Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Grootse werke nou in ons taal

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het einde verlede jaar Geoffrey Chaucer se volledige pelgrimsverhale en ’n keur van die Sweedse digter Tomas Tranströmer in Afrikaans uitgegee.

Vir al die Afrikaanse mense wat nou nog nagmerries kry oor Chaucer se Canterbury Tales (en meer spesifiek sy duistere Middelengels), is daar nou hoop en hulp in die vorm van Die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer, John Boje se leesbare, teksgetroue Afrikaanse vertaling, waarmee hy hom as “lewenslange liefdestaak” meer as 60 jaar besig gehou het.

Boje, ’n oudonderwyser by onder meer St. Alban’s College, het etlike grade in verskeie studievelde en verskaf volop voetnote, wat toegevoegde waarde tot die bronteks verleen. Hy is reeds in 1990 deur die Akademie bekroon vir sy boek ’n Keur uit die pelgrimsverhale van Geoffrey Chaucer (1989), die voorganger van sy jongste publikasie.

Marlies Taljard skryf in haar resensie op die webblad Versindaba: “Chaucer se karakters, elk met ’n eie tipies menslike identiteit, elk met sy foute, sy strewes en sy passies, spreek oor ses eeue heen deur hierdie vertaling op so ’n wyse tot ons dat ons as moderne Afrikaanse lesers onsself steeds met hulle kan vereenselwig.” Prys: R300.

Tomas Tranströmer (1931-2015), ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde in 2011, is een van die belangrikste digters wat ná die Tweede Wêreldoorlog in Europa op die toneel gekom het, skryf die digter Charl-Pierre Naudé op die agterplat van Alles keer om: Tomas Tranströmer in Afrikaans, wat deur De Waal Venter uit Sweeds vertaal is.

“In sy gedigte neem die natuur, en die vervloeiing van wakker- en slaaptoestande die sentrale posisie in. Sy werk is tipeerbaar met die woord ‘post- surrealisties’ . . . die gedigte is baie beeldryk en sintuiglik, maar tegelyk oorwoë en deurdink.”

Venter het verlede jaar die Akademie se Vertaalprys ontvang vir Vandag is boordensvol (2019), ’n bundel met sy vertalings van Pablo Neruda se gedigte uit Spaans. Prys: R285.

  • Stuur ’n e-pos na nellie@akademie.co.za of akademie@ akademie.co.za om die boeke te bestel. Die koerierkoste is R80.

Paulet-huis reg vir 2021 se skrywers

    Die Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans nooi alle opkomende en gevestigde skrywers om teen 19 Maart aansoek te doen om die jaarlikse residensieprogram, wat van 28 Junie tot 23 Julie in die Stigting se Paulet-huis op Somerset-Oos, in die Oos-Kaap, aangebied word.

    Skryfwerk in alle genres sal oorweeg word, maar die program is veral gemik op skrywers wat nuwe stories na die Afrikaanse letterkunde bring en leefwêrelde oopskryf wat nog nie voldoende in die letterkunde gehoor is nie.

    Suksesvolle aansoekers kry die geleentheid om vir ’n maand van hul daaglikse verpligtings te ontsnap om heeltyds, en met die nodige dissipline en motivering, aan hul manuskripte te werk.

    Die stigting dek die koste van die skrywers se verblyf, insluitende internettoegang, skoonmaakdienste, drie maaltye per dag en retoerkaartjies na Port Elizabeth en vervoer van en na die lughawe.

    Aansoekers moet in ’n brief aan Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die stigting, verduidelik waarom hulle van die residensie gebruik wil maak. Dit moet vergesel word van ’n opsomming van hul loopbaan as skrywer (gepubliseerde skrywers moet ’n lys van publikasies insluit, terwyl ongepubliseerde skrywers bestaande skeppende skryfwerk – 30 bladsye prosa of tien bladsye poësie – moet verskaf) en ’n projekuiteensetting wat aandui waaraan die skrywer tydens die residensie sal werk.

    • Stuur aansoeke teen 19 Maart na theo@jgf.org.za. Onderhoude met die kortlyskandidate word op 16 April gevoer en die finale groep aansoekers sal in die week van Wêreldboekedag (23 April) aangekondig word. Besoek www.jgf.org.za of www.penafrikaans.org.za vir die volledige besonderhede.
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.