Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hardegat verse vol dinamiet en onrus

Daar is ’n sterker fokus op die vaderfiguur in Ronelda Kamfer se vierde bundel, maar sy keer ook met woede terug na die psigiese ‘misdaadtoneel’: die bestaan van die bruin mens en die ellendes wat dit inhou, skryf Joan Hambidge.

Ronelda S. Kamfer Foto: Nathan Trantraal

Chinatown deur Ronelda S. Kamfer. Uitgewer: Kwela. Prys: R200.

Chinatown is die vierde digbundel van die bekroonde digter Ronelda S. Kamfer, wat in 2009 die Eugène Maraisprys gekry het vir haar debuut, Noudat slapende honde (2008). Dit word opgevolg met grond/Santekraam (2011) en Hammie (2016). Haar gedigte is reeds in Nederlands en Italiaans vertaal en ’n keur van haar werk het ook in Frans verskyn.

Chinatown aktiveer Roman Polanski se briljante gelyknamige fliek van 1974 wat bloedskande en geweld ondersoek, met Jack Nicholson, Faye Dunaway en John Huston in die hoofrolle. Polanski self vertolk ’n kameerol. ’n Neus word oopgevlek in hierdie dramatiese rolprent oor waterbedrog en moord met die bekende woorde “Forget it, Jake. It’s Chinatown . . .”

Die titel aktiveer dus ’n donker ondergrond. Kamfer doen met hierdie gegewe wat Quentin Tarantino doen met Polanski en Sharon Tate in Once Upon a Time in Hollywood (2019). Bekende gegewens is net die stellasie waarteen eie ervarings en interpretasies geplaas word.

Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede.

Kamfer ondersoek die bestaan van die bruin mens en al die ellendes wat dit inhou. Haar debuut bevat uitsonderlike hou-in-die-maag-gedigte soos “ ’n gewone blou Maandagoggend” waar pyn beleef word, terwyl die moeder se weerlose, uitsiglose bestaan in Hammie onder die loep geneem is met sterk ironiese verse oor die verskille tussen ’n wit en bruin kind se bestaan.

In die jongste bundel vind ’n mens ’n sterker fokus op die vaderfiguur, soos in “Chinatown daddy” (bl. 11) waarvan ’n strofe ook op die agterplat verskyn:

my pa is soos ’n Roman Polanski

omring met ou mans wat jong bloed ruik

draai ek om en vra et tu Dad?

sy favourite plek om na toe te gaan is Chinatown

want hy relate met die fake wealth die shiny kak

wat jou oë brand en die reuk van uselessness

Kamfer se gedigte sluit sterk aan by die parlando-tradisie. Dit is hardegat verse waarin sy sonder skroom haar argwaan jeens wit mense bely. Die praattaal en Kaaps is opvallend nes die gebruik van die vuige woord. Soos in haar debuut staan sy waar sy staan. Die jongste bundel is vol gelaaide ironieë, soos “my poems is nie confessions nie” (bl. 50) waarin sy duidelik te kenne gee sy is krities oor Sylvia Plath se lotgevalle:

ek voel fokkol vir ’n wit vrou wat mooi gedigte

geskryf het in 1960s America

(Terloops: Plath was, soos Kamfer, vasgevang in ’n vaderkompleks. Hierom haar voortydige selfdood, maar dis skitterende verse wat vele vrouedigters die loef afsteek – ook Kamfer, vir die rekord.)

Sy skryf verder haar “literêre heroes wen nie Generaal Hertzog-pryse nie” (bl. 50), maar sy bedank wel vir Antjie Krog in haar nawoord. Haar ouma, lees ons, het haar geleer om “sorry te vra; nie sorry te sê nie” (bl. 57).

Miskien wil sy juis nie hê die spreker in die gedig moet net aan haar gelyk gestel word nie, of het die wrewel te make met die feit dat sy bekroon en besing word deur wit mense, soos Annemarié van Niekerk, of dat sy ’n wit uitgewershuis se uitvoerproduk is wat aan feeste in die Nederland deelneem? Of wil sy hiermee ’n standpunt inneem dat sy steeds soos ’n Bart Nel nog altyd sy sal bly?

Kreatiwiteit word gevoed deur paradokse, dié weet ons. Hierom moet die leser (onwillig) die kritiese kanttekeninge wegskuif en fokus op die gedigte, wat góéd is en verpak met dinamiet en onrus, soos op bl. 28:

ek soek nie ’n plek langs die tafel nie

ek soek nie ’n plek

langs ’n women’s enfranchisement act table wat

in 1930 geset is vir white women only nie

hou julle tafel

ons maak vuur buitekant

Die gewone Kamfer-aanslag is hier: woede, woede en nog meer woede; verwysings na ander digters en ook mob-flieks nou; die durende pyn van die neerdrukkende jeug; haat teenoor wit mense; die kompromislose aanslag oor afwesige vaders . . . kyk watter boeke word weggesmyt.

Die verse ondersoek die inbeweeg in die ongeneeslike wond. Hier is ’n hand vol goeie verse, maar die gevaar van herhaling van dieselfde temas begin nou opval. Maar terselfdertyd ontgin die meeste digters dieselfde kwessies en keer terug na die psigiese scene of the crime.

Wanneer Kamfer nie haar anger uitstal nie, maar werklike pyn weergee, tref dit, soos op bl. 26:

terrorist attack

in ’n hotelkamer in Istanbul

gooi ’n man my op

die vloer

druk my gesig in die mat

en verkrag my

buite op Taksim

gaan ’n bom af

ek bel my ma

en vertel haar net

van die een aanval

die een wat sy op CNN

kan volg

Enkele dinge voor die uitgewer se deur: Dostoyefsky moet lees Dostojefski en die verkeerde gebruik van “wie” in plaas van “wat” op bl. 45 (wie = genitief).

’n Mens word bedruk deur die ellende van die bestaan wat verbeeld word. Selfmoord, verkragting en haar kind wat geleer word van die ABC van white supremacy.

safe word

soms kyk ek

in die spieël

dan sien ek myself

daar waar ek vir dood

agtergelaat is

(bl. 34)

Hierdie bundel sal myns insiens veral aanklank vind by Ronelda S. Kamfer-bewonderaars en die Nederlandse applouskomitee.

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad, waar sy Afrikaans en kreatiewe skryfwerk doseer.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.