Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Grilboeke is góéd vir jou

Vanuit Saoedi-Arabië probeer De Wet Hugo kinders aan die sidder en lees kry met sy nuwe reeks ‘Grilgrypers’-boeke, het hy in Kaapstad aan Johan van Zyl gesê.

De Wet Hugo: “Al wat ék dus wil doen, is om boeke te skryf wat seuns en meisies ewe veel sal geniet.” Foto: PETER VAN NOORD

Vir ’n kêrel wat nege- tot 12-jarige kinders én hul verbeelding skrik op die lyf ja met woorde, is De Wet Hugo ongehoord goedig – die ene gulhartige teddiebeer.

Sondae tot Donderdae, die amptelike skoolweek in Saoedi-Arabië, werk hy van 07:30 tot 14:30 as laerskoolonderwyser en graadhoof vir jaar vyf (gr. 4 in Suid-Afrika) by die Jeddah Prep and Grammar School, ’n Britse internasionale skool waar die leerlinge meestal uit baie gegoede Pakistanse of Indiese huise kom.

Maar saans en oor naweke sing die 36-jarige De Wet ’n veel grieselriger deuntjie en broei daar allerlei Afrikaanse gruwelgedagtes in sy agterkop uit: visvrou-meermin-gedrogte, mummies wat spinnekoppe braak, bobbejaanvlermuise, wolf-anakondas . . . Dié skepsels van sy verbeelding beland uiteindelik in Grilgrypers, ’n nuwe reeks gril-en-rilboeke uit sy pen wat gemik is op kinders van dieselfde ouderdom as dié vir wie hy klasgee. Die eerste drie boeke in die reeks het in die loop van 2018 verskyn en nog twee volg in 2019.

'n Mens het hierdie simpel idee in jou kop dat ’n kinder- of jeugboek die een of ander ernstige kwessie móét aanraak. Nee wat . . .

De Wet sê ’n kombinasie van faktore het hom na hierdie gewilde genre gelei. Eerstens vergesel hy weekliks die kinders in sy klas na die skoolbiblioteek om leesgoed te kies. Só het hy agtergekom ’n mens hoef nie noodwendig jongelinge te smeek om te lees nie – jy moet eerder seker maak die onderwerp van die boek interesseer hulle.

“Vandag se kinders is so bevoorreg om groot te word in ’n tyd waar hulle kieskeurig kan wees oor wat hulle lees. ’n Mens kry deesdae soveel heerlike boeke oor amper enige ding onder die son,” sê hy.

’n Tweede positiewe teken was die ontdekking dat rillers steeds ’n groot gunsteling onder laerskoolkinders is. Nadat De Wet in 2010 ’n skryfkursus by Marianna Brandt voltooi het, het hy aanvanklik allerhande genres jeugboeke probeer skryf en fantastiese storielyne daarvoor uitgewerk, maar hy kon selde verby die eerste hoofstuk vorder, meestal weens verveling.

“ ’n Mens het hierdie simpel idee in jou kop dat ’n kinder- of jeugboek die een of ander ernstige kwessie móét aanraak. Nee wat, uit dure ondervinding weet ek nou ek moet dié ernstige sake, onbewustelike lesse, simboliek en dieper betekenisse liefs aan ander skrywers oorlaat.

“Dit help ook as jy R.L. Stine se Goosebumps-reeks gelees het en vrede het met die feit dat hy klaar oor basies elke ding en gedrog onder die son ’n storie geskryf het.” (Van die altesame 62 boeke in Stine se oorspronklike Goosebumps-reeks is daar volgens Wikipedia teen 2015 al meer as 350 miljoen eksemplare in 32 tale, ook Afrikaans, verkoop.)

“Al wat ék dus wil doen, is om boeke te skryf wat seuns en meisies ewe veel sal geniet, wat hulle sal vermaak en hoendervleis sal gee, en wat hopelik by hulle ’n groter liefde vir lees sal kweek.”

Die derde faktor moes hy eintlik eerste genoem het, sê De Wet en rol sy oë: Hy is self van jongs af al gaande oor rillers – dit maak nie saak of dit in fliek- of boekvorm is nie. “As skrywer het ek in ieder geval intussen geleer ’n mens benader hierdie soort boeke eintlik soos flieks met kort tonele wat met ’n naelbyt-cliffhanger eindig.

“As tiener was ek mal oor slasher-flieks soos A Nightmare on Elm Street, wat ek so deur my vingers gekyk het, en ek het letterlik enige leesstof verslind – van Susanna M. Lingua en Konsalik tot Elsa Joubert, maar Stephen King was altyd my groot gunsteling. Al lees ek deesdae meestal kinderboeke in verskeie genres, bly King waarskynlik my gunstelingskrywer. Plaaslik geniet ek ook François Bloemhof se rillers en Troula Goosen se raaiselstories.”

As jeugboekskrywer besef De Wet maar alte goed watter voorreg dit is om daagliks direkte toegang te hê tot sy mark. “Mense maak mos graag die ou grappie van onderwysers wat grootmense onder kinders is en ’n kind tussen grootmense . . . Ek stem nie heeltemal saam nie, maar bring inderdaad die meeste ure in my dag saam met nege- en tienjariges deur en verstaan presies hoe hul koppe werk, wat hulle laat lag, wat hul broek laat bewe. Hulle is regtig ’n fantastiese klankbord vir my.”

DE WET, die jongste van vier kinders (en die enigste seun), het op ’n wynplaas tussen Worcester en Villiersdorp grootgeword, maar woon reeds nege jaar in Djedda reg langs die Rooisee en sowat 80 km van Mekka af. Djedda word as een van die liberaalste en mees kosmopolitiese stede in Saoedi-Arabië beskou, en as man ervaar hy nie veel van die beperkings wat veral vroue se lewe aan bande lê nie, al is dinge stadigaan besig om te verander.

“Tot baie onlangs toe het mans al die vroue-onderklere en grimering verkoop,” lag hy, “en anders as in Suid-Afrika moet ’n mens meestal binnenshuis lewe, veral tussen Mei en Oktober, wanneer dit ondraaglik warm is – iewers tussen 40 °C en 48 °C – en die lugreëling dag en nag loop. Gelukkig is die compound waar ek bly, met die skool verbind – dit vat my letterlik drie minute om van my woonstel tot by die klaskamer te kom.”

Tog voel dit in ’n groot mate of hy in ’n borrel lewe, want, anders as in Dubai of Abu Dhabi, is daar in Djedda verbasend min mense wat Engels praat – en dit gaan bra broekskeur om Arabies se “min woorde maar magdom moeilike klanke” onder die knie te kry.

Dis grootliks gerief en geld wat hom daar hou, erken De Wet. Hy verdien immers minstens drie keer meer, boonop belastingvry, as toe hy in 2006 ’n onderwyser was by die Laerskool Ysterplaat in Kaapstad en van 2007 tot 2009 by die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes. Boonop betaal die ryk mense daar onderwysers tot R1 000 per uur om hul kinders ná skool met huiswerk te help.

Die skole is verder op alle Moslem- én Christelike vakansiedae gesluit, sy mediese uitgawes word gedek en hy kry gratis verblyf en ’n jaarlikse retoervlug Suid-Afrika toe.

Dit het hom in staat gestel om vir hom ’n huis te koop op Kleinmond, waar sy ouers, Johan en Ria, in 2006 afgetree het, asook ’n woonstel op Stellenbosch, en tussendeur reis hy die wêreld plat die oomblik as hy die kans kry.

“My dae is vol en besig, maar ek word behoorlik vergoed daarvoor. Dis moeilik om af te sien van só ’n soort bestaan, al mis jy jou mense en jou taal en al is dit seker enige skrywer se droom om voltyds te skryf . . . Dalk kom ek oor ’n jaar of drie terug, wie weet, en dan skryf ek hopelik suiwerder Afrikaans met veel minder anglisismes waarvan my arme redakteur so flink ontslae raak!”

Die eerste drie boeke in die Grilgrypers-reeks – Die vloek van Vreesbaai, Web van die mummie en Kamp vir monsters – met illustrasies deur Shân Fischer is uitgegee deur Human & Rousseau en kos R140 elk. Elke boek het sy eie storie en karakters wat niks met die ander te doen het nie, en dit hoef dus ook nie in ’n spesifieke volgorde gelees te word nie. Human & Rousseau het bevestig die vierde boek in die Grilgrypers-reeks verskyn in Junie 2019 en die vyfde in Augustus.

Die heilsaamheid van ‘hoendervleis’

Die Grimm-broers het destyds die gruwelikste dele in hul sprokies gesensor, maar volgens die kenners maak moderne ouers ’n fout om hul kinders teen die “gruwels” in gril- en rilboeke te beskerm.

Die mensdom is ’n vreemde lot, en nog meer so hier aan die suidpunt van Afrika, waar stygende misdaad ons dwing om ons huis en onmiddellike omgewing so veilig as moontlik te maak, maar dan gaan soek (party van) ons sowaar lees- en kykgoed wat ons broek spreekwoordelik moet laat bewe. Tog sê die slim mense grilboeke is góéd vir jou en jou kinders . . .

1. ’n Mens se kinderjare is ’n vreesaan­jaende tyd. Die Amerikaanse kinderboekskrywer en -illustreerder Maurice Sendak het op ’n keer ’n te vrolike joernalis daaraan herinner dat die meeste mense se kinderjare allermins die ene skoenlappers, stokkielekkers en sonskyn is. Sendak wou met sy boeke jong lesers help om dié “beproewende, pynlike tyd” te oorleef en hulle terselfdertyd herinner dat daar altyd iemand is met wie dit slegter gaan.

2. Vrees is ’n primitiewe, normale en aanvaarbare emosie. Hoe meer ons die dinge ignoreer wat ons bangmaak, hoe vreesaanjaender word dit. Grilboeke kan kinders help om hul vrese te konfronteer en te verwoord eerder as om dit te onderdruk, sê De Wet. En anders as flieks of TV-programme wat jong kykers kan blootstel aan ontstellende beelde ver buite hul begrip, is boeke in dié genre ’n uitlaatklep en veilige “speelruimte” waar lesers volkome beheer het oor hoe grieselrig die dinge is wat hulle hul verbeel.

3. Net soos sprokies van ouds kan grilboeke kinders belangrike lewenslesse leer, soos om nie laatnag rond te loop, naby die water te speel of geselsies met vreemdelinge of ou tannies in lekkergoedhuisies aan te knoop nie.

4. Selfs stories met ’n gruwel- of ongelukkige einde stel uiteindelik jong kinders gerus. Ondanks al die gegril en gegil weet die kinders dit is ’n storie en nie die werklikheid wat met hulle gebeur nie. En as dinge te erg raak, kan hulle die boek toemaak.

5. Bangmaakstories bring kinders byeen. Kinders wat mal is oor R.L. Stine se Goosebumps-reeks of De Wet se Grilgrypers-boeke gesels graag oor wie of wat in die boek hulle die bangste gemaak het. Só word die lesery ’n gedeelde ervaring wat die individuele lesers minder alleen laat voel.

6. Dit kan help om kinders opgewonde of geïnteresseerd te maak in lees.

  • Bronnelys: Hierdie storie is saamgestel uit die onderhoud met De Wet Hugo en die artikels “Why horror is good for you (and even better for your kids”) deur Greg Ruth op muddycolors.com en Lou Morgan se meningstuk “Why do we read scary books?” in The Guardian.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.