Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hallo, effens bevlekte held

André Krüger het hom nog nooit aan genregrense gesteur nie en sy vernuftige vierde roman, ‘Geen engel nie’, met elemente van ’n bildungs- en spannings- roman, is geen uitsondering nie, skryf Jonathan Amid.

Geen engel nie deur André Krüger. Uitgewer: Penguin. Prys: R270.

“Hierdie boek is nie die waarheid nie, maar die waarheid is in hierdie boek,” lui die credo van André Krüger se vierde roman, Geen engel nie.

Tog kan jy maar vergeet van bespiegel oor die skrywer se eie kinderdae en militêre opleiding. Las af die soektog na “waarhede” en outobiografiese onthullings. Speurder speel? Moenie eens daaraan dink nie – my waarheid is nie jou waarheid nie, en omgekeerd. Wie sal oorbly om arbiter te speel oor die waarheid – klein of groot, belangrik of onbenullig, skokkend of vertroostend – wanneer die verhaal op sy einde is, en die deurgaans naamlose verteller ons verlaat?

Stories is die waarheid gelieg – en dít maak van Krüger ’n donners goeie leuenaar. Soos wyle Philip Kerr maak Krüger se verhale korte mette van genregrense. Leersaam, altyd leersaam, is sy skrywes, en tog voel dit nooit soos ’n gepreek nie. Wyshede word versamel en gedeel met diegene wat mooi aandag skenk. Wees bedag op die kinkel in die kabel en daai geniepsige double bluff; spits jou ore en maak oop jou oë vir die een frase wat alles sal verander; staal jou saam met sy helde teen die ysige winde van verraad. Steek ’n kers aan vir die liefdesgloed te midde van oorlog, onstabiliteit en onmenslik moeilike keuses. Breek ’n lansie vir dié wat hulle drome oorleef.

Al is Geen engel nie inderdaad nie die waarheid nie, skuil daar verskeie waarhede in die roman: Die waarheid van ’n skrywer wat in sy vierde boek sy vakmanskap en vernuftigheid vloeiend ten toon stel; die waarheid van ’n verhaal met universele reikwydte in die bildungsromantradisie waar daar ook bygelieg en -gelap en gefokus word op sekere elemente ten koste van ander; die waarheid van ’n verstoteling-verteller wat die leser tot aan die einde in sy vertroue neem, maar nooit voorberei op die verstommende afdraaie op pad na sy eindbestemming nie.

Die leser word intiem bekend met die vyandelikheid van familie en vriende, maar ook die onbaatsugtige liefde, vernaam broederliefde, van vreemdelinge.

Om uit ’n lewe van misdadigheid te ontsnap is allermins kinderspeletjies. Hoe het die anonieme verteller die pad tot ’n lewe van misdadigheid, rykdom en berugtheid gestap? Hoe behandel sy eie mense en sy gemeenskap hom? Waar vind hy toevlug?

Die leser word intiem bekend met die vyandelikheid van familie en vriende, maar ook die onbaatsugtige liefde, vernaam broederliefde, van vreemdelinge. Met ’n pa wat vinnig die hasepad kies en ’n ma wat gereeld nuwe minnaars in hul huis verwelkom, moet die hoofkarakter boonop die vuisreën van sy brutale nefie Markus trotseer. Slegs sy niggie Maggie is ’n soort ware noord vir hom, iemand wat die beste van die mensdom vergestalt en hom ’n sweem hoop gee te midde van die redelike hoeveelheid moeilikheid van sy daaglikse bestaan.

Skool is ’n oorlogsone, ’n soort gevangenis vol reëls, regulasies en struktuur. Die mense wat saak maak, sien niks rooskleurigs in die jong man se toekoms nie. Hy’s nie heeltemal Springsteen se Tom Joad nie, en geen engel nie. Maar pinball speel kan hy pinball speel.

Alles is tog ’n soort magspel as jy klein is en die ander kinders lag vir jou tweedehandse skoolklere wat te groot is. Die arkadespeletjie met flitsende liggies en silwer balletjies wat presies so en so moet val, gly of stilstaan om die hoogste telling te bereik, word ’n metafoor vir die navigasie van die lewe. Die moeilikheid kom wanneer die sak met muntstukke begin leeg raak, die spel nie wil vlot nie, en dit ál vinniger voor jou donker raak. Dan is die engele min en duiwels volop.

Van kardinale belang hier is die “enkelvertelling” (die verhaal wat vertel word, oënskynlik ononderbroke, sonder merkbare inkleding met oordrewe ywer of sentiment), die chronologiese benadering, en die verwagte sirkelgang wat uiteindelik voltooi word wanneer “begin” en “einde” ontmoet. Die leser weet die ouer (wyser?) verteller moet ’n laaste opdrag voltooi – een laaste moord – maar word nuuskierig gehou deurdat die identiteit van die slagoffer deurgaans verbloem bly.

Die verteller kom ’n hele paar aardige karakters teë en ’n deel van die intrige is om te probeer raai wie deur die loop van die rewolwer gekonfronteer gaan word.

Deur deurgaans slegs een verteller aan die woord te stel, sonder enige afwisseling of ander hoof- of newekarakters wat ons ervaring van sy storie inkleur met hul eie insigte, loop die skrywer die gevaar om eentonig te raak en die leser te verveel en vervreem. ’n Mens dink aan die gesegde “it’s a marathon, not a sprint” en bly bewus van jou eie leesproses en hoe jy op nuwe inligting reageer soos jy lees.

Geen engel nie is wel ’n uitdagende leeservaring, maar op ’n gans ander manier as byvoorbeeld Etienne van Heerden se Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019). Hier gaan dit minder oor die lengte van die boek en die hoeveelheid verhaallyne waarmee jy moet tred hou, en meer oor die feit dat jy moet fokus op die subtiele aanpassings, inkledings, toegewings en kopknikke wat die skrywer deur sy hoofkarakter-verteller maak.

Lesers sal dalk verbaas wees om te verneem die roman se grootste skok-oomblikke – dít wat jou die hardste gooi – is allermins kru taal, pornografiese seks, insidente van dwelmgebruik of woeste geweld, maar ’n handjievol tonele, onthullings en onverwagse bande tussen sleutelfigure wat jou verpletter. Lesers wat wyle Harry Kalmer se In ’n land sonder voëls (2019) gelees het en soos ek ontroer en ontredder was deur die briewe in daardie roman, sal moontlik ’n klein goue draad tussen Voëls en Engel raaklees. Is die geheue ooit werklik betroubaar, en onthou ons soos ons dinge wil onthou, of soos dit regtig was? Waar lê die “waarheid” en waar is dit onbetroubaar?

Die omslag van Geen engel nie verklap veel. Te midde van skakerings van grys – uiters noir! – sien ons die buitelyne van die engel. ’n Beskermengel, dalk die Bybelse Gabriël? Krüger doen iets met sy held wat die leser baie tevrede laat. Sonde; reg en verkeerd; die goeie en die bose; die idee van die sondeval; die verlies van onskuld; hunkering, begeerte en verlies; verwonding en trauma; uitverkorenes en ellendelinge. Dis ’n roman met ’n ruwe soort Bybelse krag en gestroopte taalgebruik, vol onheil en bedreigings, maar ook teer en menslik.

Deur een lewe slaafs te volg en weer te gee moet die skrywer distilleer. Krüger vang verskillende tydgrepe en insidente en die uitwerking van hierdie verwikkelinge op die individu vas. Hoe word ’n mens gevorm? Hoe swaar weeg ouers, familie, vriende en liefdesverhoudings op wie ons uiteindelik is of wil wees? Met die bildungsroman vang die skrywer die wisselwerking tussen die individu en die samelewing, die self en die ander vas.

Geen engel nie bied vele insigte in die oorsprong van kriminaliteit en die idee van misdade wat buitegeregtelik strek en geliefdes betrek. Dit ondersoek hoe iemand bra gewoon en sonder buitengewone talente of intellek ’n misdadige onderwêreld op sy knieë kon dwing.

By die Woordfees
Die dramaturg Tertius Kapp, wat die “ware misdaadverhaal” van The President’s Keepers vir TV verwerk het, vra André Krüger Maandag uit oor Geen engel nie. Die gesprek by Upstage@Drostdy begin om 15:30. Kaartjies kos R65 by Computicket of R85 by die deur.

Ook iets omtrent die skrywer as romantikus skemer in al Krüger se boeke deur. Dié ongewone liefdesverhaal – spesifiek die domein van die intieme en seksuele verhoudings as ’n laaste soort toevlug – roep Kundera se The Unbearable Lightness of Being in herinnering.

Met ’n sagte plek vir mense in die skadu’s, en ’n klipharde beskouing van ’n Suid-Afrika wat was, laat Geen engel nie die leser met vrae oor die lot van die wit man in Suid-Afrika, wit armoede en die keersy van wit bevoorregting, en die rol van die wit, manlike skrywer en die stories wat hy vir ons (kan) vertel.

Dante se Il Paradiso, Christopher Marlowe se Dr. Faustus, Milton se Paradise Lost, Rushdie se The Satanic Verses, William Hjortsberg se Falling Angel, André Krüger se Geen engel nie. As kroniek van die onvolmaakte mens, die effens bevlekte held, kry dié kruising tussen bildungs- en spanningsroman blitsvinnig vlerke. Praat ek mense- engele-tale, maar dis nie uit liefde nie . . .

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.