Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gunter pak ‘white liberals’ in 3de bundel
Helena Gunter Foto: Michael Hammond

Haar nuwe boek was al by die drukkers toe die skrywer Helena Gunter haar karakter herken het in die boek Sitting Pretty, wat prof. Christi van der Westhuizen oor wit Afrikaanse vroue in ’n post-apartheid Suid-Afrika geskryf het.

Die neo-nasionalistiese Fransina is een van die karakters in haar derde kortverhaalbundel, Tweespoor, waarin ’n spesifieke verlede in ’n jukstaposisie met ’n stormagtige hede lê.

Volgens Gunter het Fransina beslis die kenmerke wat dit wat Van der Westhuizen met haar navorsing skets.

“Ons generasie is so trots op ons white liberal-skap, bely gereeld dat ons nie rassisties is nie,” sê Gunter, “maar dit wat soms in onbedagte oomblikke uitpeul ...”

“Die plaasopset en die verlede is die verwysingsraamwerk wat ek gebruik wanneer ek skryf. Ek skryf nie oor die romantiese konnotasie wat ’n mens aan die plaas het nie. Hoewel dit ook bestaan het, is dit nie wat ek belig nie.”

In die eerste afdeling van Tweespoor, uitgegee deur Protea, skryf sy oor Tilla, ’n Afrikaanse meisie uit ’n geslote plattelandse gemeenskap. Sy woon op ’n plaas, maar sy en haar ouers word inkommers genoem. Boonop moet sy die attensies van ’n skoolmaat se pa, haar onvergenoegde ma en spanning in haar ouers se huwelik trotseer.

In die tweede afdeling is Fransina aan die woord. Sy is ’n wit, middeljarige vrou wat glo sy is uitgelewer en besluit om te vertrek.

Tweespoor, Helena Gunter se derde kortverhaalbundel.

Sy is bang vir die reaksies op dié bundel, maar sy hoop lesers sal iets van hulself erken, sê dié skrywer wat die Eugène Marais-prys vir haar debuutbundel, Op ’n plaas in Afrika, ontvang het. Haar vorige bundel, Met koffer en kaart, is met gemengde reaksies ontvang.

“Ek weet dat ek nie polities-korrek skryf nie, dat daar lesers kan wees wat my werk as polariserend kan lees. Ek glo egter rassisme is ’n werklikheid en ’n groter probleem as wat ons wil erken. Daarom glo ek ook ’n fiktiewe bekentenis oor die rasseproblematiek van Suid-Afrika kan die kwessie uitlig. Dalk maak dit ’n wond oop wat gedurig met pleisters toegeplak word. Dalk hou Fransina ’n spieël op wat die leser sal konfronteer en lewer dit ’n klein bydrae sodat ons mettertyd minder ontploffings met rassistiese ondertone sal hê.”

Haar meestersgraad in Kreatiewe Skryfwerk onder prof. Marlene van Niekerk was vir haar ’n wekroep.

“Dié akademiese inset het my belangstelling in die kompleksiteit van ons samelewing geprikkel, my die benadering laat volg wat ek nie kan/wil prysgee nie.”

Die kortverhaal kom vir Gunter natuurlik. Sy probeer om gelaagde verhale te skryf, ’n kenmerk wat Louis Esterhuizen raakgelees het in Tweespoor.

“Besonder elegant is die delikate manier waarop die skrywer suggestie hanteer,” was sy kommentaar op die verhale. Sy is nog op soek na daardie leser wat aan haar vertel dat hy of sy twee verhale gelyk in een kortverhaal van haar lees.

Gunter skryf oor haar belangstellingsveld.

“Ek fokus op ’n sekere problematiek – as ek skryf, probeer ek verstaan. Ek is deeglik bewus daarvan dat ek ook, soos alle mense, ly aan die sisteme van my tyd. Maar ek voel dis my plig om onder die vel van die karakter en die onderwerp in te klim, ’n situasie so eerlik moontlik te fiksionaliseer. Dan is dit terapeuties, hopelik vir die leser ook.”

* Tweespoor kos R180.

Meer oor:  Protea  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.