Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Groen noir in skakerings van euwel bemeester

Ys

Rudie van Rensburg

QUEILLERIE, R260

Misdaadfiksie

Elke Kassie Kasselman-boek ontwikkel ’n duidelike skrywersidentiteit en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir Afrikaans en vir misdaadfiksie as genre, skryf Jonathan Amid.

Rudie van Rensburg Foto: Jaco Marais

Rudie van Rensburg het duidelik geen erg aan voorskriftelike reëls nie. Reeds met sy debuut, Slagyster, het hy gewaag deur sy (nou) geliefde speurder, kapt. Kassie Kasselman, die systrate van die narratief te laat bewandel.

Van Slagyster tot Kamikaze het Kasselman as lesersgunsteling nooit die soort hardgebakte, gefolterde sentrale hoofkarakter geword wat ons in die moderne speurverhaal vind nie. Hierdie besluit – om minder op die speurder self en veel meer op die misdadiger(s) te fokus – het Van Rensburg die nodige ruimte gegun om ’n nuwe, grensverskuiwende soort misdaadroman die lig te laat sien: dinamiese, eksperimentele ­
dossiere in reeksformaat, iewers tussen speurverhaal, avontuur en noir. Snydende sosiopolitieke kommentaar, vervlegte verhaallyne, afwisseling in perspektief en vertelling, eksplisiete fokus op misdadigers se motiverings en aksies, en volgehoue spel met taal is kenmerkend.

Hoewel voorsiening gemaak word vir romanse, Kassie se verskeie hebbelikhede, ’n teater van die absurde en humor wat brand soos droë ys, neem die reeks toenemend ’n veel donkerder, grieselige ondertoon aan soos skakerings van boosheid chirurgies dissekteer word. Ys, die skrywer se sesde misdaadroman, vervolmaak hierdie broeiende aanslag tot in die fynste detail. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer is ek oortuig Van Rensburg se misdaadromans – tegelyk komies sowel as tragies – is die plaaslike Afrikaanse ekwivalent van die FX-misdaadreeks Fargo.

Van Rensburg moet dalk ook geplaas word langs internasionale bondgenote wat neig na die eksperimentele roman noir – soos Roberto Bolano met The Savage Detectives en 2666 en David Peace se Red Riding Quartet. Ys is hoogs relevant wat tematiek betref, maar vorm ook deel van die jongste gety van populêre misdaadromans wat “eko-noir” of “groen noir” heet. Hier word misdaad metafisies beliggaam as vorms van geweld teen die omgewing self as geskende liggaam; om verdagtes, skuldiges en onskuldiges van mekaar te skei raak moeiliker as om ’n blokkiesraaisel in die donker te voltooi.

Enige maaifoedie-resensent wat durf spoilers weggee, sal hulself ’n ysingwekkende toesnouery op die hals haal. Daar is boosdoeners, geregsdienaars en gewone burgers wat paaie kruis op ongewone dog geloofwaardige wyses.

Die kil en berekende skuur teen die passievolle en die banale. Ons beweeg blitsvinnig heen en weer tussen Amerika en die skone Kaap. Kort hoofstukke verwissel van ruimte en perspektief, van toonaard en stemming. Om telkemale binne ’n enkele paragraaf lokbokkems te kan strooi, die leser se bloeddruk op te jaag en jou te laat skaterlag, sit nie in elke skrywer se broek nie.

Waar toeval te prominent was in die opbou en ontknopings van Kopskoot, byvoorbeeld, is dit duidelik nie meer deel van die mondering wat skaaf makeer nie. Ek het in my Kamikaze-resensie kritiek uitgespreek oor die lot van vroue in Van Rensburg se oeuvre. Ys lewer ’n klink­klare respons op hierdie problematiek. Myns insiens staan geweld teen vroue hier sentraal; ’n belangrike hoofkarakter word op ontstellende wyse geskakeer as ’n sterk vrou wat steeds onder geweldige mishandeling gebuk gaan. So word twee ander belangrike vrouekarakters ook die slagoffers van fisieke geweld en manipulasie.

Die grootste skok-oomblik van Ys wentel juis rondom iemand se ware kleure, een wat deurgaans die grense van ons simpatie toets. Met groot risiko kom uiteraard groter beloning.

Van Rensburg, soos met die aanwend van derdepersoonvertelling in Kopskoot en die gebruik van e-posse van Iskariot in Judaskus, vind in Ys ’n sleutel om die leser in te trek by ’n groter gesprek rondom klimaatsverandering, die wêreldwye Groenbeweging, partypolitiek en diplomatieke sameswerings/nasionale veiligheid.

Min sal stry dat hierdie skrywer homself met elke pas verskene roman oortref.

Verraad, gekonkel, hebsug, moord, polities of persoonlik, of albei vervleg – Van Rensburg doen deurgaans moeite om die leser aan die raai te hou oor die ware kleure van sy sleutelspelers. Onvergeetlike karakters – Carl Bester, Victor, Iskariot, Jackal Williams, Die Pion, die lys gaan net aan – verskyn klokslag vanaf Slagyster tot Kamikaze. Lesers sal beslis uiteenlopende menings hê oor die karakters in Ys. Karakters soos Mac­Arthur, Frankie Kriel, Shaheena en Elton Fortuin, Viking en Tinkie Haasbroek laat nie sommer maklik van hul vergeet nie.

Twee van Ys se hoofbooswigte, Hasie en Pastoor, is van eenderse stof­fasie gemaak as een van Chris Karsten se fiktiewe families. Ek sal nie verder uitwei as om te sê dat “Die Drang” ’n paar lesers na hul moeders sal laat verlang nie.

Elke boek in hierdie reeks ontwikkel ’n duidelike skrywersidentiteit in die teks en kondig luidkeels aan: Hier lewe ’n liefde vir taal, vir Afrikaans, ywer en vir die misdaadverhaal as medium. Ys vermag dit om die komplekse eenvoudig te laat lyk; om sowel te instruct as te delight, om sir Philip Sidney se “defense of
poetry” te verwring.

Wat Van Rensburg dalk tans beter as enige ander populêre skrywer plaaslik regkry, is om vir sy lesers ver meer te gee as dít wat hulle verwag. Vermaaklikheid, spanning, intrige en keurige taalgebruik is daar. Maar om male sonder tal ’n magdom nuwe feite en interessanthede te leer sonder dat dit ooit soos leer voel, dít wil gedoen wees.

Min sal stry dat hierdie skrywer homself met elke pas verskene roman oortref. Die spreekwoordelike see-uitsig word net mooier. Dis niks minder as ’n skreiende skande dat Van Rensburg nog nie internasionaal uitgegee en sy romans nie eens plaaslik in Engels vertaal is nie. Dít terwyl debuutkrimi-skrywers reeds vertaal word.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jonathan Amid is ’n vryskut­taalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.