Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Goed genoeg – maar steel tog nie harte nie

Rudie van Rensburg se ‘Hartedief’ verteenwoordig ’n soort ratverwisseling – van die hibriede speurverhaal met sterk riller-elemente tot die ligter misdaadverhaal wat ongejaag by die wenstreep kom, skryf Jonathan Amid.

Hartedief deur Rudie van Rensburg. Uitgewer: Queillerie. Prys: R295.

Hartedief is Rudie van Rensburg se tiende misdaadroman sedert sy debuut, Slagyster, in 2013, en volg kort op die hakke van Medusa (2019), Vloek (ook 2019) en verlede jaar se Merk. Dit is merkwaardig dat hy dié trefferparade kan volhou én tussendeur lesers met sy humoristiese Hans-boeke vermaak.

Van Rensburg se laaste paar krimi’s het die grense van fatsoenlikheid behoorlik uitgedaag en so genadeloos op lesers se senuwees jag gemaak dat ’n mens byna outomaties wonder wat hy volgende gaan takel. Hartedief verteenwoordig inderdaad ’n soort ratverwisseling – van die hibriede speurverhaal met sterk riller-elemente (spanning, skok en afgryse), tot die ligter misdaadverhaal wat ongejaag by die wenstreep kom.

Ek is ’n groot aanhanger van die Kassie Kasselman-reeks, maar omdat sekere elemente dié slag beter as ander werk, het Hartedief ongelukkig nié my hart gesteel nie.

Amper reg van die begin af weet die leser wie die moordenaar is, hoe hy te werk gaan en dat hy weer gaan toeslaan. Die ingeboude spanning van die leser wat saam met die geliefde duo Kassie Kasselman en Rooi die skuldige moet identifiseer, is daarmee heen en die vraag verskuif dus van wie na wanneer en hoe. Die skrywer moet nou ander maniere vind en allerlei sub-intriges loslaat om die leser vasgenael te hou.

Die skatryk voortvlugtige moordenaar, Pieter Vermooten (38), is besonder fiks en aantreklik vir die Evasgeslag, maar ook skugter en hy vermom hom gedurig. Om pragtige vroue te vermoor is sy dwanghandeling. Hoewel hy nie veel gepla is daarmee om DNS op moordtonele agter te laat nie, lewe hy meestal ongesiens en sonder enige digitale voetspoor. Hy gebruik nie e-pos nie en het nie eens ’n selfoon of Tinder nie, maar nietemin ’n magiese aantrekkingskrag wat hom onweerstaanbaar maak.

By tye is daar wel stewige onheil wat broei soos die onvermydelike ál nader kruip.

Dit is juis wanneer die onweerswolke begin saampak in die Moederstad dat Vermooten begin uitrafel met die onafwendbare, ontluikende verhouding met die sexy swendelaar Sylvia wat dreig om hom finaal van spoor te bring. Omdat jy vinnig agterkom hoe die skrywer die toutjies trek om Vermooten en Sylvia bymekaar te bring – geen verrassingselement nie – en weens die taamlik uitgerekte opbou tot hul uiteindelike behoorlike kennismaking, is daar groot verwagtinge dat dié verhaallyn vuurwerke sal oplewer. Ek het gehou van hoe die dinamika met Sylvia Vermooten se donker verlede en traumatiese kinderjare stuk-stuk help verhelder.

By tye is daar wel stewige onheil wat broei soos die onvermydelike ál nader kruip. Ek gebruik “kruip”, want anders as in Van Rensburg se vorige romans is daar dié keer te veel herhalende tonele en oomblikke, soos Sylvia wat vir Vermooten by sy voordeur gewaar of hom met haar beste vriendin bespreek, of Sylvia wat telkens wroeg oor haar gewoonte om ryk, getroude mans te teiken en later af te pers. Hierdie dele op hul eie is nie die probleem nie, maar die feit dat gegewens konstant herhaal word.

Vermooten self is ongelukkig nie ’n volkome oortuigende reeksmoordenaar nie. Al die opheffing van twyfel ten spyt oor sy gekose leefstyl bly hy vir die leser heeltemal te enigmaties as mens.

Van Rensburg is oudergewoonte uitstekend met die manier waarop hy navorsing in die teks verweef, maar Vermooten bly op ’n afstand en is beslis nie die sjarmante of galante heer wat jou voluit laat glo dat hy ’n ware hartedief kan wees nie. Dis moeilik om oor die hoof te sien hoe die konstante herhaling van die moordenaar wat ’n “snaarstywe” gevoel van spanning ervaar nie in die snippermandjie beland het nie.

Veel meer oortuigend, en wat baie van Hartedief se plesier verskaf, is Kassie wat dolverlief raak op sy mede-filatelis Amalia Keyser. Omdat jy soveel vir Kassie omgee, en hy, anders as Vermooten, totaal in sy menswees oortuig, hoop jy enduit dat dinge anders vir die tweetjies sal eindig as wat die geval was met Judaskus (2015) se sluwe Vera Vos. Rooi moet ongelukkig weer tweede viool speel.

Ek wonder steeds waarom Kassie in Hartedief meer Engels praat. Is daar tekens dat daar minder karakters as gewoonlik met ’n unieke stem praat? Van Rensburg vergoed wel grootliks hiervoor deur die bekendstelling van ’n nuwe karakter, sers. Gehasi April van die Langebaan-polisie, ’n opregte jong man wat vinnig in jou hart inkruip.

Soos die titel suggereer, is Van Rensburg se tiende roman ’n gemakliker en minder spanningsvolle rit. Getroue lesers sal waarskynlik die ligter aanslag verwelkom.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.