Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Griet skryf oor die Boereoorlog

Nie regtig nie, maar as sy  het, sou sy sekerlik al die Groot Prys gewen het, skryf Gerda Taljaard-Gilson.

Misverstand deur Marita van der Vyver. Uitgewer: Penguin Random House.
Prys: R250.

Al vir dekades lank is daar ’n liefdesverhouding tussen Afrikaanse skrywers en die “grande dame” van wêreldstede – ­Parys. Dink maar aan skrywers soos ­André P. Brink, Breyten Breytenbach, Bartho Smit en Ingrid Jonker.

Dis ook nie anders met Marita van der Vyver nie – en ook nie met die verbeelde romansier in haar 13de roman, Misverstand, nie.

Sowel Van der Vyver as die neerslagtige, has-been-skrywer Willem Prins neem die leser op ’n sensoriese reis deur Parys se strate en word sodoende gekonfronteer met aftakeling, sterflikheid en ontgogeling.

Vir Willem word dit ’n kopreis na die self wat nie alleen lei tot insig nie, maar ook tot aanvaarding van sy eie “ongeneeslike middelmatigheid” en verganklikheid.

In hierdie opsig herinner Misverstand aan Brink se Die ambassadeur (1963). In albei romans word die ouer, siniese man op ’n “ontdekkingsreis” vergesel deur ’n jonger, vrydenkende vrou na Parys se minder toeristiese dele – Nicolette in Die ambassadeur en Jackie van der Merwe in Misverstand.

Die aweregse Jackie word inderdaad ’n soort Nico­lette-figuur, die volmaakte femme enfant wat haar nie aan reëls en benouende ­tradisies steur nie.

Albei romans maak gebruik van wisselende perspektiewe. Daar is vyf verskillende vertellers in Die ambassadeur, en ses in Misverstand: Willem, sy eksvrou Renée, hulle seun Maurice, Willem se tweede vrou Lana, die dramaturg Zoë, sowel as Willem en Zoë se ­dogter ­Sophia.

Van der Vyver vertel baie suksesvol vanuit ’n man se perspektief. Trouens, uit al bogenoemde karakters is Willem die oortuigendste en mees geskakeerde karakter in die roman.

Soos die ambassadeur verloor hy byna alles – sy kind, sy jeugdigheid, sy Groot Liefde, sy selfvertroue as skrywer. Maar wat hy eindelik vind, is selfbegrip en berusting. Willem Prins is ’n flambojante mislukkeling.

Omdat Willem aanvanklik nie kan ­vrede maak met sy middelmatigheid nie, besluit hy om in Parys selfmoord te pleeg. Dit is egter nie die enigste rede vir sy besoek nie.

Sy hygroman met die veelseggende ­titel ’n Vrou wat wil, wat in Frans vertaal is, word hier bekend gestel. Verder wil hy die vernederende prysuitdeling vir die “Groot Prys” in Suid-Afrika vryspring, asook poog om met sy enigste oorlewende seun herenig te word.

Gevolglik moet hy sy mislukking as skrywer, as eggenoot en veral as vader in die oë kyk. Van die roerendste tonele in die boek is tussen Willem en sy vervreemde seun Maurice.

Vandaar die roman se titel, Misverstand: Dit is nie net ’n verwysing na die naam van Willem se roman wat in aanmerking kom vir die Groot Prys nie, maar het ook betrekking op dekades van misverstand, wanbegrip en wankommunikasie tussen hom en sy seun, sy lewensmaats en die Afrikaanse literêre ­sisteem.

Van der Vyver gebruik laasgenoemde gegewe om deur middel van haar kenmerkende galgehumor kritiek te lewer op die “literêre sirkus”, die sogenaamde “literêre hekwagters”, pryse, die literêre kanon, verwaande skrywers, resensente en uitgewers uit wie ’n skrywer “darem nog ’n behoorlike bord kos” kan kry.

Teen die einde van die roman speel Willem en Jackie ’n raai-raai-speletjie oor watter skrywer die Groot Prys gaan wen, en die leser wat ’n hele aantal werklike skrywers herken deur die leidrade wat dié twee karakters gee, speel en grinnik te heerlik saam.

Boonop bevestig Jackie iets wat die meeste van ons lankal vermoed, naamlik dat alle Afrikaanse skrywers ’n boek oor die Anglo-Boereoorlog moet skryf as hulle ernstig ­opgeneem wil word.

As gevolg van die terreuraanval in Parys, en danksy sy dogter se onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, kry Willem insig in die “noodtoestand in sy gemoed” sodat hy ondanks al die misverstande en katastrofes steeds kan glimlag. Slegs deur kompromisse aan te gaan, kan hy saamleef met sy middelmatigheid as skrywer, as pa en as lewensmaat: “Jy kan nie aan die lewe bly as jy nie kompromitteer nie, Willem Prins.”

Hy beleef Parys, in ooreenstemming met sy eie karakter, vir die eerste keer as “ ’n gewese geliefde wat nie langer haar ouderdom of haar emosies kan wegsteek nie. Bejaard en bedreig en bedroef. So weerloos dat hy nie anders kan as om haar lief te hê nie.”

Ongelukkig is die vrouekarakters in Misverstand nie so genuanseerd nie. Hulle is soos die “kartonkarakters” in Willem se hyg­roman. Renée, Lana en Zoë is almal beeldskoon, supersexy en immer gewillig. Hulle klink dieselfde, dink dieselfde. Hulle is vroue wat wíl. Nie een van hulle kan Willem se sjarme of sy ­formidabele penis weerstaan nie.

Nietemin bly Misverstand ’n vermaak­like leeservaring, veral danksy die genotvolle gastronomiese verwysings en sensuele beskrywings van Parys.

Op ’n dieper vlak noop die roman die leser om ook vrede te maak met sy of haar eie middelmatigheid en verganklikheid, want die lewe is meer as “fifteen minutes of fame”.

Dit gaan oor ’n gelukkige bestaan ­“sonder om ander mense of diere of die planeet op te fok”.

  • Dr. Gerda Taljaard-Gilson is ’n skrywer en akademikus.
Meer oor:  Misverstand  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.