Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gruwelkoning wil kinders se monsterstories lees

Jong storievertellers met ’n gawe vir spook- en ander monsterstories het nou die kans om een van die voorste skrywers ter wêreld se aandag te trek.

R.L. Stine, die Amerikaanse kinderboek- en gruwelkoning bekend om sy Goosebumps-reeks, het hande gevat met die organisasie ChildFund en die #MyScariestMonster-skryfkompetisie begin.

Stine sê die kompetisie se doel is om jong skrywers tussen ses en 18 jaar oud se aandag van die pandemie af te lei en hul verbeelding te prikkel in ’n tyd wat vir jonk en oud “vreesaanjaend” is.

“Kinders is ongelukkig nie immuun teen spanning, angs en vrees nie,” skryf hy in ’n brief op childfund.org aan jong skrywers se ouers.

“Hulle probeer die vreemde nuwe wêreld van virtuele opvoeding navigeer en om die verlies aan normaliteit weens die pandemie te aanvaar.

“Maar ek weet dat kinders ook van die veerkragtigste mense op die planeet is. Hulle kan by nuwe maniere van leer, groei en bestaan aanpas.”

Stine skryf dit help as kinders volwassenes in hul lewe het wat hulle in dié troebel tyd kan gerusstel en vir hulle kreatiewe platforms kan skep waarop hulle hul vrese kan uitspreek.

“Dit is tog waarmee mense nog altyd regtig goed was – om deur hul verbeelding sin te maak van moeilike tye.

“Die #MyScariestMonster-skryfkompetisie is juis om dié rede geskep.”

‘Welcome to Dead House’ was die eerste van 67 boeke in die oorspronklike ‘Goosebumps’-gruwelreeks. Volgens die tydskrif ‘Time’ is meer as 400 miljoen eksemplare in die reeks al verkoop.

Die uitdaging wat Stine aan kinders in die kompetisie stel, is om ’n monsterstorie van nie langer nie as vier bladsye voor 14 Oktober vanjaar vir hom te stuur. Inskrywings kan fiktief of niefiksie wees en kan ook van illustrasies vergesel word, hoewel dít nie ’n vereiste is nie. Slegs een inskrywing per kind word toegelaat.

Inskrywings moet op https://form.jotform.com/202535125543044 ingedien word en moet benewens die storie en ’n foto van die skrywer, ook van ’n ouer of voog se handtekening vergesel word.

Stine gaan die inskrywings saam met onder andere Mick Foley, kinderboekskrywer en voormalige stoeier, en Anne Lynam Goddard, president en uitvoerende hoof van ChildFund, beoordeel.

Wenners sal in drie ouderdomsgroepe aangekondig word: ses tot nege jaar oud, tien tot 14 jaar oud, en 15 tot 18 jaar oud.

Weninskrywings sal op ChildFund se webwerf en sosialemediaplatforms gepubliseer word. Wenners sal ook ’n boek wat deur Stine onderteken is, ontvang.

Besoek https://www.childfund.org/my-scariest-monster/ vir nog inligting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.