Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hegte, slim weefwerk

André Krüger se roman ‘ ’n Redelike hoeveelheid moeilikheid’ wemel van historiese, rolprent- en ander intertekste wat Joan Hambidge veel plesier verskaf het.

’n Redelike hoeveelheid moeilikheid deur André Krüger. Uitgewer: Wenkbrou. Prys: R285.

Die titel verwys na Humphrey Bogart wat dié woorde uiter in The Maltese Falcon (1941). Hierdie berekende, slim geweefde teks speel op uiters behendige wyse met die werklikheid en fiksie.

Die kaping van die luukse Portugese passasierskip die Santa Maria op 23 Januarie 1961 in die Karibiese See vorm die politieke ondergrond (via Fredric Jameson) vir die vertelling. Die teikens vir die kaping – ’n poging tot dekolonisering – was die diktators Salazar en Franco, maar die skip word egter deur die Amerikaanse vloot opgespoor en die kapers in ruil vir politieke asiel in Brasilië vrygelaat.

Ons antiheld, die fokalisator Robert Ferreira, was hierby betrokke. Hy was eers in die veiligheidsdiens en word later deel van die polisiemag. Sy vrou verlaat hom onverwags en sy hele wêreld tuimel ineen. Hy gaan soek eers na haar in Portugal, waar hy opnuut by die onderwêreld van die veiligheidsdiens betrek word. Daar is afpersing en dubbelpratery. Skaakspeletjies.

Wat hierdie roman, die derde een onder Lapa se Wenkbrou-druknaam, bo die gemiddelde krimi verhef, is die historiese verwysings en die intertekste.

Robert se gewetenswroeginge word via Raka belig. Wat is boos? Wat is goed? Wie is Raka? Wie is Koki? Orde en chaos, oorlog en vrede, misdaad en vergelding kom uiteraard aan bod.

Verder word stede besonder treffend beskryf. Die leser sien en ruik Beiroet, en so ook onder meer Johannesburg, Limassol – ons weet hoe stede in spanningsverhale ’n kode word vir politieke onrus.

Die roman begin in Maart 1961 in Suid-Afrika. Sharpeville word vroeg ’n belangrike motoriese moment vir al die geweld wat sal volg. Ook die Franse studente-opstande van 1968 is hier.

En dan is daar die rolprente.

Humphrey Bogart. Ons wroegende Robert wat sy liefde vir flieks bely. Dit is ook ter sake dat Casablanca (1942), ’n rolprent van liefdesverraad en politieke spel, hier sluimer, daardie rolprent waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het: “Every story involves one or more archetypes. To make a good story a single archetype is usually enough. But Casablanca is not satisfied with that. It uses them all.”

Ook film noir is hier, Sam Spade, Philip Marlowe en vele ander misdaadhelde.

Een vrou lyk soos Sophia Loren; ’n ander slaan op Rita Hayworth. Harry Lime uit die nooit volprese The Third Man (1949) word eweneens betrek.

Die spanning tussen wit en swart – en grys. Kameraskote wat fokus op ’n kat en skoene.

Die bekende waarheid wat in hierdie rolprent geuiter word, is dat daar nie helde buite stories is nie. Die karakter ervaar homself dus as werklik terwyl hy hierdie verwysings maak na romans en flieks en die impak daarvan op sy lewensfilosofie.

Hierdie resensent lees eweneens toespelings op Philip Kerr se romans en sy bemoeienis met die Nazi-geskiedenis raak.

In Krüger se roman word daar na verskillende diktature verwys, en ’n antiheld wat hom buite die stelsel wil hou, maar dit nie regkry nie.

Is daar afsluiting? Of bly die leser wonder soos aan die einde van The Third Man oor wat verder gaan gebeur? James Bond in From Russia with Love (1963) speel ook saam in die leesassosiasies met vroue as verraderlike spioene.

Internasionale spioenasie is veral deur John le Carré meesleurend onthul, en Krüger se roman gee ’n binneblik op die netwerke wat die leser se kop laat duisel. Die akronieme word verduidelik in ’n nuttige tabel.

Die onrus van die 1960’s met verwysings na kernkrag, die destabilisering van die Midde-Ooste en Nasser in Egipte word terselfdertyd ’n sosiale ontleding tussen toe en nou.

Watter netwerke is nie nou ondergronds aan die beweeg nie?

Robert Ferreira, die Afrikaans-Portugese Roomse majoor in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, is ’n goeie mens. Ideologiese en persoonlike botsings dryf hierdie roman, nes die spanning tussen overte en koverte organisasies. Wat alles gebeur het ná die Tweede Wêreldoorlog, kan nie meer tot stilstand gebring word nie.

In 2013 het hierdie skrywer die UJ-debuutprys ontvang vir Die twee lewens van Dieter Ondracek, en met hierdie roman bewys hy hom ook as ’n besonderse spanningsverhaalskrywer.

Here’s looking at you, kid . . .

  • Prof. Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.