Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Grille sonder brieke

Met ‘Die meisie in die maanlig’ en ‘Die groen watergraf’, die jongste titels in die gewilde Grilgrypers- reeks vir 9- tot 12-jariges, wys De Wet Hugo hy het g’n grilbrieke nie, skryf Magdel Vorster.

Grilgrypers 4: Die meisie in die maanlig en Grilgrypers 5: Die groen watergraf deur De Wet Hugo met illustrasies deur Shân Fischer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R150 elk.

De Wet Hugo het met sy eerste drie grilboeke bewys hy kan jong lesers behoorlik bang skryf. G’n wonder nie hy het binne anderhalf jaar ’n welverdiende aanhang onder sowel seuns as meisies verwerf.

Elke boek in die Grilgrypersreeks vertel sy eie storie met sy eie karakters wat niks met die ander boeke te doen het nie (en hoef daarom ook nie in ’n spesifieke volgorde gelees te word nie). Met die twee jongste titels in die reeks bevestig Hugo hy het inderdaad nie grilbrieke nie (en dié resensent hoop daar is van skryfbrieke ook nie sprake nie).

In die vierde boek, Die meisie in die maanlig, gaan die 14-jarige Babette se pa oorsee en moet sy by tannie Theodora op Rustfontein gaan woon. Dié tante se oorlede man, Carel, was ’n lykbesorger wat uit die huis gewerk het, en soos dit hoort in ’n goeie grilstorie, is dié huis op die koop toe naby ’n ou begraafplaas geleë. Nie lank nie, of ’n eeue-oue vloek en wraaklustige onsterflikes en zombies sorg vir die een gruwelike wending op die ander . . .

In die vyfde boek, Die groen watergraf, is alles grilgroen – van die Groenewalds, die weeskind Wian de Wet (13) se nuwe pleegouers, tot die groen slykwater van die swembad waarin die Groenewalds ’n vreetlustige troetelkrokodil, Cornelia, aanhou. Wanneer Cornelia aan Wian voorgestel word as sy nuwe “suster”, en die kinderhuisboelie boonop saam met hom by die Groenewalds intrek, besef hy alles is nie pluis nie – en dít is om die situasie besonder sagkens te stel.

Hugo ken die kuns om sy lesers aan die raai te hou en te laat kopkrap oor karakters se bona fides. Dit is ook die geval met Die meisie in die maanlig. Hoekom sou Babette se Indiese vriendin, Avani, byvoorbeeld nie knoffel of rissies eet nie? En hoekom volg die ou vrou met die swart rok Babette in ’n lykswa? Gawe karakters word as boos ontmasker, maar dit werk ook andersom. Daar is dus ’n vangnet vir die hoofkarakter – én die jong leser.

In Die groen watergraf is die teendeel oënskynlik waar. Die “goeie” karakters is dun gesaai en speel nie regtig ’n rol in die verhaalgebeure nie. Bykans al die karakters is skrikwekkend en Wian as kinderhuiskind moet alleen die mas opkom. Die leser soek amper vergeefs na ’n uitkoms vir hom.

Soos die eerste drie boeke in die Grilgrypersreeks is die jongste aflewerings uitstekend geskryf. Die naelbyteindes sal kreatiewe verbeeldings lank bybly, en moontlik, soos in die uwe se geval, lei tot kroko-dildrome.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.