Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hasie se fluweelwoorde bekoor nou in Afrikaans

Die wêreld se kinders word al langer as ’n eeu bekoor deur Margery Williams se kinderboek The Velveteen Rabbit. Dit is nou in Afrikaans beskikbaar as Die hasie van fluweel, vertaal en verwerk deur Linda Rode. Laetitia Pople het meer by haar uitgevind.

Die omslag van die Afrikaanse vertaling en verwerking van die klassieke kinderboek The Velveteen Rabbit, Die hasie van fluweel, is pas deur Human & Rousseau uitgegee.

Die verhaal van ’n fluweelhasie wat wonder of hy ooit “rêrigwaar” gaan word, of dan vir altyd in iemand se herinneringe gekoester gaan word, is in 1922 gepubliseer en sedertdien is dit verskeie kere herdruk.

Die wyse verhaal het ook internasionaal verskeie gedaantes beleef van hervertellings in alles van dramaproduksies, en klei-animasie tot ’n dansvoorstelling wat einde vanjaar in San Francisco opgevoer gaan word.

The Velveteen Rabbit is al jare lank ’n gunsteling op Linda Rode, ’n storieverteller van formaat, se boekrak. Sy is bekend om haar bekroonde samestellings van verwerkte stories en sprokies vir kinders soos onder meer Goue lint, my storie begint (1985), Stories vir die vaak (1992), In die Nimmer-Immer-Bosen In die land van Pamperlang (2014).

Die blywende bekoring van die storie lê vir Rode in die “vermoë daarvan om veranderende tye, modes met boeke en vlietende kinderbelangstelling te oorbrug, met die tydloosheid van sy kern”.

Linda Rode lees voor aan Ingrid, Klara en Elizabeth Filter.Foto: Brenda Veldtman

“Wat jy wáárlik liefhet, mens of dier of speelding, is ’n hawe waarheen jy altyd weer terugkeer en wat dierbaarder word hoe ouer die geliefde mens of ding word en hoe langer daardie verhouding strek.”

Hierdie gedagte is ewe van toepassing op kinders as op volwassenes. Daarom is een van die opdragte voor in die boek: “Vir alle kinders met ’n gunstelingspeelding – en vir grootmense met lang geliefde vriende.”

Dit is natuurlik altyd volwassenes wat die besluite neem om The Velveteen Rabbit in veelvuldige ander gedaantes te laat herleef, sê Rode.

“Die feit dat dit nou al byna tien dekades steeds met sukses herleef en dat die boek onder meer die IRA/CBC Children’s Choice Award ontvang het en die onderwerp van filosofiese essays deur volwassenes is, onderstreep die ongebonde en universele bekoring daarvan.”

Sy het die boek eers as grootmens leer ken.

“Ek is nou nog spyt dat ek nie as kind al die hobbelperd se wyse leringe teëgekom het nie. Daarom is ek dubbeld bly dat H&R gesorg het dat ’n Afrikaanse vertaling met Theodore Key se waarlik evokatiewe, speelse en tegelyk innige illustrasies eindelik ook in die ry van soveel ander vertalings kan staan”.

Die seuntjie en die fluweelhasie was onafskeidbaar.
Die hobbelperd wat die hasie touwys oor die lewe en liefde maak, soos geïllustreer deur Theodore Key.

Die grootste boodskap van die boek lê in die woorde van ’n hobbelperd.

“Williams gebruik die hobbelperd, ’n speelding wat al deurgeskaaf en verslete is omdat ’n kind hom eenmaal so innig liefgehad het, om die hasie van fluweel (wat maar kamma-fluweel was!) te leer dat jy slegs Rêrigwaar kan word – iets wat alle speelgoed se grootste ideaal is – mits ’n kind jou baie liefkry.”

Op die vraag wat hierdie begeerlike toestand van Rêrigwaar nou eintlik beteken, verduidelik die wyse hobbelperd: “RÊRIGWAAR is nie hoe jy gemáák is nie. Dis iets wat met jou gebéúr. As ’n kind jou lank genoeg liefhet, nie net om met jou te speel nie, maar as hy REGTIG lief is vir jou, dán word jy Rêrigwaar.”

En toe die hasie huiwerig vra: “Is dit . . . seer?” antwoord die hobbelperd, getrou aan die lewe en omdat hy altyd die waarheid gepraat het: “Partykeer, ja.”

Haar gunstelingdeel in die boek is die toneel waar die hobbelperd die hasie by die groot lewe inlyf.

“Die kinderleser of -luisteraar kry hier op blote storievlak wyse woorde van ’n ou speelding wat hopelik vir altyd deel van die kind se onbewuste belewing van dinge soos vriendskap en liefde en wedersydse waardering gaan wees,” sê Rode.

“Jy is nie sommer skielik Rêrigwaar nie,” sê die hobbelperd vir die hasie.

“Jy wórd dit. En dit neem lank.”

En dan volg die speelse, maar treffende fragment wat by alle ouderdomme sal aanklank vind: “Gewoonlik teen die tyd dat jy Rêrigwaar is, is die meeste van jou hare al af-geliefie. Jou oë val uit en jou skarniere raak uitgeslyt en jy lyk sommer afgeleef en toiingrig. Maar al hierdie dinge maak nie saak nie, want as jy eers Rêrigwaar is, kan jy nie lelik wees nie – behalwe vir iemand wat nie verstaan nie.”

Rode is nou in haar 80’s en is al meer as vyf dekades besig om stories van hier en ver na Suid-Afrikaanse kinders te bring. Sy glo dit is steeds baie belangrik in die digitale era om vir kinders stories voor te lees.

Geen skerm of geblikte stem kan die warmte en beskutting van ’n menslike stem saam met die nabyheid van ’n ander menselyf ewenaar wanneer dit gaan om die wegvoer na anderse avonture of fantasiewêrelde nie. Voorlees vir kinders bied die voorleser ook daardie seldsame kans om te gesels oor aspekte van die teks – sonder om gedwonge toepassings te maak of “lesse” daaruit voor te hou.
Linda Rode

“Geen skerm of geblikte stem kan die warmte en beskutting van ’n menslike stem saam met die nabyheid van ’n ander menselyf ewenaar wanneer dit gaan om die wegvoer na anderse avonture of fantasiewêrelde nie. Voorlees vir kinders bied die voorleser ook daardie seldsame kans om te gesels oor aspekte van die teks – sonder om gedwonge toepassings te maak of “lesse” daaruit voor te hou."

Soms is die volwasse teenwoordigheid werklik nodig om ’n brug te skep.

“Daar is byvoorbeeld ’n kritieke tydstip in die hasie van fluweel se storie waar so ’n brug van pas kan wees. Die hobbelperd het die hasie nie verniet gewaarsku dat om Rêrigwaar te word ook soms seer kan wees nie. Maar dankie tog! – daar is nog die towerfee van die kinderkamer wat die heel, heel laaste, gelukkige sê het!”

Sy glo dat kinders steeds blootgestel moet word aan die klassieke werke en sodoende word daar ’n brug tussen die hede en verlede gebou, die nou en die magiese.

“Om die oudste stories van volkere te lees, die mites, sprokies, fabels, legendes, byvoorbeeld, en klassieke stories soos Die klein prinsie, Alice in Wonderland, Die wonderlike Towenaar van Oz en talle ander, is om ’n brug te bou tussen die hedendaagse lewe wat in so ’n groot mate gerekenariseer is en ’n nou reeds magiese tyd toe fantasie en waardes en sentimente skakerings gehad het waarvan die hedendaagse kind steeds behoort kennis te neem,” sê Rode.

“Gister se rykdom is tog altyd deel van die hede en selfs die toekoms. Vir kinders om sulke anderse milieus in hul moedertaal te kan beleef, is soos om die vreemde onder vertroude begeleiding te verken. Die Afrikaanse teks is ook ligweg aangepas om daardie skeutjie vertroudheid en gerusstelling te bewerk.”

Meer oor:  Kinderboeke  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.