Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Grondwater’ bundel die stropingsproses

Poësie

Grondwater

Marlise Joubert

PROTEA, R160

Met trepidasie begin ek hierdie resensie; gedagtig aan drie gedigte onderskeidelik getitel “resensie 1”, “resensie 2” en “resensie 3”, gedigte waarin die outeur die leser trakteer op verskillende resensies en hoe resensente ’n teks benader.

Daar is die toonstipte luisteraar wat soek vir vreemde dreunings, omgedolwe woorde en gedigte as “maaksels” beskou. Daar is die resensent wat sweem oor die dralende ritme van ’n jong digter en daar is die meegevoerde resensent wat verbyster staan en droefgeestig afskeid neem van die teks. Ek laat dit aan die leser oor om hierdie resensie (en resensent) te takseer.

Grondwater, die titel van die bundel, verwys na die opgegaarde water onder die oppervlakte van die aarde; die skaars en diep water. In “berig in klip” sluit die spreker hierby aan en praat van “genealogiese grondwater” om die diep familieverbintenisse te beskryf. Dit is ter sake, want in hierdie bundel staan die gestorwe moeder sentraal.

Grondwater, die titel van die bundel, verwys na die opgegaarde water onder die oppervlakte van die aarde.

Ook die ander familiefigure word betrek en daar is ’n versugtende herbesoek aan die huis van haar kinderjare. Die skakeling met die ma word reeds geaktiveer met die foto voorin, asook die “in memo­riam: didi joubert”. Ook die drie motto’s berei die leser voor dat dit onder meer handel oor ’n leeftyd vergaar soos water; asook dat ’n dogter sonder haar moeder ’n gebroke vrou is.

In die openingsgedig word die ma met ’n wolvin vergelyk wat geboorte skenk aan die digter, synde die welpie. Die ouers word ook met ’n wolwepaar vergelyk. Tog leer die leser in die slotreëls dat die spreker haar nie as aggressief en wolfagtig bestempel nie, maar eerder ingestel is op woorde en haarself blootstel deur middel van haar skryfwerk.

Saam met die afskeid neem van die moeder, is daar in hierdie bundel ook ’n tipe berustende terugblik op die lewe, ’n bestekopname van lewenservarings as kind, jong meisie, werkende vrou en later ma en ouma. Hiermee saam word ook die ouerwordende liggaam met sy kwale belig. Daar is gedigte oor besoeke aan die kardioloog, asook hoe verskillende mense die dood verbeel.

’n Kunsteoretiese kode loop soos ’n wateraar deur die bundel. Opvallend hoe dikwels daar na woord en woorde verwys word. Daar word ook ingespeel op Joubert se onderskeie bundel- en romantitels wanneer sy in ’n gedig ’n bestekopname maak van haar lewe. Net soos daar na verskillende resensente verwys word, word twee tipes digters ook beskryf.

Vergelyk die volgende reëls: op sy beste is die digter ’n fotograaf / op sy slegste ’n papegaai. Dié gedig sluit dan af met: op sy beste is die fotograaf ’n digter / op sy slegste is die papegaai / ook digter.” Laasgenoemde probeer beïndruk; skryf nie “soos hy gebek is nie”.

Die man sterf en kan nie verder praat nie, maar dan stel die digter hom aan die woord in die vers.

Ook die alledaagse aktualiteit vind neerslag in verskeie gedigte. Vir die digter is Suid-Afrika nie meer ’n land vir kinders nie, want selfs by die sogenaamde freedomkinders is daar ’n ontnugtering. Die aanval op die boer van Uitkyk word vanuit sy perspektief beskryf: van die oomblik toe dit gebeur het, tot hy sterf. Wat dit treffender maak, is die gebruik van die oorledene se vrou se direkte woorde as motto. Die man sterf en kan nie verder praat nie, maar dan stel die digter hom aan die woord in die vers.

Ook die idee van kosgee en brood koop (en toebroodjies maak, soos Antjie Krog in Mede-wete) word nou metafories gesproke, ook ’n politieke handeling.

Teenoor hierdie elegiese ondertoon is daar heelwat verse wat handel oor vreugdes – soos haar kleinkinders, haar liefde vir die woord en skilder en interaksie met geliefdes. So beskou sy een van haar dae saam met haar kleinkind tussen die geel kannas as “een van die bestes”. Aangesien sy in Afrika is en die kleinkinders oorsee, is daar altyd sprake van skeiding, afskeid en vertrek en moet sy staat maak op selfoonfoto’s of -videos.

Grondwater is ’n bundel van die stropingsproses. Dit is byvoorbeeld nie so swoel en wydlopend soos Passies en passasies nie. Maar dis ’n besonderse toevoeging tot Marlise Joubert se oeuvre.

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Grondwater  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.