Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Haar ‘hel’ oorsee tot ‘Lugkasteel’ verwerk
Annelie Botes, wat vandag haar nuwe boek, Lugkasteel, in Port Elizabeth bekend stel. Foto: Odette Parfitt

Dit het Annelie Botes byna tien jaar geneem om die “louter hel” wat sy as die goewernante van adellike kinders in Engeland beleef het, neer te pen.

Vanaand stel die gewilde skrywer dié verhaal van angs en bonatuurlike verskynsels in die boek Lugkasteel in Port Elizabeth bekend.

Sy het geworstel voordat sy die verhaal kon vertel, erken Botes.

“Ek het in 2006 as goewernante begin werk en toe ek terugkom, het ek eers ander stories soos Sabbatsreis en Thula-thula gehad om te skryf,” sê sy.

“Boonop het dit ’n paar jaar geduur voordat ek my dagboeke weer kon oopmaak en dié tyd kon herleef. Ek was bang mense dink my verbeelding het uiteindelik met my weggehardloop.”

Dít omdat Lugkasteel ook eintlik ’n spookverhaal is.

“Ek het nooit ’n wit gedaante gesien nie en ek glo nie eens
in spoke nie, maar in die herehuis waar ek gewoon het, het
ek aanvaar dat bonatuurlike magte bestaan wat ek nie kan verklaar nie.”

Sy vertel van die klavier wat in die nag musiek gemaak het sonder dat iemand dit bespeel en die hysbak wat sonder passasiers op en af beweeg het.

“Dié ervarings het my hare laat rys. Boonop was die vier­ ­orrelpypies wat ek moes oppas, onmoontlike kinders. Ek was die 36ste goewernante in sewe jaar wat hulle moes versorg.

“Ek is ook nie toegelaat om dieselfde wasmasjien of eetgerei as die adellikes te gebruik nie en het nooit kos gekry nie. Soms moes ek galbitter nartjieskille uit die vullisblik of mieliegruis uit die hoenderhokke eet.”

Die boek gaan nie nét oor die nagmerries wat sy beleef het nie. “In ’n mate gaan dit ook oor die lugkastele wat ons elkeen bou, hoewel sommige inmekaartuimel en ons nie krag het om dit te herbou nie. Die kastele wat vir my verkrummel het, het te doen met die dinge waaroor ek spyt is: dat ek my voete in
’n casino gesit het, nie op laerskool reeds begin geld spaar het nie en die tye dat ek stilgebly het toe ek eerder teen ’n onreg
moes praat.”

Waaroor sy nie spyt is nie, is die outobiografiese styl waarvoor haar boeke bekend is.

“Dit is ’n verligting om te weet die media kan geen geheim van my uitkrap waaroor ek nog nie geskryf het nie. Al my donker geheime is klaar vertel en niemand het my verwerp nie.”

Gelukkig skinder die mense van Port Elizabeth nie soos in klein dorpies nie.

“Ek is ’n plattelander in murg en been, maar dit het gevoel of die Here my in die hemel neergesit het toe ons Baai toe verhuis het. Hier is ek net een van die tannies van die dorp. Ek wil nooit ’n celebrity wees nie, want ek wil net wees wie ek is. Daarom staan my deur altyd oop vir lesers; as ek verwag hulle moet hul beursies oopmaak en my boeke koop, kan ek mos vir hulle darem ’n koppie tee aanbied.”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.