Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Grootste Open Book-fees nóg in Kaap kom in September
Deon Meyer

Boekwurms kan uitsien na die grootste Open Book-fees tot nog toe in Kaapstad.

Dié jaarlikse fees, wat vanjaar die sewende keer aangebied word, duur van 6 tot 10 September.

Besoekers kan uitsien na 140 aanbiedings in verskeie lokale in Kaapstad en omstreke, waarby meer as 100 plaaslike en internasionale skrywers betrokke is. Paneelbesprekings, slypskole, voorlesings, uitvoerings en nog meer is deel van die program.

Die hooflokale is The Book Lounge in Roelandstraat en die Fugard-teater in Distrik Ses asook in die A4Arts-stigting, District Six Homecoming Centre, die sentrale biblioteek, die biblioteek in Elsiesrivier, die Kuyasa-biblioteek en die PH Centre.

Mervyn Sloman, die feesdirekteur, het die publiek wat bygedra het tot die Open Book se Thundafund-veldtog bedank. Danksy dié opbrengs kon die organiseerders só ’n omvattende program saamstel.

Volgens Sloman kan die publiek steeds uitsien na ’n sterk politieke komponent van die fees. Hy skryf die sukses van die fees toe aan die samewerking met vennote soos die organisasie PLAAS – wat saam met Open Book gesprekke aanbied rondom grondvraagstukke en toegang tot grond – asook ’n fokus op stede wat deur African Centre for Cities aangebied gaan word.

Paul Beatty, die wenner van die Man Booker-prys vir sy roman, The Sellout, is uiteraard die trekpleister by die fees. Ander skrywers wat gaan optree, is onder andere die Norweegse skrywer Carl Frode Tiller, bekend om die Encircling-trilogie, die Nigiriese skrywer Chibundu Onuzo (Welcome to Lagos, The Spider King’s Daughter), die Kongolese skrywer Fiston Mwanza Mujila, wat vanjaar die International Literature-prys met Tram 53 gewen het en Ayobami Adebayo (Stay with Me).

Etienne van Heerden

Die misdaadfiksieskrywer Deon Meyer neem op 6 September aan die gesprek “Surviving Youth” deel. Die skrywers Etienne van Heerden en SJ Naudé gesels op 10 September met Irna van Zyl oor die tema “Selfondersoek”.

Onder die nie-fiksieboeke wat op die fees bekend gestel gaan word, is Bonang Matheba se A to B, Pumla Gqola se Reflecting Rogue, Glynnis Breytenbach se Rule of Law, Sizwe Mpofu-Walsh se Democracy and Delusions, Mark Shaw se Hitmen for Hire en Prince Mashele se Fall of the ANC Continues.

Die Nederlandse digters Akwasi (hiphop-kunstenaar), Dean Bowen en Sjaan Flikweert neem aan #cocreatePOETICA deel. Plaaslike digters wat hulle by hulle gaan aansluit, is Koleka Putuma, Toni Stuart, Gabeba Baderoon en Jolyn Phillips. Die poësieprogramme InZync, die Open Book Poetry Slam asook die Lingua Franca Spoken Word Movement word vir poësieliefhebbers aangebied.

’n Jeugprogram word op 9 September in die sentrale biblioteek gehou, op 8 September is daar storievertelsessies in die Tuine en die kinderboekskrywer Alex Wheatle, wenner van die Guardian se kinderfiksieprys, neem aan verskeie aanbiedinge deel. Die gewilde Comics Fest word op 9 en 10 September aangebied. Andy Mason bied vanjaar die Monster Battle Draw Off-kompetisie vir kunstenaars en illustreerders aan.

Meer oor:  Letterkunde  |  Boeke  |  Kaapstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.