Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Helaas is dié apies nie Von Trapps

Annelie Botes se jongste en 13de boek, Lugkasteel, is tans die naasbeste Afrikaanse niefiksie-verkoper. Hierin skryf sy oor haar ervaring as goewernante van vier onhebbelike bloubloedseuns in ’n Britse kasteelhuis. Hier ly sy honger, verkluim, en skep ’n ontvlugtingsplek in ’n antieke Mercedes-Benz . . . Hier volg ’n uittreksel.

Foto:

Intussen spandeer ek uitmergelende ure in die son op die strand. Kunstige sandkastele wat ek bou, net om te sien hoe die kinders dit skaterend platskop. Om my ronddans en koggel: “You’re the housemaid! One day we will be kings.” Of hulle skinder aan die ontbyttafel by hulle ma oor hoe horrible die housemaid met hulle is.

My vergesigte oor hoe ek soos Maria in The Sound of Music die tros Von Trapp-kinders mesmeraais en met hulle oor die heuwels huppel, is begrawe. Die dag as ek daarin slaag om hierdie rowwe koninkies as ’n fluitkwartet voor adellike gaste te laat optree, op daardie dag verklaar ek myself ’n heilige.

Veral wil ek nie die laatoggend onthou toe die polisie ontbied is nadat vyfhonderd pond uit Josephine se beursie verdwyn het nie.

Ek was besig om die twee oudste koninkies, Andrew en Frederick, uit ’n akkerboom te red. Te hoog geklim, toe kry hulle hoogtevrees. Ek het net twee oë, en was besig om Edgar droog te maak voor ek tee in sy bottel sou gooi. Toe klief die gille deur die kombuisvenster en daar sit die twee koninklike sjimpansees in ’n mik aan mekaar en vasklou.

“Annie! Annie!”

Eers dog ek ’n boomslang het iemand gepik. Ek snol met Edgar op my heup buitetoe. “Spring uit!” roep ek in die boom op. “Daar’s gras onder die boom; julle sal nie seerkry nie!”

Maar die donnertjies wil nie spring of afklim nie. Dit kos my die kwelende Edgar neersit en vastrap teen enigiets wat soos ’n knoets lyk in ’n poging om my pampoenlyf in die boom opgehys te kry. Ek bid dat die lord en Josephine nie die spektakel gewaar nie. En ek sweer, sodra ek die sjimpansees uit die boom het, gaan ek in die staftoilette rook. Dit sal my weinig traak as ek na twak stink en in die pad gesteek word. Daar is baie geld in my beursie. Ek sal sonder om twee keer te dink op die eerste bus Baai toe klim.

Toe ek halfpad teen die stam op is, ry die polisiewa met loeiende sirenes by die jaart in en ek word kombuis toe gekommandeer. Nee, sê ek, ek gaan nêrens voor die kinders uit die boom is nie. En hulle wat die polieste is, is jonger as ek en húlle moet die kinders op die grond kry.

Voor die polisieman kwartpad teen die stam op is, spring die twee apies bo-oor sy kop en land skaterend op die grasperk. G’n niks vasgesit in die boom nie. Wou my terg. ’n Mens noem dit nie teister of koggel of uittart of terg nie. Dis pleinweg têre.

Minute later staan ek en die sjef en die bruin skoonmaakster tereg in die kombuis. Oor tien vyftigpondnote wat uit ­Josephine se beursie verdwyn het.

“Jirre, is julle mal om te dink Spar vat ponde vir groceries!” vra die skoonmaakster parmantig. “Kom soek my maar deur, tot tussen my twee pramme en in my skoene as julle wil. Ek sal op die mat in die voorhuis op my rug loop lê, dan kyk julle sommer in my onderste parte ook.” Sy begin haar skoene en overall uittrek.

’n Onheilsgevoel gryp my. In mý beursie is meer as duisend pond in kontant. Alles in vyftigpondnote. Dis bedoel om deur doeane te kom. Natuurlik sal die polisie wil weet wat ’n kinderoppasser met soveel ponde maak.

Josephine staan in die kombuisdeur met dikgehuilde oë. “As dit jy is wat dit geneem het, Annelie,” en sy snuit haar neus, “erken dit en gee dit terug. Ons sal jou nie vervolg nie.”

Vir ’n sekonde het ek die drang om te sê: Ja, dis ek. Vanselfsprekend sal ek die trekpas kry. En vir daardie oomblik is ek selfs bereid om vyfhonderd pond uit my beursie te haal om weg te kom. Dis baie geld, maar ek sal dit afskryf as skoolgeld wat ek langs my pad moes betaal.

“Dis nié ek nie. Maar as jy kort is aan geld,” ek kyk haar hoogmoedig aan, “sal ek uit my beursie vir jou vyfhonderd pond leen.”

Wragtig, die polisie vergesel my kamer toe om my beursie te gaan haal. Elke noot se nommer word neergeskryf. Josephine se gesigsuitdrukking sê sy het my klaar skuldig bevind. Toe wys ek die bankstrokies wat saam met my vliegtuigkaartjie in my handsak is. Dit wys hoeveel ponde ek by die bank in die Baai ontvang het.

As Annelaai Bouts steel, sal sy nie mik vir ’n niksbeduidende vyfhonderd pond nie.

  • Die uittreksel uit Lugkasteel is met die vergunning van die uitgewer, Penguin Random House, geplaas. Die memoire kos R220.
Meer oor:  Annelie Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.