Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Harry Potter-skrywer reik gratis kinderboek uit

Aanhangers van J.K. Rowling, die skrywer van die Harry Potter-reeks, se dag is gemaak toe sy onverwags op haar webwerf aankondig sy het weer haar hand aan ’n kinderboek gewaag.

J.K. Rowling gaan haar nuwe kinderboek, ‘The Ickabog’, gratis aanlyn uitreik. Foto: jkrowling.com

Dit het die kroon gespan toe Rowling (54) boonop Donderdag in ’n skrywe op www.jkrowling.com bevestig dat die nuwe boek The Ickabog heet én dat sy dit gratis aanlyn gaan uitreik aan jonk en oud wat tydens die Covid-19-pandemie vermaak broodnodig het.

Rowling se plan is om elke weekdag tussen 26 Mei en 10 Julie “een of twee of drie” hoofstukke van die boek op www.ickabog.com te publiseer, en die hele boek later vanjaar in November as ’n gedrukte boek, e-boek en oudioboek uit te reik.

“Sodra The Ickabog uitgereik is, gee ek my woord dat al my outeurstantième aan groepe geskenk sal word wat deur die pandemie geraak is,” skryf sy.

Rowling sê sy het The Ickabog eintlik tien jaar gelede al geskryf en dat haar aanvanklike oogmerk was om dit ná die laaste Harry Potter-boek, Harry Potter and the Deathly Hallows, uit te gee.

“Ná die laaste Harry Potter-boek (in 2007) wou ek egter ’n blaaskans neem – wat eindelik sowat vyf jaar geduur het,” skryf sy.

“In daardie tyd het ek The Casual Vacancy en Robert Galbraith (haar skuilnaam) The Cuckoo’s Calling geskryf. Nadat ek daaroor geaarsel het – en my arme agent The Ickabog as handelsnaam geregistreer het – het ek egter besluit om ’n rukkie nie weer kinderboeke uit te gee nie.”

J.K. Rowling Foto: Getty Images

Hoewel sy The Ickabog saans vir haar twee jongste (van drie) kinders gelees het, het sy eindelik besluit om die manuskrip in haar solder weg te bêre. Toe die Covid-19-pandemie uitbreek, het sy gedink dit is ’n goeie tyd om die manuskrip letterlik af te stof en gratis aan veral haar jongste lesers wêreldwyd beskikbaar te stel.

Volgens The Guardian is The Ickabog ’n feëverhaal, wat Rowling op haar webwerf skryf en oor “die waarheid en magsmisbruik handel”.

“Ek het die idee vir die boek al meer as tien jaar gelede gehad, so dit is nie veronderstel om gelees te word as ’n reaksie op iets wat nou in die wêreld gebeur nie. Die temas is tydloos en is van toepassing op enige era en enige land.”

Sy sê kinders tussen sewe en nege jaar oud sal dit op hul eie kan lees.

  • Al agt Harry Potter-rolprente kan op Apple iTunes of Google Play Movies gehuur of gekoop word.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Koronavirus  |  Harry Potter  |  Covid-19-Pandemie  |  J.K. Rowling  |  Boeke  |  Flieks  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.