die kruitvat se lont oor kwessies soos taal, bestaansreg, verantwoordelikhede teenoor die ander, die strewe na betekenis en die soeke na hoop.

Saam met ander onlangse titels, onder meer Alettie van den Heever se Stof (2018), staan dié roman aan die spits van ’n opwindende tendens in die plaaslike lettere: die wil – en wonder bo wonder ook die woorde – om te besin oor en te bou aan ’n nuwe woordeskat vir die Suid-Afrikaanse toekoms. Wat vreesloos nuwe stories vertel, nuwe wêrelde verbeel en ons die bekende met nuwe oë laat aanskou.

Hond se gedagte is ’n roman wat ’n Suid-Afrika verbeel waar daar werkbare voorbeelde van samewerking, vriendskap, samesyn, deernis en medemenslikheid deurskemer.

Die slot is een van verwondering en vreugde én berus op ’n wonderwerk. Ek durf nie verklap hoe wyle Doc Craven en ’n baie spesiale hond so in die intrige verweef word dat ’n mens nie sommer snuf in die neus kry nie. Hier word ’n groot geloofsprong genoodsaak en ruimhartig en bruisend geregverdig.

Dis ’n ou laai om te sê rugby is ’n godsdiens in hierdie land en dat politici se inmenging in sport, veral rugby, soos ’n soort epidemie geraak het. Wat van die ironie van ’n bullebak soos Bakkies Botha (presies die soort woordspeling wat Breytenbach in Hond se gedagte behoorlik hond haaraf gemaak kry) wat byt en boelie vir die A-span, maar dan op sy knieë gaan en die Here se seën vra vir die Bokke? Wie kan Heyneke Meyer se gebede met sy Bulle- en later Springbokspanne vergeet?

Ek dink al lank aan Breytenbach as die moderne antwoord op Etienne Leroux, as ’n skrywer wat koppig en koddig speel met taal en ons greep op die werklikheid om ons iets indringends te vertel oor waar ons nou is en dalk ook waarheen ons op pad is.

’n Skrywersvisioenêr of profeet wat heilige koeie slag terwyl sy blik gekaats word op ’n volk wat alewig swaar dra aan die las van uitverkorenheid, integrasie, wit skuld, versoening, prysgee van kultuur en die eie ek, die “trots Afrikaans” wat verswelg word deur markiestentsangers, studenterubrieke, verregse estete en DStv-skottelbraai­ers...

Breytenbach was nog altyd ’n stem wat klinkklaar aweregs, sonder pretensie, maar met menslikheid en ’n soort oerwysheid oor die mens as feilbare wese kon verslag doen – deur alles van Morsdood van die honger (1992), Glimlag (1993) en Die ding tussen man en vrou: Grappe byeengebring en oorvertel (2009) tot sy bydrae tot 7de Laan kook (2010), Piekniek by Hangklip (2011) en Ester (2014) loop die goue draad van spitsvondigheid, speelsheid, stuitigheid en sonderlinge humor wat bekoor en begogel.

Tog borrel die soeke na wysheid, wasdom en wonder – soos ou wonde oopgekrap word en nuwe seerplekke begin rofies maak – altyd net onder die oppervlak.

In ’n onderhoud wat op 18 Februarie 2010 in Beeld verskyn het, verklaar die skrywer: “Ek vermoed ek is maar soos enige ander mens lief vir die ontlading wat humor bring. Humor is die enigste en beste wapen teen arrogansie, hovaardigheid, onnoselheid en plein ongeskiktheid. En dit herinner jou daaraan dat almal net mense is. Daarom dat Afrikaners en Afrikaanses en selfs die odd Boer dit so geniet. Ek vermoed die enigste mense wat nie van lag hou nie, is dié wat traumatiese Sondagskool-ervarings gehad het.”

Ontmoet die skrywer
Pretoria: Kabous Meiring lei die Boek-en-koek-gesprek op Donderdag 5 September (09:00 vir 09:30) by O’Galito in die Zambezi Junction in Breedstraat. Dit kos R75 per persoon. RSVP: shop@graffitibooks.co.za of 012 548 2356.

Pretoria: Die twee gesels weer op 5 September (18:00 vir 18:30) by die UPPERcase-boekwinkel by Central Square, Menlyn Maine, op die hoek van Aramist- en Corobay-rylaan. RSVP: shop@uppercasebooks.co.za of 012 348 1835.

Stellenbosch: Leroux Schoeman gesels met Breytenbach op Donderdag 12 September (18:00 vir 18:30) in die Drostdyteater, Alexanderstraat 48. Dit kos R70 p.p. (wyn en happies ingesluit). Bespreek by Computicket.

Kaapstad: Leroux Schoeman vra weer die vrae op Dinsdag 17 September (17:30 vir 18:00). Dit vind plaas in The Book Lounge in Roelandstraat. RSVP: booklounge@gmail.com of 021 462 2425.

Diegene wat vriende is met die skrywer op sosiale media, sal weet van sy amusante fiktiewe “gesprekke” tussen die voormalige staatspresident, Jaap, die Nommer Een, en sy trawante. Dié ragfyn oor vir dialoog, vir stellings wat wemel van wilde betekenismoontlikhede en soepel sinsnedes wat skitter, is ten volle aanwesig in sy fiksie, en vernaam in Hond se gedagte. Die genotvolste paragrawe is inderdaad van so ’n aard dat die gekruide taal en gemoedelike gespot so goed integreer dat die glinster amper geruisloos verbygaan.

Elke nou en dan is daar die stem wat fluister: Fyn lees, Frikkie, wees bedag op swenk en systap; antisipeer die fopaangee en gaan vir die onderskepping.

Fiksie is dalk ’n sport met reëls waaraan Breytenbach hom min steur. Sy skrywes het ’n eie interne logika wat mondjiesmaat en met genoegdoening geproe moet word. Rugby-afrigters praat altyd van die vertroue in die “proses” eerder as die blote uitslag: Beskou hierdie sleutel as deel van die bloudruk om die beste uit die leeservaring te haal.

Klugspel en die spot dryf is immers deel van verstaan en heling.

Met Hond se gedagte – en haas ongelooflike tydsberekening so knap voor die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi – het Kerneels Breytenbach se vermenging van die prosaïese, die fantastiese en die blom van ’n lieflike vroulike protagonis sowaar die wonderbaarlike byeenbring van uiteenlopende en oënskynlik onversoenbare elemente vermag.

Sport word inderdaad ’n saak van lewe en dood, maar beslis nie soos wat jy vooraf sou dink nie.

Hierdie roman is ’n wonderwerk in die kleine, maar ’n wonderwerk desondanks.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.