Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Goldblatt ’n vreemde, fiere eik van ’n vrou

Niefiksie

Op soek na Saartjie

Dominique Malherbe

TAFELBERG, R320

Laat ek met die deur in Arbeidsgenot val.

Ek kon Dominique Malherbe se speurtog na Sarah Goldblatt, haar oupa Israel se bekende en soms berugte ouer suster, nie neersit nie. Nie vóór ek diepnag met die storie van die Joodse vrou wat C.J. Langenhoven se assistent, driftige literêre eksekuteur en minnares was, klaar was nie.

Agterin bedank dié prokureur-en-skrywer die krimiskrywer Mike Nicol omdat hy die “teks meer gefokus en die storie duideliker” help maak het (bl. 228). Wat juis opval, is hoe bedrewe die onderdele van die verhaal in kort hoofstukkies opeengestapel is; die sluier word luik vir luik op ontdekkings gelig sodat die leser se asem enduit opgehoue bly.

Die boek is tegelyk baie dinge. Enersyds is dit die boekstawing van die folklore in die Goldblatt-familie oor Malherbe se grensverskuiwende groottante (“Langenhoven doesn’t come without Sarah”, o.m. bl. 24) en van die leidrade wat sy uit boeke en briewe opdiep om te probeer uitvis wie haar groottante was.

Sodoende kom iets soos ’n biografie van Sarah uit die verf. Al hang daar nog heelwat vrae, tree Sarah hier ronder as ooit uit die skadu’s.

Die huis in die Kaapse voorstad Mowbray waar die joernalis Willemien Brümmer, Langenhoven se agterkleindogter, byvoorbeeld woon, is ’n klipgooi van Loeloeraai, Sarah se Kaapse tuiste, waar Langenhoven knaend oornag het.

Ook is dit die verhaal van die speurtog self, waarin die skrywer die sentrale karakter is. Hier tel onder die newekarakters Langenhoven se Brümmer-nasate en vriende van Sarah, onder andere die skrywer Elsa Joubert, wat haar van hulp bedien. Ook is daar die gewoonlik versweë bi­bliotekaresses by die Universiteit Stellenbosch se Dokumentesentrum, aan wie Malherbe aanvanklik, waarskynlik onbillik, ’n oormaat hekwagteragtigheid toedig. (Kort nadat die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek in ligte laaie op is, het dié biblioteektonele besondere trefkrag.)

Een van die verteltegnieke wat Malherbe in dié deel aanwend, is die opteken van stukkies (veelseggende?) toeval. Die huis in die Kaapse voorstad Mowbray waar die joernalis Willemien Brümmer, Langenhoven se agterkleindogter, byvoorbeeld woon, is ’n klipgooi van Loeloeraai, Sarah se Kaapse tuiste, waar Langenhoven knaend oornag het.

Derdens is die boek natuurlik ’n reaksie op die hantering van Sarah deur J.C. Kannemeyer, die ontslape reus onder die optekenaars van Afrikaanse skrywerslewens, wat jare van sy eie lewe in die einste Dokumentesentrum geslyt het en wie se swaar Langenhoven: ’n Lewe in 1995 verskyn het. Trouens, waarskynlik een van Malherbe se sterkste dryfvere vir dié skryfbaantjie was om ’n korrektief te bied op sý meesal uiters afwysende skets van Sarah.

Sy eerste vier hoofstukke wy Kannemeyer grootliks aan die verstrengeling van die lewens van Langenhoven en Sarah. Hy soek die ware Langenhoven agter die openbare beeld waaraan, volgens hom, Sarah in die dekades ná sy dood (in 1932) met onbehoorlike ywer gebou het.

Hy noem die landwye vieringe wat Sarah in 1973 van stapel laat gaan het om die eeufees van Langenhoven se geboortedag te herdenk, ’n “supersirkus”. Sy was “waansinnig lief” vir hom en sy had die “obstinate wil” om haarself in die Afrikanervolk in te dwing (’n Lewe, bl. 48).

In Op soek na Saartjie vul Malherbe dus die opgetekende feite van Sarah se lewe aan, korrigeer sekeres en betrag hulle deur ’n meer simpatieke lens as wat voorheen die geval was. Sodoende kry die leser wel ’n beter greep as wat vroeër moontlik was op baie aspekte van haar lewe.

’n Frappante voorbeeld is die hoofstukke wat Malherbe aan Sarah se huisgesin wy – en veral aan haar pa, die Jiddisj-entoesias David Goldblatt. In 1915 het hy sy rug op sy gesin gekeer en na New York uitgewyk om sy droom te verwesenlik om ’n Jiddisj-ensiklopedie uit te gee.

Sy boekstaaf die gerugte dat David sy oudste dogter, Sarah, wat in sy drukkery in Langstraat sy assistent was, gemolesteer het. Dat dít dalk die ware rede vir sy verdwyning was.

In Op soek na Saartjie vul Malherbe dus die opgetekende feite van Sarah se lewe aan, korrigeer sekeres en betrag hulle deur ’n meer simpatieke lens as wat voorheen die geval was.

In dié konteks maak sy van Kannemeyer se foute reg. Sarah se moeder se van was nie Smith nie, maar Goodsmith. Haar pa het uit Pole Londen toe getrek waar hy haar ma ontmoet het; hulle is nie saam uit Pole Londen toe nie (’n Lewe, bl. 21; Op soek, bl. 56).

Ook blyk Kannemeyer te gefouteer het deur te sê dat vóór Sarah in 1912 as Langenhoven se redaksieassistent aangesluit het, sy reeds in Oudtshoorn skoolgegee het (Op soek, bl. 67). Malherbe werp die interessante teorie op dat sy dalk Klein-Karoo toe is nadat haar pa in Kaapstad vir Langenhoven as advokaat of politikus leer ken het, albei synde taalaktiviste.

Maar ten spyte van die feit dat Malherbe duidelik die belang van noukeurige navorsing insien en dit inderdaad meesal toepas (haar voetnote is, alhoewel dalk te weinig, heel gedetailleerd), het ek tog voorbehoude oor aspekte van haar werkswyse.

Soms gee sy Kannemeyer se feitelike uiteensetting verkeerd weer. Oor Langenhoven se dood sê Kannemeyer allermins dat hy “vier dae” tevore na Colesberg en toe Kaapstad toe is (bl. 32; sien ’n Lewe, bl. 3). In voetnoot 5 (bl. 231) sê Malherbe dat die verhaal oor Langenhoven en Sarah wat in ’n wellustige greep gevang is soos deur Guillaume Brümmer aan haar vertel en die een deur Kannemeyer opgeteken (ook via Guillaume, Langenhoven se kleinseun) (’n Lewe, bl. 652-653) “feitlik identies” is.

Hulle verskil merkbaar; Malherbe neem die verskille nie krities in oorweging nie.

Ook kom ’n groot greep van die lewenskets van Sarah se pa direk uit ’n bloginskrywing op die internet. Malherbe versuim om die bronne wat daarvoor gebruik is, te probeer opspoor, verifieer of aanvul deur byvoorbeeld sy dekades lange verblyf in New York na te vors.

Sulke slordighede en ander redigeerfoute is jammer in dié andersins boeiende en selfs opwindende metabiografie.

Al sê Malherbe die feite oor die seun wat Langenhoven en Sarah sou gehad het, is “skraps en onbevestig” (bl. 198), neem sy ’n stelling deur Guillaume dat daar wel ’n seun was én oorlewering in haar familie as grondslag om dié teorie uit te pluis. As die onvoltooide soektog vrugte afwerp, hoop ’n mens daar is ’n verdere uitgawe waarin die skurwe plekke puimsteen kry.

Die lewensverhaal van Sarah Goldblatt – ’n vreemde, fiere eik van ’n vrou – is ’n loep waardeur die verlede skielik skoon anders lyk.

Jean Meiring is ’n regsgeleerde en ’n vryskutresensent van Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.