Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gru-toer deur die hart van die hoer

Lees dié nuwe boek oor die adderneste in die Suid-Afrikaanse politiek saam met ‘Zuma Exposed’ en Jacques Pauw se blitsverkoper – dit voel kompleet soos ons eie ‘Godfather’-trilogie, skryf Theunis Engelbrecht.

Enemy of the People: How Jacob Zuma Stole South Africa and How the People Fought Back

deur Adriaan Basson en Pieter du Toit. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R260

In The President’s Keepers neem Jacques Pauw ons terug in “die hart van die hoer” soos wat hy destyds gedoen het toe hy en Vrye Weekblad die moordbendes van die apartheidsjare oopgevlek het, skryf die joernalis Mandy Wiener.

Maar Pauw het self verlede week in die Sunday Times erken die inligting in sy boek is net die oortjies van die seekoei. Die hart van die

hoer het duidelik vele kamers, en talle lesers van Pauw se blitsverkoper het laat blyk hulle is uitgehonger om nóg te lees oor die adderneste in die Suid-Afrikaanse politiek.

Nou het die noodlot dit so beskik dat Adriaan Basson en Pieter du Toit se Enemy of the People presies ’n week ná Pauw se boek verskyn het. Al is dit onvermydelik dat Basson en Du Toit in sommige van dieselfde kamers vertoef, skop hulle ook vreesloos die deure van ander vertrekke oop, soos dié van die SAUK en SAL. Om die volle verhaal te lees oor hoe dié twee instellings deur onderskeidelik Hlaudi Motsoeneng en Dudu Myeni oor die afgrond gestoot is, is skokkend, om die minste te sê.

Waar Pauw uitvoerig skryf oor al die slange in die Staatsveiligheidsagentskap, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, tesourie, staatsondernemings en die strafregstelsel, bied Basson en Du Toit se boek meer gekonsentreerde opsommings van al die talle intriges in dié verband. Dit laat dus ruimte om ook hoofstukke te wy aan onderwerpe wat Pauw nie dek nie, soos onder meer die stand van sake in die parlement, die Gupta-

Leaks-onthullings en Bell Pottinger se veldtog.

Dit laat dus ruimte om ook hoofstukke te wy aan onderwerpe wat Pauw nie dek nie, soos onder meer die stand van sake in die parlement, die Gupta-Leaks-onthullings en Bell Pottinger se veldtog.

Dit alles is genoeg, nes die geval is met Pauw se boek, om ’n mens dik die donder in te maak. Dit is ontstellend om in dié twee boeke te lees hoe diep en wyd die tentakels van die Groot Vrot al versprei het, en ’n mens dink ook aan alles wat gedoen kon word met al die miljarde se belastingbetalersgeld wat gesteel, wanbestee, verduister en as omkoopgeld gebruik is.

Gelukkig bied hoofstuk ses in Basson en Du Toit se boek onverwagte komiese verligting. Dit begin waar Jacob Zuma se vierde vrou, Nompumelelo Ntuli-Zuma, by Nkandla weggejaag is omdat daar vermoed is sy was deel van ’n komplot om Zuma te vergiftig en dat sy ’n stomende verhouding met een van haar man se lyfwagte gehad het. In die res van die hoofstuk, wat by tye soos ’n absurde kortverhaal lees, word al die verdere verwikkelinge deeglik nagespoor. Enemy of the People draai ook nie doekies om oor die skinderstories oor die president se vermeende minnaresse (soos Dudu Myeni) nie.

Twee aspekte van Enemy of the People wat baie waardevol is, is dat die skrywers in een van die hoofstukke Pravin Gordhan se uitdaging aanvaar en die kolletjies verbind oor staatskaping, en in ’n ander hoofstuk ’n deeglike oorsig gee van al die belangrikste onthullings wat tot dusver uit die GuptaLeaks gespruit het. Die hele sage rondom staatskaping is baie kompleks en daar is so baie rolspelers, instellings en slange in die gras dat ’n mens soms sukkel om ’n stewige greep op al die inligting te kry. Dit is een van die aspekte wat indrukwekkend is van Basson en Du Toit se boek: Hulle help die leser om sy weg deur hierdie labirint te baan en om die bome deur die bos te sien. Dit verg insig, waaraan die skrywers kennelik nie tekort skiet nie.

Enemy of the People help die leser ook om talle ander kwessies skerper in fokus te kry, soos die krake in die ANC-SAKP-Cosatu-koalisie, die Nkandla-skandaal, die Guptas, die mynbedryf, staatsondernemings – die hele ou sous. Die navorsing wat hulle hieroor gedoen het, laat ’n mens besef watter uiters harde werk dit moet gewees het om hierdie boek te skryf.

Eweneens belangrik is die afdeling “We the People” waarin die “How the People Fought back” van die subtitel bespreek word: die verset in die burgerlike samelewing, nieregeringsorganisasies, grondwet- en menseregte-waghonde en stigtings teen staatskaping en die verval in Suid-Afrika. Dit gee ’n mens ’n mate van hoop te midde van al die troosteloosheid. Ook insiggewend is die laaste hoofstuk, “Death Race to December”, wat handel oor alles wat tot dusver gebeur het in die opbou en aanloop tot die ANC se verkiesingskonferensie oor enkele weke . . . die hoerhuis se kombuis blyk ’n slaghuis te wees van faksiegevegte, moorde, spookkiesers, ’n geknoei en ’n gekonkel. Dis om van naar te word.

Adriaan Basson se boek Zuma Exposed het in 2012 verskyn, kort voor die ANC se Mangaung-konferensie. Dié boek was net so skokkend en openbarend en ’n mens kon toe al nie glo hoe Nommer Een kon wegkom met al sy streke nie. Dit is nou vyf jaar later en alles het vererger. Trouens, ek kan aanbeveel dat Zuma Exposed, The President’s Keepers en Enemy of the People saam gelees moet word, soos ’n trilogie. Noem dit Suid-Afrika se eie Godfather-trilogie, as jy wil. Al drie boeke is onmisbare leesstof.

Een ding staan soos ’n paal bo water: Ondersoekende joernaliste wat al hierdie stinkstories vreesloos oopvlek, is tans die ware helde in ons land, en so ook al die fluitjieblasers wat hul bronne is. ’n Mens moet jou hoed afhaal vir mense soos Pauw, Basson, Du Toit en die ondersoekspanne van amaBhungane, Daily Maverick, Scorpio en News24. Jy kan nie anders as om re­spek vir hulle te hê en die belangrike werk wat hulle doen nie. Hierdie boeke moet gekoop en geléés word – dis die minste wat ons kan doen.

  • Theunis Engelbrecht is ’n joernalis en skrywer.
Meer oor:  Adriaan Basson  |  Pieter Du Toit  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.