Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Heerlike pienk spookasem

Pienk is nie vir sissies nie

#Presiesanders2

Christien Neser & Cecilia Steyn

TAFELBERG, R160

HUMAN & ROUSSEAU, R135

Jeugfiksie

Pienk is nie vir sissies nie en Presiesanders2: Cupcakes en kupido’s is gerig op die jonger deel van wat deesdae “Jong Volwassenes” genoem word.

In Pienk is nie vir sissies nie is Nicci Rust, soos haar pa en broer, ’n groot fietsry-aanhanger en deel van ’n fietsryklub.

Nicci, vroeër ’n ywerige balletdanser, se “pienk” dae is verby: Tot haar ma se teleurstelling het sy haar balletskoene opgehang, haar hare kort gesny en haar naam (Nicolene) verander in Nicci. En sy dink niks daarvan om van die seuns op haar fiets weg te jaag nie.

Nicci se lewe verander drasties toe sy een dag van die ander fietsryers wegry en deur twee rowers, wat haar vir ’n seun aansien, voorgekeer en ernstig aangerand word. In die hospitaal moet sy hoor dat haar fietsrydae vir eers verby is.

Daar is heelwat kinkels en draaie – soos ’n onderonsie met die liefde en ’n herontmoeting met een van die karnallies wat haar aangerand en haar fiets gesteel het – maar eindelik besluit Nicci dat, as sy nie meer kan fietsry nie, sy haar weer gaan toelê op ballet, met groot sukses.

Nicci word weer Nicolene en haar lewe is weer pienk, soos dit hoort met ’n meisie van haar ouderdom.

Ouer lesers sal dalk hul neuse optrek vir sulke pienk spookasem, maar pienk is 'in' en spookasem is soet.

Zoya – in Cupcakes en kupido’s – sukkel ’n bietjie met rekeningkunde, maar met ánder dinge is sy goed, soos met sosiale media en grimering: Haar lewe is onbetwisbaar pienk. Sy word aangewys om die skool se lentebal te reël – met ’n Hollywood-tema – en spring ywerig weg.

Daar is nie twyfel dat die bal ’n groot sukses sal wees nie . . . maar daar is ’n misverstand met die begroting en toe Zoya haar kom kry, is sy R10 000 oortrokke. Sy sal vinnig ’n plan moet maak en besluit om cupcakes te bak en anoniem en teen ’n tarief “pasmaker” te speel en eensame enkellopendes aan ander enkellopendes voor te stel.

Die pasmaker-ding blyk ’n groot sukses te wees, maar dan loop dinge skeef. Soos altyd is dit Zoe wat haar tweelingsuster uit die gemors moet help. Zane, hul broer, bly lastig en hulle pa word ’n groot verleentheid toe hy skielik besluit om “cool” te wees. Maar die eintlike draad van die storie is Zoya se bewondering vir Erwee, wat met sy blou oë self ’n Hollywood-ster kon wees.

Dié twee stories is veerlig, maar vlot geskryf en lees lekker. Daar is genoeg kinkels en draaie om die teikenlesers tot aan die einde te laat lees. Die skrywers weet goed waaroor hedendaagse 13- en 14-jariges se lewens gaan en wat hulle laat “tiek”. Ouer lesers sal dalk hul neuse optrek vir sulke pienk spookasem, maar pienk is “in” en spookasem is soet.

* Koop Pienk is nie vir sissies nie hier by takealot.

* Koop #Presiesanders2 hier by takealot.

  • J.B. Roux is ’n vryskutresensent van Riebeek-Wes.
Meer oor:  Cecilia Steyn  |  Boekresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.