Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hans Fransen se dood laat ’n leemte

“Die dood van dr. Hans Fransen is ’n groot verlies vir Suid-Afrika. Hy was ’n onvervangbare kundige en boekstawer van die Suid-Afrikaanse argitektuur, kultuurgeskiedenis en die kunste.”

So het Dan Sleigh, historikus, skrywer en jare lange vriend van Fransen gesê nadat dit vandeesweek bekend geword het dat Fransen op 86 jaar in ’n versorgingsoord in Pinelands oorlede is.

Hans Fransen

Die enigste dogter, Kari Longman, van hierdie wêreldbekende museum-argivaris, skrywer, lektor en oud-redaksielid van Die Burger, sê haar pa het Maandag omstreeks 16:25 met aandete aan ’n toebroodjie gestik, en kort daarna gesterf. Hy was sorgbehoewend ná ’n onsuksesvolle breukoperasie in April 2015. Sy vrou, Marie Aneen (van Zyl), word by dieselfde oord versorg. Die egpaar was 54 jaar lank getroud.

Fransen is op 14 Junie 1931 in Amsterdam, Nederland, gebore. Hoewel hy sedert 1955 in Suid-Afrika gebly het, het hy nooit sy Nederlandse uitspraak en Dietse patriotisme prysgegee nie. Hy het argitektuur studeer voordat hy na Pretoria gekom en as landmeter by die departement van waterwese gewerk het. In 1968 het hy ’n BA-graad in kunsgeskiedenis aan Unisa behaal, en in 1989 ’n doktorsgraad in kunsgeskiedenis aan die Universiteit van Natal met ’n verhandeling: “Styl-tydperke in Kaapse argitektuur en versiering”.

In 1959 was hy ’n pers- en kulturele assistent en tolk by die Franse ambassade in Pretoria en in Kaapstad. Hy was ook drie jaar proefleser en redaksionele assistent by Die Burger in Keeromstraat, Kaapstad.

Sy lang loopbaan in die museumwêreld het in 1962 begin toe hy aangestel is as waarnemende kurator van die Michaelis-kunsversameling in die Burgerwaghuis op Groentemarkplein, Kaapstad. Van 1990 tot 2001 was hy ononderbroke direkteur van hierdie versameling. Van 1965 tot 1969 was hy agtereenvolgens kurator van die Stellenbosch Museum, van die Groot Constantia Museum (1970- 1974), en assistentdirekteur van die SA Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad (1975- 1980).

Fransen se grootste nalatenskap is ongetwyfeld die monumentale boekeskat uit sy pen.

Van 1981 was hy nege jaar lank senior lektor in kunsgeskiedenis aan die destydse Universiteit van Natal in Pietermaritzburg, voordat hy in 1990 na Kaapstad teruggekeer het om sy kuratorsloopbaan by die Michaelis-versameling te voltooi. Ná sy aftrede in 2001 was hy onder meer adviseur én aktivis vir die bewaring van die Kaapse argitektuur en die kunste. Hy was nou betrokke by die Boerneef-kunsversameling in Welgemeend op die terrein van die Hoërskool Jan van Riebeeck, en het meegewerk aan die restourasie van Tulbagh se historiese Kerkstraat. Ook was hy bevriend met die kunsafslaer wyle Stephan Welz en het hom dikwels van advies oor kunswerke op veiling bedien.

Fransen se grootste nalatenskap is ongetwyfeld die monumentale boekeskat uit sy pen. Die meeste hiervan word deur akademici en beroepslui as standaardhandleidings vir die volksboukuns en die kunste van Suid-Afrika beskou. Die veertien werke, waarvan etlike mettertyd bygewerk en heruitgegee is, is:

The Old House of the Cape - saam met Mary Alexander Cook (1965)

Architectural Beauty of the Old Cape as seen by Arthur Elliott (1969)

Gids vir die Museums van Suider-Afrika / Guide to the Museums of Southern Africa (1969)

The Cape Chair (1971)

Groot Constantia (1972)

Ontdek Stellenbosch - saam met die fotograaf Christo Botha (1979)

Old Buildings of the Cape (1980)

Drie Eeue Kuns in Suid-Afrika (1981)

Three Centuries of South African Art (1982)

A Cape Camera (1994)

A Guide to the Old Buildings of the Cape (2004)

Old Towns and Villages of the Cape (2006)

Erik Laubscher - ? biografie (2009)

Cape Baroque and the Contribution of Anton Anreith (2015)

Fransen was ’n knap fotograaf wat die meeste van die foto’s vir sy gesaghebbende boeke self geneem het. Hy het meer as 5 000 km per fiets afgelê om sy foto-opnames te doen.

Fransen was lid van verskeie beroepsorganisasies, soos die SA Association of Art, die Stigting Simon van der Stel, die Volksboukundige Vereniging van Suid-Afrika, die SA Vereniging van Kultuurhistorici, die SA Museumvereniging, en die Orde van den Prince (afdeling Kaap de Goede Hoop).

Onder die toekennings wat hy vir sy gehaltewerk ontvang het, is die Stigting Simon van der Stel se goue medalje (1984); die Cape Times Centenary -toekenning vir bewaring (1993); ridderskap van die Nederlandse Orde van Orange-Nassau (2001); ? ere-doktorsgraad van die Stellenbosch Universiteit (2008)en die ere-medalje van die Stigting VOC (2016). By dieselfde plegtigheid is nog ’n voorvegter vir bewaring van die argitektuur, Marie-Lou Roux, wat vroeër vanjaar oorlede is, ook met die VOC se medalje en ere-lidmaatskap vereer.

Fransen was ’n knap fotograaf wat die meeste van die foto’s vir sy gesaghebbende boeke self geneem het. Hy het meer as 5 000 km per fiets afgelê om sy foto-opnames te doen. As fiksheidsgeesdriftige het hy as atleet 45 marathons afgelê - waarvan ses in die Comrades-marathon, en as kranige fietsryer het hy aan 21 Argus-fietstoere in die Skiereiland deelgeneem.

’n Roudiens word op 15 Desember om 11:00 by die Huis der Nederlanden (Sasnev) aan Centraal Plein in Pinelands gehou.

*Van Bart kan bereik word by kultuurkroniek@gmail.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.