Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hare-boek te kort geknip

Niefiksie

The Big South African Hair Book

Janine Jellars

KWELA, R208

Daai gevoel wat ’n mens kry as jy opgewonde met ’n bladsy wat jy uit ’n tydskrif geskeur het, afsit haarkapper toe . . . En die haarkapper sê die saak is reg, ek sny vir jou daai styl.

Jy hou jou oë afgeslaan, want jy wil nie die verrassing bederf nie. Die haarkapper sê die woorde waarvoor jy die afgelope uur sit en wag het. Jy slaan jou oë op na die spieël, gereed om jou eie voete onder jou uit te slaan. Dan slaan jy maar jou oë verder op, want waar sal jou hare-hulp nou vandaan kom?

Dit is ’n bietjie van ’n lang aanloop, maar dis die gevoel wat The Big South African Hair Book by jou laat.

Moenie verkeerd verstaan nie: Net soos die model/akteur/glanspersoonlikheid se foto in die tydskrif belofte ingehou het vir jou nuwe haarstyl, maar dit toe nie heeltemal so uitgewerk het nie, so voel dit wanneer ’n mens deur die boek lees.

Dit is ’n boek met baie persoonlike stories, van die skrywer Janine Jellars tot die magdom van mense met wie sy onderhoude gevoer het. Hulle vertel die stories van hoe hul hare-reis verloop het, meestal van die pyn van chemikalieë om dit reguit en “aanvaarbaar” te maak tot die “big chop”, waar hulle besluit genoeg is genoeg.

Dit is verhale van wonderlike ontwaking dat hulle nie langer gedefinieer sal word deur wat ander dink hoe hul hare moet lyk nie, maar eerder dit waarmee hulle gemaklik en goed voel.

Probleem is, die uitleg van die boek maak dit ontsettend moeilik om te lees.

Dit is stories waarby elke liewe mens wat al ooit die draad van hul hare ’n ding of twee probeer wys het, aanklank gaan vind. Probleem is, die uitleg van die boek maak dit ontsettend moeilik om te lees, want jy weet nie mooi waar een storie begin, die ander eindig, waar dit die skrywer is wat praat of waar een van die bydraers die woord voer nie.

Die onderhoude met entrepreneurs oor hoe hulle suksesvolle ondernemings gebou het met haarprodukte vir diegene wat die natuurlike roete wil volg, is eweneens oppervlakkig, en meestal voel die stories of dit net halfpad vertel is. Ná die eerste paar stories neem die irritasie oor, met die leeservaring wat so plat val soos ’n koek in die huishoudkundeklas.

Inderwaarheid voel – en lees – die boek soos ’n skoolhandboek. Dis totaal en al uit pas met die stories wat breëbors en trots kon gestaan het. Dit is ook jammer dat daar nie ’n enkele foto in die boek of op die omslag is van die mense wat in die boek praat nie . . .

As al die elemente reg hanteer is, sou hierdie boek goud werd gewees het om mense te laat verstaan hoe bruin en swart vroue deur hul hare kommunikeer.

Ronelle Simmons is ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.