Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Goeienag, Generaal?

Totdat die leeus hul eie geskiedskrywer het, sal verhale oor die jag altyd die jagter verheerlik, lui ’n Afrika-spreekwoord. Hoe moet ’n mens dus op ’n verantwoordelike manier ’n skokkende boek met weinig empiriese bewyse lees waarin die magsverhoudings tussen eertydse maghebbers en magteloses steeds uitspeel, wonder Herman Wasserman.

Magnus Malan en PW Botha. Foto: Gideon Mendel

Die seuns van Bird Islanddeur Mark Minnie en Chris Steyn. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R280.

Die pyn wat die Nasionale Party-regering al veroorsaak het, is reeds uitvoerig geboekstaaf, en tog blyk dit uit die bewerings in Die seuns van Bird Island dat aspekte van die regime se morele korrupsie dalk tog verhul gebly het.

Daar is in onlangse weke omvattend berig oor die inhoud van die bewerings waaroor die skrywers van dié boek – onderskeidelik ’n voormalige speurder Mark Minnie en ’n veteraan- ondersoekende joernalis Chris Steyn – verslag doen.

Ter opsomming: Magnus Malan, voormalige minister van verdediging, was glo saam met sy vriend John Wiley, voorheen minister van omgewingsake, en ’n derde destydse minister by ’n pedofilienetwerk betrokke wat deur die Baaise sakeman
Dave Allen georganiseer is. Die naam van die derde minister word om regsredes nie in die boek genoem nie, maar oudminis-ter Barend du Plessis het intussen homself geëien in die beskrywing, maar die bewerings ontken.

Allen was goed bevriend met Wiley en het ’n konsessie gehad om op ’n eiland naby die stad ghwano te oes. Dat die drie mans saam per weermaghelikopter die eiland besoek het, is deur Malan self erken. Hy het egter tot met sy dood volgehou hulle was op ’n amptelike weermagsending, al het hulle hul visstokke saamgevat. Daar word nou beweer die groep mans het minderjarige bruin seuns saamgesleep op hul besoeke aan die eiland, die kinders drank gevoer en hulle dan gedwing om aan seksorgies deel te neem. Allen is destyds in hegtenis geneem op aanklag van statutêre verkragting, maar het selfmoord gepleeg voor die saak sy loop kon neem. Ook Wiley het kort daarna sy eie lewe beëindig. Albei dié selfmoorde, word in die boek beweer, was eintlik moord om die gerugte van pedofilie toe te smeer – gerugte wat uiteraard uiters skadelik vir die NP-regering sou wees in ’n tyd toe die party vir sy oorlewing moes veg teen ’n sterker wordende gety in die binne- en buiteland.

Daar is waarskynlik dié reaksies: woede, walging en ongeloof.

Daar is destyds al bespiegel dat Wiley – die enigste Engelssprekende minister in PW Botha se kabinet en glo so ’n groot rassis dat hy uit die Anglikaanse Kerk bedank het nadat Desmond Tutu as aartsbiskop aangewys is – betrokke was by seksuele omgang met minderjarige seuns. Malan het sy vriend verdedig en gesê hy is nie “daardie soort man” nie, maar wel erken hy het geweet van Allen se pedofilie.

Die media, wat destyds gemuilband is deur ’n string regulasies wat persvryheid aan bande gelê het, is deur die polisie gewaarsku om nie te bespiegel oor die redes vir Wiley se selfmoord nie en het ook geweier om te bevestig of te ontken dat Wiley die oggend van sy dood deur twee polisiekolonels besoek is. Internasionale nuusagentskappe soos UPI het wel meer uitvoerig daaroor berig, en in sy grafskrif oor Malan in 2011 het Chris Barron weer na hierdie bewerings verwys. Behalwe vir Steyn is daar ook ander joernaliste, soos Colin Urquhart van die Weekend Post, wat destyds aan die storie gewerk het.

Die noue bande tussen Malan, Wiley, die derde minister en Allen is dus nie nuwe nuus nie, die hewige teenreaksie teen hierdie boek ten spyt. Deels weens die NP-regering se streng beheer oor die uitlek van inligting en deels weens koerantredakteurs se huiwering en vrees vir vervolging het dit egter nog altyd by bespiegelings gebly. Die destydse insinuasies word nou in dié boek uitgewerk tot duideliker bewerings. Sowel Steyn as Minnie (wat vroeër hierdie week dood is nadat hy klaarblyklik homself geskiet het) het onafhanklik van mekaar weer aan die storie begin werk totdat die uitgewer hulle met mekaar in aanraking gebring en hul kragte saamgesnoer het.

Die boek lees maklik en is geskryf in ’n tipe pulpfiksiestyl met eerstepersoonsvertellers wat self karakters word: ’n ongepoetste speurder met ’n voorliefde vir hamburgers en whisky wat kroeggevegte en babelase die hoof bied om skelms aan te keer! ’n Hardkoppige maar deeglike joernalis wat veg vir die waarheid maar gedwarsboom word deur bangbroek-redakteurs! Ongeïdentifiseerde informante, geheimsinnige telefoonoproepe en verdwynende dossiere!

Die voordeel van hierdie aanbieding is dat die boek die slaggat systap wat selfs baie goeie ondersoekende joernalistiek nie altyd vermy nie, naamlik om die leser te bombardeer met komplekse feite, datums en bewerings wat moeilik is om te ontrafel, en dat die storie gevolglik stukrag inboet.

Daarteenoor is die risiko van die styl dat dit die leser so kan boei dat die leesproses ’n voyeuristiese daad word en die ontstellende gruwelverhaal gereduseer word tot ’n skinderstorie. Die toeganklike trant kan ook die gewigtigheid en impak van die bewerings ondermyn, veral omdat daar meestal op omstandigheidsgetuienis staatgemaak word. In só ’n geval is die joernalistieke reël van audi alteram partem – “luister na die ander kant” – moeilik om te volg. Steyn het wel ’n onderhoud met Malan gevoer voor sy dood en haal aan uit ander onderhoude en berigte waarin hy telkens die bewerings ontken. Hanlie Retief het ook in verlede week se Rapport aan Du Plessis ’n uitvoerige spreekbeurt gegee.

Die leser wat onweerlegbare, empiriese getuienis soek om die bewerings te staaf, gaan dit nie in hierdie boek vind nie. Uiteraard is dit onrealisties om 30 jaar later forensiese getuienis te verwag. Hoe die spore ook al lyk, die meeste is reeds deur die tyd toegewaai. Sedert die verskyning van die boek het ’n oud-polisiekolonel wel bevestig dat Minnie aan ’n ondersoek gewerk het, en dat daar in opdrag van PW Botha self op die dossier beslag gelê is. ’n Man het ook na vore gekom wat sê hy is een van die seuns wat mishandel is. Vanuit NP-kringe word hierdie bewerings weer ten sterkste ontken, maar agter die vertellings speel die magsverhoudings tussen die eertydse maghebbers en magteloses steeds uit. Die Afrika-spreekwoord kom ter sprake: “Totdat die leeus hul eie geskiedskrywer het, sal verhale oor die jag altyd die jagter verheerlik.”

Hoe lees ’n mens dus so ’n boek op ’n verantwoordelike manier? Daar is waarskynlik minstens drie moontlike reaksies: woede, walging en ongeloof.

Woede, vernaam onder ’n geslag wat die dae onthou toe Malan in sy olyfbruin uniform ’n gereelde, onaangename gesig op ons TV-skerms en koerantvoorblaaie was. Diegene wat aan die ontvangkant van militêre optredes in die townships was, sal moontlik nie geskok wees om van verdere geweld aan regeringskant te hoor nie. Dit was immers onder Malan dat die Burgerlike Samewerkingsburo (BSB) tot stand gebring, sluipmoorde op aktiviste uitgevoer en Wouter Basson se Project Coast gemagtig is.

Aan die ander kant van die geweerloop was daar dikwels jong wit dienspligtige seuns wat 30 jaar later as bebliksemde Boetmans steeds saamleef met die sielkundige tweespalt wat spruit uit die ervaring om tegelyk slagoffer te wees van ’n stelsel wat sy eie jongelinge verorber het én hulle gedwing het om medepligtig te wees aan die sistemiese geweld in die townships en op die grense. Diesulkes sal waarskynlik die boek met ’n mengsel van leedvermaak en hul eie pyn lees.

Walging is ’n ander waarskynlike reaksie. Preutse lesers sal die taalgebruik kru vind, die onderwerp onsmaaklik. Daar is nie ’n mooi manier om oor verkragting te praat nie. Die meer pragmatiese gekrenktes kan moontlik voel die oprakeling van die geskiedenis is onnodig: “Hoe lank moet ons nog stories oor apartheid hoor?” Diegene sal hopelik oorweeg dat geweld in die hedendaagse Suid-Afrika – veral die epidemiese aanslae op vroue en kinders as gevolg van ’n toksiese manlikheidskultus – nie die hoof gebied kan word as ons nie in die reine kan kom met die wortels daarvan in die erwe van ons vaad’re nie.

En dan is daar diegene wat die onthullings met ongeloof sal ontvang en dit gewoon afmaak as samesweringsteorieë. Die aangeklaagdes is immers die mense wat ons vertel het hulle verdedig die Christelike beskawing in Afrika teen die kommunistiese aanslag. Wat hardhandig en hardvogtig soos dit ’n patriarg betaam van ons seuns manne gemaak en hulle die wapen laat opneem het om ons grense te beveilig. Manne wat ’n bars kan kyk, ’n slag kan slaan, hul man kon staan – ag nee wat, hoekom sou hulle jag maak op weerlose kinders?

Daar is moontlik wel legitieme vrae oor die skrywers se metodes, die feitelikheid van hul aansprake en die gebrek aan konkrete bewysmateriaal, maar dit is iets heel anders as om die bewerings met ongeloof te begroet gewoon omdat die skokkende prentjie van molesterende ministers nie strook met ’n steeds diepgesetelde opvatting dat hul bewind eintlik tog ’n morele een was nie. Daar was dalk ’n vergrypie hier en daar, maar AfriForum pleit immers dat in die geheel gesien was apartheid tog nie ’n misdaad teen die mensdom nie. Dit is hierdie kloof tussen die oom op die kerkbank en die minister in ’n uniform wat die Duits-Amerikaanse filosoof en politieke teoretikus Hannah Arendt beskryf het as die “banaliteit van die bose”. Dit is omdat hierdie kloof so groot en onoorbrugbaar is om te verbeel dat die eerste reaksie een van ongeloof is. Hierop volg dan die ongemaklikste bewuswording van almal: om onsself af te vra op watter maniere, hoe subtiel ook al, ons self aandadig was aan uitbuiting, verswyging en vergeet.

Hierdie etiese vraag is die boek se sterkste – en een wat die skrywers ook aan hulself gestel het.

Maar uiteindelik is dit nie die beweerde klad op voormalige ministers se naam waaroor ons die bekommerdste moet wees nie. Die boek word opgedra aan “die seuns van Bird Island – en alle kinders wat in stilte ly onder dié met mag oor hulle”. Dit is jammer dat die woord “verlore” slegs in die Engelse titel, The Lost Boys of Bird Island, verskyn. As die verlede vir ons enigiets oor menslikheid geleer het, behoort ons snags wakker te lê oor die land se verlore geslagte. Hoe leef hulle met die herinneringe saam? Kon hulle daarin slaag om iets van hul menswaardigheid te herwin, of het hulle verval in die siklus van geweld wat ons land opnuut teister? Hoe leer iemand weer die taal van medemenslikheid en vertroue in ander aan as ’n oom eers ’n gelaaide pistool in jou opgedruk het?

Indien niks anders nie, is dié boek ’n kragtige metafoor vir ’n hele stelsel wat ten diepste gegrond is op presies die verontmensliking, geweld en uitbuiting wat gruwelik manifesteer in hierdie verskriklike verhaal.

Hulle was die oorlog vir die nuwe dag

Vir Harry Oppenheimer en al sy maats

Vir Rembrandt van Rijn en Alfred Dunhill

En die OK Bazaars

En die hele bloody spul by die SAUK

Julle was die oorlog vir die CIA

Generaal ry rond in sy blink swart kar

Speel skaak met die kinders van ons land

En agter hom is die wêreld nou erg aan die brand

(…)

Goeienag Generaal*

In die baai, net half versteek onder die mis, is en was die eiland nog altyd daar.

* Lirieke uit “Goeienag Generaal” deur Piet Botha op sy album ’n Suitcase vol winter.

  • Prof. Herman Wasserman is hoof van die departement mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Magnus Malan  |  Mark Minnie  |  Dave Allen  |  Chris Steyn  |  John Wiley  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.