Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Grobler se band met ’n heilige wat met diere praat
Die bekroonde kunstenaar en boekillustreerder Piet Grobler.

Die illustreerder Piet Grobler gesels oor sy nuwe prenteboek waarvan hy ’n kopie aan die pous geskenk het, sy nuwe lewe in Portugal en die invloed al dan nie van ’n prenteboek met Laetitia Pople.

Waar dit beskermheiliges aangaan, was Franciscus nog altyd die kunstenaar Piet Grobler se gunsteling. Dit is asof daar ’n draad “Francisse” deur sy lewe loop – soveel so dat die tyd reg was om ’n prenteboek oor die heilige wat met diere kon praat te maak.

Grobler, ’n internasionaal bekroonde boekillustreerder, glo die heilige met die flenterjas het met hom begin praat toe hy as student die Italiaanse regisseur Franco Zeffirelli se Brother Sun, Sister Moon gesien het.

“Die eenvoud en selfloosheid waarmee hy volgens oorlewering geleef het, het ’n diep indruk op my jong gemoed – met reeds ’n stewige romantiese en idealistiese streep – gemaak.”

Na bewering kon Franciscus ook met die voëls praat en Grobler het nog altyd ’n groot liefde vir voëls gehad. Ook die nuwe boek Franciscus en die diere is digbevolk met die geveerdes.

My vrou, Griet, en Catherina, ons dogter, het, solank hulle geleef het, ’n baie besonderse liefde vir alle diere gehad. Groot was ons verbasing en verrassing toe die huis wat ons in Engeland gekoop het terwyl ons daar gewoon het volgens die titelakte bekend gestaan het as St Francis House
Piet Grobler op een van sy gereelde wandelinge in Portugal, sy nuwe tuisland.

“My vrou, Griet, en Catherina, ons dogter, het, solank hulle geleef het, ’n baie besonderse liefde vir alle diere gehad. Groot was ons verbasing en verrassing toe die huis wat ons in Engeland gekoop het terwyl ons daar gewoon het volgens die titelakte bekend gestaan het as St Francis House!” Grobler se vrou en tienjarige dogter is in 2012 in ’n motorongeluk dood.

Sedert hy prenteboeke begin maak het in die vroeë 1990’s het hy al gedink hy wil nog eendag ’n boek oor Sint Franciscus maak.

Toe sy Nederlandse uitgewer JC Boele, van Lemniscaat-uitgewery, sê dat hy enige boek kan maak waarvoor hy lus het, het Grobler die kans gegryp.

“Die uitgewer had toe die idee dat ons 1 001 kopieë van die boek aan pous Francis kan skenk om uit te deel vir vlugtelingkinders of ander behoeftiges.” Dit was onlangs in die nuus waar Grobler die boek aan pous Franciscus oorhandig het.

Die omslag van Piet Grobler se prenteboek Franciscus en die diere.

“Die boek het ek opgedra aan Griet en Catherina, my meisies van Sint Francis House; ook aan pous Francis (die gebruik is dat pouse die naam aanneem van ’n heilige van hul keuse) en ook aan Francois Smit, my lewensmaat (self ’n toegewyde diereliefhebber), vir sy rol daarin om weer my lewe vrolik te maak. Jy kan sien dat ek steeds ’n romantikus is, om hierdie draad van Francisse deur my lewe raak te sien!”

Die prenteboek kommunikeer ’n besef van die goeie en dat die wêreld goed is en dat ons vreugde en verdraagsaamheid teenoor mens en dier moet versprei. Die boek hamer nie ’n boodskap oor godsdiens in nie.

“Kinders sal diversiteit en toleransie moet aanleer. Ek het al hoeveel maal gesien hoe die onverdraagsaamheid van ouers in klein kinders neerslag vind. My ma het altyd gesê ‘soos die oude songe, so piepe de jonge’.

Sint Franciscus en sy geliefde reismaat, Esel.

“Die wêreld is teenswoordig totaal gek. Leiers en selfs georganiseerde godsdiens is besig om die mensdom en die heelal in die steek te laat . . . dalk meer nog as tevore. Verandering en ingryping gebeur traag omdat die strukture wat moet help om die wêreld te bestuur, gebrekkig is, of deur hebsug gekelder word.”

Hoewel hy nie dink prenteboeke moet “boodskappe”, of wat hy noem “moraaltjies”, hê nie, sal hy bly wees as die boekie dalk ’n sensitiwiteit vir die weerloosheid en ook die genieting van die natuur kan tuisbring.

“Omdat godsdienstige verskille na eeue steeds uitgebuit word vir politieke oogmerke, wou ek die storie ‘neutraal’ probeer vertel – in soverre dit moontlik is met ’n storie oor ’n Rooms-Katolieke beskermheilige! Hopelik maak die Franciscus-anekdotes ’n indruk sonder ideologiese of religieuse assosiasie. Die basiese beginsel van versorging en deernis in diens van die groter goedheid en geheel, is belangriker as die konstruksies wat mense maak om die heelal en hulle eie plek daarin te verduidelik.”

As ’n mens kyk na die toestand van die planeet en die radikale pas waarmee die natuur uitgewis word – ook dierespesies – dien die boek as ’n oproep om versorging van die natuur. Tog voel Grobler dat ’n mens na strooihalms gryp om te dink ’n prenteboek kan iets groots vermag.

As ’n mens se verwysingsraamwerk besoedelde waterslote en mishandelde honde is . . . of, aan die ander kant, ’n TV-stel vir die kind se kamer of troeteldiere wat aan- of afgeskaf word soos speelgoed . . . voel ek ’n bietjie dat ek arrogant is of na strooihalms gryp om te dink ’n prenteboek kan ’n boodskap versprei dat ons mooi met die natuur moet werk.”

“Franciscus se versorgende omgang met diere kan hopelik inspirerend wees. Ek dink nie die vormende waarde van ’n kind se boekies moet onderskat word nie. Almal wat ek ken, praat met deernis van hulle eerste boekies. Baie kinders het egter nie eens boekies nie en soveel meer kinders as waarvan ons weet, het nie eers eerstehandse kennis van die natuur of diere nie (of word self nie eens versorg nie!). As ’n mens se verwysingsraamwerk besoedelde waterslote en mishandelde honde is . . . of, aan die ander kant, ’n TV-stel vir die kind se kamer of troeteldiere wat aan- of afgeskaf word soos speelgoed . . . voel ek ’n bietjie dat ek arrogant is of na strooihalms gryp om te dink ’n prenteboek kan ’n boodskap versprei dat ons mooi met die natuur moet werk.”

Piet Grobler se geveerdes het elk ’n eie persoonlikheid.

Hy glo die skrif is aan die muur. “In ons leeftyd sien ons die skreiende vernietiging van die aarde. Dan gryp ek maar na die strooihalms.”

Franciscus en die diere illustreer sy groot liefde vir voëls; hy beeld ’n wye verskeidenheid uit en dit is asof elkeen ’n persoonlikheid het.

“Ek was nog altyd lief vir voëls. Die feit dat hulle alles van bo af sien – meer as die mense – het my as ’n klein kind beïndruk. Ek onthou ook met afgryse hoe ek eenmaal op ouderdom nege of so, met ’n vloekskoot (want ek was ’n vrot skut en het nie eens van skyfskiet gehou nie) ’n suikerbekkie met ’n windbuks doodgeskiet het. Ek was vir dae naar van selfverwyt oor ’n mooi lewetjie wat ek beëindig het. Dit het ook al tweemaal gebeur dat ’n voël op my skouer kom sit het terwyl ek tuinwerk gedoen het en talle kere het voëls by ’n venster ingevlieg waar ek gesit het. Die romantikus in my maak natuurlik meer daarvan as toeval!”

Tans werk hy en sy lewensmaat, Francois Smit (’n sielkundige), aan ’n prenteboek oor angs en spanning. “Verstommend – die spanning en druk waaraan kinders blootgestel is.”

Grobler word steeds geïnspireer deur diere en mense se “streke en humor (en hoe eenders mense en diere is!)”. Om in ’n bos of by die see te loop, is vir hom ver beter as enige ander uitstappie. “Op die oomblik bly ons in Portugal naby die see, so ’n uur van Lissabon af en ons geniet dit vreeslik om veilig en vry in die bosse en berge en tussen die plasies hier te loop. Wanneer dit weer winter word hier, vlieg ons soos die swaeltjies agter die son aan Suid-Afrika toe.”

Franciscus en die diere deur Piet Grobler is deur Protea uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.