Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Antjie Krog: ‘Witheid vervreem, nie Afrikaans'
Antjie Krog Foto: Yunus Mohamed

Die digter Antjie Krog het gisteraand die Hertzogprys vir haar bundel Mede-wete in Stellenbosch ontvang. Hier volg haar toespraak met die titel Die onvanpaste.

Ek is nie bekend vir my hoflike aanlope of sjarmante toesprake nie. Maar vanaand is ’n heel besondere aand en ek sit graag, so op staande voet, my beste voet voor en begin met ’n kort lysie van droom-bedankings – bedankings wat ek graag sou wou gemaak het.

Dankie aan die vegters vir Afrikaans wat uiteindelik besef het dat die stryd om Afrikaans in Engels moet geskied; dankie aan die vegters vir Afrikaans dat hulle uit hulle binnekamers gekom het om vooraan by die brandpunt van protesoptogte op ’n begrypende wyse aan aggressief singende swart studente te verduidelik dat dit nie Afrikaans is wat hulle vervreem nie, maar witheid, bevoorregte witheid en dat as Afrikaans wel verdwyn, dit nie ’n fraksie van hulle gevoel van uitsluiting sal verminder nie. Dankie daarvoor.

Dankie aan taalvegters wat besef dat om die rektor van Stellenbosch met virtuoos-allitererende nuutskeppings te beledig meer van ’n tipiese knusse narcissistiese Afrikanerskap getuig as wat dit werklik ’n pad vorentoe oopmaak in ’n diep gekwelde tydsgewrig en eintlik, soos altyd tevore, die projek van ’n diverse Afrikaans lamlê. Dankie dat net soos ons aanvaar het dat dit nie Media 24 se taak kan wees om Afrikaans se volle drakrag te ondersteun nie, net so besef ons dat dit ook nooit die taak van ’n staats-ondersteunde universiteit kan wees nie.

Dankie aan die taalvegters wat op ’n diplomatiese, versigtige en goedingeligte wyse intussen kontak gemaak het met ander universiteite waar studente in Zulu of Xhosa onderrig word...

Dankie aan die taalvegters wat op ’n diplomatiese, versigtige en goedingeligte wyse intussen kontak gemaak het met ander universiteite waar studente in Zulu of Xhosa onderrig word, waar moedige pogings tot woordeboeke en tesourusse, tot bestendiging van woordeskat en inheemse letterkunde sonder enige geldelike of noemenswaardige morele ondersteuning bedryf word. Dankie dat daar uiteindelik die soort samewerking met ander tale is wat van onder begin om te red wat nog te redde is (en red moet ons waaragtig red!) in plaas van om histeries die binne-ore van Afrikaanssprekendes doof te skreeu oor die kroon van ons kop afgeruk is in ’n land besete met ellende, honger, geweld en korrupsie.

Dankie aan die drie dagkoerante wat eindelik opgehou het om Engelse woorde in kursief te plaas om sodoende te erken dat hulle hul uiteindelik binne ’n postkoloniale tyd base en nie klase van Engels voel nie; dat hulle dit onnodig vind om dag vir dag die gesuiwerdes van die onsuiweres te onderskei.

Die werklike lysie

Terwyl ek nou my voete onder ’n ander man se tafel het, hier is wel my werklike lysie:

Dankie vir die rustige prosedure van die Akademie in ’n tyd wat dit hoog mode is om ter wille van excitement, hype en drama die naam van die wenner geheim te hou. Wat die onderskeid verstaan tussen celebrity en skrywer; tussen akteur en digter. Wat nie verwag dat jy moet huil as jy wen, of breed moet glimlag as jy NIE wen nie, wat nie die sukses van die aand bepaal nav twitters en trends nie, wat verstaan dat ’n skrywer skryf omdat hy eintlik nie kan praat nie.

As ’n mens al vir soveel jare jou voet in die stiebeuel het, dan besef jy maar te goed dat pryse vir letterkunde geweldig arbitrêr is. Dit hang af saam met wie jy daardie tydperk uitgee, wie jou uitgewer is, wie op die paneel is: vriende of vyande, akademici met axes to grind, of vriende wat publiseer, issuebeswaardes of issuegenieters, hoeveel mans daar is, hoeveel vrouens, hoeveel bruin, hoeveel wit. Dit hang af vir wie die paneel die prys die vorige keer gegee hét en vir wie die paneel die prys die vorige keer móés gegee het – dis ’n eindelose web van wigte en teenwigte, van gespanne voet en dooie voet, van voor die voet en vaste voet, uit die voete maak, voor die voet vertrap, vrotpootjie en nou en dan voet aan manlike walle sit.

Vir geen oomblik dink ek dus dat ek vanaand hier staan omdat ek werklik volgens die ewige maatstawwe van die liewe Here die beste digbundel in drie jaar geskryf het nie.

Vir geen oomblik dink ek dus dat ek vanaand hier staan omdat ek werklik volgens die ewige maatstawwe van die liewe Here die beste digbundel in drie jaar geskryf het nie. Die omgekeerde is egter ook waar. As ek vanaand nié hier gestaan het nie, sou ek ook nie gedink het dis omdat ek nié die beste bundel geskryf het nie (net soos ek nie dink die feit dat Valda Jansen nie op vanaand se lys is, beteken dat sy nie ’n topdebuut gepubliseer het nie).

Juis daarom, dankie aan die Akademie vir soliede gewoonheid. Want waarom dit uiteindelik hier gaan is dat literêre pryse die manna uit die hemel is, die dou op Gideon se skaapvel, dan op dan af. As dit na jou kant toe kom, is dit iets waaroor jy jou van harte verbly, jouself toelaat om vir ’n oomblik in rond te dryf, dalk jou bek bokant die water soos ’n seekoei te groot te rek of klein spuitfonteintjies van plesier te blaas. Want ’n digter kan nie lewe van poësie alleen nie. Nog erger: om poësie te kan skryf moet jy as’t ware toegang tot lugleegtes hê, oop tyd, ruimtes vol tyd. Geld soos dié stel ’n mens in staat om van agtervoet na albei voete te beweeg en uitgewers weer op goeie voet te vind.

Dankie aan Johann de Lange wat die klankbord was van hierdie bundel, Nelleke de Jager en die nooit genoegvolprese Alida Potgieter en haar span by H&R. Ek doen ’n voetval voor hulle sowel as voor Michiel Botha vir die ontwerp, Otobong Nkanga van Nigerië vir die visuele materiaal, en my man wat dikwels sy voet dwars sit en my ego soos ’n boot behendig stuur tussen die literêre en akademiese lewe se golwe van spanning, verguising, eer, harde werk, blokkasies, inspirasie, ontbloting, ver-ietsing en verniks- sing.

Poësieliefhebbers

My grootste dankie gaan egter aan die poësieliefhebbers in Afrikaans, of hulle self ook skryf, pryse toeken of onderrig gee, of net ’n gedig lees en vir ’n oomblik hulle oë toemaak asof hulle iets bowe-werkliks ervaar het, mense wat glo dat poësie die slagaar van ’n taal is, die diepste vorm van filosofie. Wat weet dat poësie die gevoelige ervaring van menswees verleng; wat aan iemand wat sigself aan die einde van wanhoop bevind, ’n opening bied, ’n asem, ’n oomblik van insig – verblindend van die onsegbare.

Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ’n verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge.

Poësie is die groot Ongekontamineerde. Dit is seëvierend omdat dit die mens in ’n verhoogde staat van bewussyn plaas, altyd met verhelderende gevolge. Asof jy op die drumpel van asem staan. Asof jy suurstof uit koel bome kry en skielik vorentoe gaan. Dis waarom digters skryf. Dis waarom lesers lees. Om die verheldering, die intensifisering, om iets van die sterflike te ontruk.

’n Goeie gedig is ’n versneller van die bewussyn. Indien jy ooit eenmaal hierdie versnelling meegemaak het, smag jy daarna en raak volslae afhanklik. Wie sigself in hierdie soort verruklike afhanklikheid van taal bevind, heet, so dink ek, digter en gedigliefhebber. Ek salueer julle en ’n uitgewery wat al vir honderd jaar poësie publiseer.

So hou die poësie voet by stuk, gee sy nie om as haar gesig verbrand nie, selfs al word sy toegegooi deur nimmereindigende internetmeule-variasies wat geen komplekser handeling van lesers verg as ’n duimpie op of af nie.

2.

maar staafspirale bestaan sê jy

die lieflik vere-rige slanke spiraalarms van ons sterrestelsel bestaan


in ’n dromende ballet sê jy van waas en wentelbaan

en die stadig-polsende lewensloop van sterre suurstof


en kwasars newelagtige baarmoeders en ontsaglike lig

aan die buitewyke van die heelal sê jy die melkweg neurie


daar’s rustig silwersuiwerende wentelbane die beminning

van mane getye liglyne en ewigdurende ewewig dit alles


bestaan sê jy: is dit nie juis die sterre as ’n oordaad priemsels op

’n stil someraand wat ons in wentelbane van uitreiking hou nie?


elke keer as ons in oorgawe na mekaar toe draai

doen ons dit onder ’n druisende baldakyn van sterre

3.

die universum word anders ontkurk sê jy as bloot deur

oorlewingsgeweld kyk hoe halshemeld vanoggend


die uithaal van lig oor die Mooiberge die liriese teloorgang

die oorskulp-hartbreekliturgie van die herfs mens hurk verwonderd

hierin want welgeluksalig is ons


dat hierdie smal benerige erfsterflike liggaam

soveel oorvloed kan stemvurk

Meer oor:  Antjie Krog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.