Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hier en nou in die gang van lewe en dood

Corné Coetzee het reeds met die verskyning van haar gedigte in Nuwe Stemme 4 (saamgestel deur Danie Marais en Ronel de Goede, 2010: Tafelberg) die aandag getrek. Van haar gedigte het ook vroeër in bloemlesings soos My ousie is ’n blom (saamgestel deur Charl-Pierre Naudé, 2006: Snailpress) verskyn en in 2015.

Reeds toe is daar al uitgesien na haar eerste versameling gedigte en nou, ná vele jare, is haar debuutbundel uiteindelik hier.

Was die lang wag die moeite werd? O, baie beslis! Met Nou, hier maak die leser kennis met die leefwêreld van ’n ouer digter: die gedigte is deurdag, geskakeerd en trefseker.

Corné Coetzee het in Nuwe Stemme 4 haar buiging as digter gemaak .Foto: HANS PIENAAR

Tematies word eietydse gegewe – veral rondom die vrou en haar posisie in ’n verknoeide samelewing

– hanteer; met oënskynlik eenvoudige verse word die veeldimensionele wêreld van groei en verbrokkeling ontgin, te midde van die vreugde en pyn wat die volwasse beleweniswêreld kenmerk. As sodanig is dit niks buitengewoon nie; vele bundels in onlangse tye handel oor soortgelyke onderwerpe. Immers is die digter deel van en reflekteer hy/sy die samelewing wat bepaalde temas aksentueer en kompliseer.

Dit is egter Coetzee se tegniese vernuf wat haar van onlangse debute onderskei. Nie net is haar gedigte besonder knap afgewerk nie, maar sy slaag deurgaans daarin om met behulp van sintuiglike waarneming ’n mymerende toon vol te hou wat telkens deur middel van ’n onverwagse gedagtesprong resonansie verkry. Indien dit so is dat dit die aard van die gedig is om die tyd tot stilstand te dwing ten einde ’n bepaalde oomblik – die hier en die nou – te internaliseer, slaag Coetzee uitmuntend daarin. Ter illustrasie die slotreëls van die gedig “Die reisiger” (bl. 44):

Jou hande wys vergesigte

wat skitter waar jy vat,

jou dye, lywige dokumente,

berig ongedroomde avonture,

jou vel met sy vele verhale

kaart ongekende ooptes.

Die nuwemaan maak sy rug krom.

Die bundel is onderverdeel in agt afdelings, beginnende met meer persoonlike verse oor jeugervarings (“Nymphaea gloriosa”), ouerskap (“Die vreemdelinge in ons arms”), huishouding (“Oos, wes”) en verwikkelende verhoudings (“Waarvandaan”). Dit is egter wanneer die digter haar visier wyer stel en met die daaropvolgende afdelings (“Hierdie tyd”, “Saadskiet”, “Ontruiming” en “Die leemte in die kern”) haar in die groter begryp van ’n gekompliseerde tydsgewrig plaas, dat die leser met die een onvergeetlike gedig op die volgende gekonfronteer word.

Een gedig wat ek in dié opsig wil uitsonder, is “Bruidjie van Jemen” (bl. 63) wat handel oor ’n agtjarige Jemenitiese meisie, Aeesja, wat in 2013 tydens haar huweliksnag weens inwendige bloeding dood is. Die gedig open met die onthutsende vraag: “Aan wie se hande is die bloed / van die bruidjie van Jemen?” en sluit met die volgende ­reëls:

Wie het almal kom kyk

hul kenne blink van bruilofsvleis

hoe swartoog Aeesja

sonder haar ma sonder haar pop

sonder ’n laaste soen op haar hare

haar oë op haar man se skoenpunte

weggelei word?

Wie sal ’n woestyn wegdra?

Hiervolgens blyk dit duidelik watter enorme impak die digter telkens met haar uitsteleffek verkry aangesien die sintaktiese verloop van die vraag tussen waarnemings verspreid lê: Wie het almal kom kyk hoe swartoog Aeesja weggelei word?

Bostaande opmerkings impliseer egter geensins dat die meer persoonlike gedigte van mindere waarde is nie. Regdeur die bundel stuit die leser telkens teen gedigte wat jou dwing tot die herlees daarvan; gedigte wat jou terugdwing na die bepalende moment van die nóú en die híér.

’n Goeie voorbeeld hiervan is die gedig “Kombuis” (bl. 29) waar die digter haar met groot sukses van die rym bedien. Ek haal die gedig volledig aan:

Gretig woel en werk en bak en brou ek,

vee en vlyt ek, goeie, flukse vrou, ek.

Die meel is bitter want die muis is dik,

baksel in die oond, ek in ’n blik.

Een op die heup, een aan die mou,

eiers verbrand, kinders verbrou.

Getrou kap en sny en stoom en sis ek,

stomp soos die messe hou ek my bek.

Die sout is laf, die kruie muf, ek hoef

niks. Die krane drup so droef.

Als is skoon, die werk gedaan.

Die hele besigheid verkeerd verstaan.

Hierdie bundel van Coetzee is inderdaad ’n indrukwekkende debuut; ’n bundel wat vanweë sy geskakeerde aard veel vreugde aan die liefhebber van die digkuns gaan bied, want onder die gewaande waterspieël van waarneming, is die nuansering van ingehoue emosie in die hier en nou soos dit gesetel is in die durende gang van lewe en dood.

Louis Esterhuizen is ’n digter en tekspraktisyn van Stellenbosch.

Meer oor:  Poësie  |  Digkuns  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.