Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Haynes-addernes kielie die leeu se knaters

Die waarhede, halwe waarhede en skinderstories in die radiojoernalis Izak du Plessis se boek oor die gevreesde bendebaas Ralph Haynes vertel ’n boeiende storie, wat as inspirasie kan dien vir ’n naelbyt-spanningsroman of -fliek, skryf Theunis Engelbrecht.

Ralph Haynes

Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand; deur Izak du Plessis. Uitgewer: Penguin. Prys: R250.

Ralph Haynes het op 21 Januarie 2011 spoorloos verdwyn. Party mense glo hy is vermoor en sy lyk in ’n mynskag afgegooi; ander sê hulle het hom onlangs nog in Randfontein en Magaliesburg gewaar.

Dan is daar ook dié wat beweer in ’n poging om weg te kom van die polisie, het Haynes sy eie dood versin, na Ciprus gevlug en ’n bedrogspoor van R200 miljoen agter hom gelaat. Hy was ten tyde van sy verdwyning blykbaar betrokke by ’n groot goudtransaksie in Middelburg, maar iets het lelik skeefgeloop.

Die sage rondom Haynes was een van die laaste stories waaraan die ondersoekende joernalis Jacques Pauw voor sy uittrede gewerk het. Gelukkig het Izak du Plessis die drade weer opgetel, die saak verder ondersoek en ’n boek geskryf wat ’n leeservaring soos min is. Du Plessis is nie bang om die leeu se knaters te kielie en knyp met sy onthullings nie en hy was skynbaar ook nie skrikkerig om hom in die addernes van die onderwêreld te begewe om onderhoude en navorsing te doen nie.

Hy vertel onder meer hoe Mike Bolhuis geëis het om eers die manuskrip van Ralph Haynes: Godfather van die Wes-Rand te lees voordat die boek gepubliseer word en hoe hy vir dié private ondersoeker gesê het hy kan gaan doppies blaas.

Du Plessis het reeds in die laaste hoofstuk van sy vorige topverkoper, Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters (2017), oor Haynes geskryf. Voordat ’n mens wegtrek met Godfather van die Wes-Rand, is dit ’n goeie idee om weer dié hoofstuk te lees om jou te vergewis van die agtergrond en die belangrikste rolspelers – daar is ’n hele klomp van hulle en die verhoudings en vriendskapsbande tussen die lot kan by tye kompleks wees.

Op 21 was Haynes lid van ’n bende wat ’n veiligheidswag met ’n aanvalsgeweer doodgeskiet het. Hulle is skuldig bevind aan moord en roof en ter dood veroordeel, maar op appèl is die vonnis versag en ná presidensiële kwytskelding is hulle in 1990 vrygelaat.

Daarna het Haynes betrokke geraak by nog ’n bende, maar later besluit om misdaad te los en ’n boksafrigter te word. Dit het egter net twee jaar gehou. Soos Du Plessis dit stel in Boereverneukers: “Sy hunkering na hope geld, vinnige karre en blonde vroue was egter onblusbaar.”

Terug in die onderwêreld het Haynes onder meer as skuldinvorderaar baie vrees ingeboesem. Van sy gunsteling-dreigemente was “Ek sal jou kop afkap en jou bloed drink” en “Wil jy jou kind se kop in jou posbus kry?”

In die voorwoord sê Du Plessis sy nuwe boek maak nie daarop aanspraak om die saak van Haynes se verdwyning op te los of nuwe antwoorde te gee nie – hy vertel bloot die storie van Haynes se verdwyning.

Voorts skryf hy heel interessant oor die talle probleme daaraan verbonde om ’n boek soos dié te skryf: Talle mense was uit vrees vir hul veiligheid te bang om te praat; ander wou anoniem bly. Nog ’n probleem is die uiteenlopende stories wat die onderskeie rolspelers vertel en wat mekaar weerspreek of bloot op ’n geskinder neerkom. Party rolspelers – Haynes se eksvrou, vriende, oudkollegas, polisiebeamptes wat sy bedrywighede ondersoek het, sakelui, Afrikaanse sangers – het mekaar ook onderling gehaat. Hoe weet jy wie en wat om te glo?

Du Plessis het sy instink en intuïsie gevolg. Dit is egter gou (en deurgaans) duidelik hier is een van daardie sake, soos die Gert van Rooyen-saak, waarvoor daar nooit klinkklare antwoorde sal wees nie, tensy Haynes uit die bloute sy opwagting maak, wat onwaarskynlik is. Daarvoor is die waarheid – en selfs halwe waarhede – inderdaad vreemder as fiksie, soos hierdie boek bewys.

Dit is ’n interessante, uiters boeiende verhaal wat hier vertel word. (Trouens, ek het soms gedink met dié gegewe sal iemand soos Chris Karsten ’n roman kan skryf wat lesers uitasem sal laat.)

Du Plessis neem onder meer Haynes se kinderjare in oënskou, en wat ’n mens hier lees, laat jou besef sy latere pad was eintlik onafwendbaar. Hy en sy 16 broers en susters was spoorwegkinders wat baie arm grootgeword het. Du Plessis bespreek ook Haynes se bende en die maniere waarop hulle bedrog en ander misdaad gepleeg het uitvoerig.

In die inhoudsopgawe gewaar ’n mens ook belowende hoofstuktitels na die einde toe, soos “Die Godfather se blonde prikkelpop”, “Die Godfather se minnesanger” en “Die man wat die Godfather laaste gesien het”. En in letterlik elke hoofstuk is daar opsienbarende inligting.

Haynes het uiteindelik so ryk geword dat hy ’n luukse villa in Chancliff Ridge, Krugersdorp, gekoop het. Dié plek het gou begin bekend staan as ’n paradys van seks en dwelms waar uitspattige partytjies deur bekendes soos onder andere Joost en Amor van der Westhuizen en Steve Hofmeyr bygewoon is.

In Du Plessis se boek gesels Hofmeyr openhartig oor sy vriendskap met Haynes. En oor Joost sê hy die volgende: “Ek het ’n reël gehad om nie in dieselfde mate by die Ralph Haynese van die lewe betrokke te raak as wat Joost dit gedoen het nie. Ek het nie vir hom goed gevra nie, ek het nie vir hom gevra om mense te gaan moer nie, hoewel daar baie is wat ek wil laat moer. Maar dis nie hoe ek my dinge doen nie.” Daar word ook gesê Joost het glo miljoene rande by Haynes geleen.

Een van die heerlikste staaltjies in die boek is dié oor ’n sluipmoordaanslag op Theuns Jordaan wat net betyds gefnuik is.

Trouens, die boek wemel van voorvalle wat ’n mens ongelukkig nie met ’n ander woord as die clichématige “ongelooflik” kan beskryf nie. Dit is nie net lekker stof vir ’n roman nie, maar ook ’n naelbyt-aksiefliek.

Du Plessis het ook met polisiebeamptes en speurders gepraat wat betrokke was by die ondersoeke na Haynes. Nóg een van die skokonthullings is dat vername polisielede en Haynes kop in een mus was: Hulle het hom beskerm en gehelp om dossiere te laat verdwyn en derduisende rand in ruil daarvoor gekry. (Nie dat een van hulle gevang is en verantwoording gedoen het vir hul misdade nie.)

’n Verdere pluspunt is die aanhalings uit die dagboek van Haynes se gewese vrou, Jackie, wat aan die einde van elke hoofstuk gebruik word. Alle eer aan Du Plessis wat Ralph en Jackie nie uitbeeld as “zef tipes” of stereotipes nie, maar as komplekse mense.

Hier is nie klinkklare antwoorde nie. Die leser moet self speurder speel, die karakters (en hul uitlatings) teen mekaar opweeg, probeer vasstel wie het watter motiewe gehad, watter onderstrominge daar was, en wie vir wie in die proses afgedreig, ingeloop en misbruik het.

Selfs dán is ’n mens nie seker of jy op die regte spoor is nie. Dit is presies waarom boeke soos dié so ’n leesavontuur is. Ek sien by voorbaat uit na Du Plessis se volgende boek.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en joernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.