Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Halley’ ís ’n tydbom (maar ook toondoof)

Dit was bitter ongemaklik, amper pynlik, om in Hannes Barnard se debuutroman, ‘Halley se komeet’, te lees hoe onvergeeflik grof ons destyds gedink en gepraat het, skryf Deborah Steinmair.

Halley se komeet deur Hannes Barnard. Uitgewer: Wenkbrou. Prys: R320.

Wenkbrou se vierde brood is uit die oond: Halley se komeet word geloof as ’n gebeurtenis, spektakelagtig en seldsaam, net soos die hemelliggaam van die titel wat maar elke 75 jaar gesig of agterstewe wys. Izak de Vries skryf in sy blog op LitNet ons mag nou saam met die res van die wêreld sê: “We did it.” Dat boeke soos hierdie ons laat onthou hoe vulgêr daardie tyd was. Lest we forget. Ook dat dit ’n tydbom is. Daar is hoë verwagtings geskep vir hierdie grootwordstorie, maar ek is nie oortuig nie . . .

Halley vertel die verhaal van drie 16-jariges op Dannhauser, ’n plattelandse dorpie naby Dundee in Natal. Dit is die jaar 1986, die dae van haai apartheid, agt jaar voor die eerste demokratiese verkiesing. Dis asof die wit mense, met dié dat dit stadigaan duidelik word hul beleid is nie volhoubaar nie, méér eerder as minder rigied raak – hul leefstyl word immers bedreig. Halley se komeet is op pad.

Ek was dáár. Net soos die hooffokalisator, die wit seun Pete de Lange, was ek ook oningelig, onbekeer en clueless. Dit is ná al die jare bitter ongemaklik om te lees hoe onvergeeflik grof ons destyds gedink en gepraat het. Dis amper pynlik om in daardie seun se kop te vertoef. ’n Kop waarin mense sonder uitsondering geklassifiseer word op grond van hul velkleur. Haatspraak soos die k-woord en woorde wat Bettina Wyngaard so weergaloos gedefinieer het as “toondoof” is aan die orde van die dag. Pete leef geïsoleerd, soos ons maar daardie tyd geleef het. Deur sy oë neem ons gedurig die vreemdheid van sy nuwe maat waar. In meer genadige oomblikke dink hy aan hom as “die swarte”. Die leser word vanuit Pete se kop gedurig daaraan herinner dat Petrus donker is, met dik lippe en breë skouers, en dat hy “in sy swart kroesies krap”.

Die onverwagte vriendskappe en romanse is ’n korrektief, maar die toondoof betekenaars knars soos gruis in die rys, skok soos foelie teen die outydse metaalstopsels in tande.

Ons praat hier van ’n sensitiewe wit seun. Wat moet vandag se kinders, ongebreinspoel en met liefde en onskuld in hul hart, daarvan maak?

Die drie tieners – een swart, een ’n sogenaamde Indiër en een wit – word toevallig saamgegooi toe twee (afsonderlik) drawwende seuns ’n amper-verkragting aanskou en daarin slaag om die meisie, Sarita, te red. Die wreedaardigheid van die insident, posttraumatiese stres en die teisterende Rudie (in lewende lywe) bly egter by hulle spook. Hulle soek mekaar al hoe meer op om daaroor te praat. Pete is ’n buitestander hoewel hy lank, aantreklik, atleties en intelligent is.

Die rassehaat werk tog as ’n beletsel en struikelblok wat spanning verleen aan die ontluikende liefdesverhaal – die De Langes en Naidoos is die Montagues en Capulets se moses. Die onverwagte vriendskappe en romanse is ’n korrektief, maar die toondoof betekenaars knars soos gruis in die rys, skok soos foelie teen die outydse metaalstopsels in tande.

Ek wil nie veel verklap oor die storielyn nie. Daar is ’n definitiewe spanningslyn, maar myns insiens ook veel wat eerder in die snippermandjie moes beland. Die roman gaan vir my mank aan subtiliteit. Tieners is immers ultra-subtiel en wentel in blitsige bipolariteit tussen renostervel en papierdun vel, tussen zombie-agtige onbewustheid en radar wat vibreer soos stemvurke. Hulle is veral sensitief vir toon. Die skrywer makeer myns insiens intuïsie en die redakteur se potlood kon ook skerper gewees het.

Ongekorrigeerde vingerfoute koggel hier en daar en die taalgebruik lol soms. Daar is wilde vergelykings wat my nie oortuig nie, soos hormone wat soos “springmielies te kere gaan in sy binneste” of “sy maag wip soos ’n klimtol op en af” – laasgenoemde klink vir my eerder na diarree. Die 16-jarige Pete gebruik woorde soos “ieder geval” en “uiteraard”. Wanneer hy verlief raak, lees ons: “Pete se gesig verander in klip, sy verstand smelt in ’n slymerige gemors en sy hart hamer vuishoue teen sy borsbeen . . . maar hy bly staan, besig om te verdrink in die slymerige gemors.”

Ek was nooit ’n tienerseun nie en het nooit seuns gebaar of grootgemaak nie, maar as dit werklik is hoe ’n seun verliefdheid ervaar, voel die manlike geslag vir my meer as ooit na ’n spesie uit die buitenste ruim. Is daar sowaar nie een dralende vioolklank of dartelende skoenlapper by die proses betrokke nie?

Die einde, die dawerende klimaks, irriteer my. Ek kan niks verklap nie, maar vir my het dit uitgerafel tot ’n hoogs voorspelbare moraliteitspel.

Ten minste is Halley se komeet nie een van daardie boeke waar die hoofkarakter en sy gesin toevallig so skaars soos vierblaarklawers was nie – totaal kleurblind. Ja, só was daardie dae en ’n mens kan dit nie ontken nie. Maar watter nut het dit vandag om in die toksiese moeras rond te ploeter en hoe kwetsend moet dit nie vir ’n groot sektor van die jeug wees nie? Of wil histories benadeeldes, soos die nasate van Jodeslagting-slagoffers, bly lees oor die onregte van die verlede?

Of is die boek in werklikheid gemik op mense in hul laat 40’s wat in daardie jare tieners was?

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
Meer oor:  Rassisme  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.