Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hier kruip die bloed nie – dit vlóéi
Die kil, objektiewe manier waarop Charné Kemp sewe van Suid-Afrika se gruwelikste gesinsmoorde inlei en dan ontleed het koue rillings teen Herman Lategan se ruggraat afgestuur.

Bloed, dunner as water: Suid-Afrika se berugste familiemoordedeur Charné Kemp. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R255.

Die uitdrukking lui bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Maar by die families onder die soeklig in hierdie nuwe boek oor ’n ou onderwerp kruip die bloed allermins. Nee, hier vlóéi dit behoorlik in rooi watervalle van hemoglobien wat vriende en families wegruk en oor die rand van die afgrond slinger.

’n Mens strompel van bladsy tot bladsy, oorweldig deur die kokende wraaklus en arglistigheid agter soveel gesinsmoorde wat al in Suid-Afrika gepleeg is. Wat gaan aan? Ly ons gesamentlik aan posttraumatiese stresversteuring? Is ons soos mense wat in ’n noodlottige motorongeluk was en as oorlewendes uit die wrak klim, verdwaas en steierend van skok?

Soms voel dit of die nag sy vlerke oor ons land gevou het; ons leef in ’n immer smeulende landskap waar hoop en liefde toenemend luukses is.

Charné Kemp, ’n spesialisverslaggewer by Netwerk24 en ook die skrywer van die topverkoper Moord op Griekwastad: Die storie van die Steenkamp-treurspel (2014), ken haar onderwerp en skryf in ’n kil, objektiewe register wat ’n mens koue rillings gee. Haar pen is ’n blinkskerp slagtersmes wat die ribbes oopkerwe.

Sy neem die leser eers deur ’n deeglike inleiding waar sy met kenners praat en na verskeie bronne verwys oor wat alles tot gesinsmoorde aanleiding gee.

Prof. Kathleen Heide, byvoorbeeld, ’n professor in kriminologie aan die Universiteit van Suid-Florida in Tampa, Amerika, wat al meer as 30 jaar navorsing doen oor kinders en ouers wat moor, het in 2013 oor ABC Radio gesê sy glo nie kinders word boos of met bose gene gebore nie.

Heide meen daar is verskeie redes waarom kinders hul ouers vermoor: fisieke, verbale of seksuele mishandeling en die gevolglike verwaarlosing as die ma nie die kind teen die pa beskerm of hulp inroep nie. Die eerste gevoelens ná die moord is gewoonlik verligting – met spyt wat dalk later intree.

Vermoor: Rosemary Theron

Nog ’n moontlike oorsaak is psigose, waar die kind hallusinasies of drogbeelde ervaar. Daar is ook gevaarlike antisosiale moordenaars wat deur motiewe soos vryheid geïnspireer word. Hulle wil vry wees van dít wat hulle glo hindernisse is. Die teorieë is legio.

Dié inleiding strek oor 54 bladsye en is in toeganklike taal geskryf. Daarna val Kemp weg, hoofstuk vir hoofstuk, waarin sy jou na die ysingwekkende toneel van ’n plaaslike gesinsmoord neem. Dit word nie op ’n sensasionele manier of sonder empatie aangebied nie, maar dit voel wel soms of Jack Nicholson van The Shining met ’n byl agter jou staan en Daisy de Melker oor jou graf loop.

Sewe gesinne (ironies, die heilige nommer) word bespreek en elke hoofstuk het onderafdelings wat die kroniek van elke moord ’n begin, middel en einde gee. Daar word gekyk na die families van onder andere Phoenix Racing Cloud (Racy) Theron, Don Steenkamp, Marius van der Westhuizen en Henri van Breda.

Van die inligting is uiteraard reeds in die openbare domein, maar Kemp slaag daarin om die slagtings van voor af te dekonstrueer en hulle meer konteks en agtergrond te gee. Antwoorde word in die neurowetenskap gesoek en daar is onderhoude met onder meer ’n forensiese psigiater.

Sewe gesinne (ironies, die heilige nommer) word bespreek en elke hoofstuk het onderafdelings wat die kroniek van elke moord ’n begin, middel en einde gee.

Wat visueel ingeprent is, is die kil gesigte van sowel Steenkamp as Van Breda tydens hul hofverskynings. Met die lees van die hoofstukke oor hulle kan jy eenvoudig nie die onemosionele uitdrukkings uit jou kop kry nie. Albei se oë is leweloos soos ysige albasters, met elke roggel is daar ’n koggel.

Elke moord is tragies, maar spesifiek Phoenix Theron se lewe het hierdie resensent nie onaangeraak gelaat nie. Die moord het in Clovelly, Vishoek, plaasgevind, ’n suidelike voorstad wat op die oppervlak vrolik en vrygeestig voorkom, met sonnige dae, hippies wat hul kitare tokkel en ’n seebries.

Maar onder die dekmantel van sorgeloosheid was Vishoek eintlik altyd die spookagtige Twin

Peaks van Kaapstad. Dit is hier, in ’n vervalle huis sonder ’n voordeur en naby ritselende bosse waar Phoenix (toe 18) en haar minnaar, Kyle Maspero (ook 18), haar ma, Rosemary (39), vermoor het.

Haar ma was ’n hanswors en steltloper. Sy het die lewe geskenk aan haar dogter terwyl sy met ander hippies in ’n woonwapark in Noordhoek gewoon het.

Kemp skryf as kind het Phoenix saam met haar ma en pa, Ivan Claasen, die land in ’n perdewa deurkruis. Dwelmgebruik het daartoe gelei dat hulle hul dogter verwaarloos het, en daar was soms nie kos in die huis nie.

Phoenix is deur ’n vriend van haar pa seksueel aangerand. Haar broer, Taki, is in Phoenix se teenwoordigheid sommer buite ’n woonwa gebore.

Die gesin het later in ’n motorhuis in Muizenberg gewoon.

Net voor die moord het haar ma gereeld dwelms gebruik en woedebuie gehad. Phoenix se kêrel, Maspero, wat ook ’n stormagtige verhouding met die ma gehad het, het die gesprek oor die misdaad geïnisieer. Op Donderdagaand 7 Maart 2013 was Rosemary uit en met haar terugkeer het Phoenix haar ma ’n drukkie gegee en haar ma se arms vasgehou. Maspero het Rosemary toe van agter af met ’n tou verwurg.

Wat hierna gebeur het, sal die leser self moet uitvind, maar die hele atmosfeer van hippies, seelug, ’n hanswors, perdekar en sigeunerbestaan, dwelms, ’n bynaam soos Racing Cloud en emosionele en fisieke verhongering skep ’n gebroke surrealistiese ge­voels­wêreld.

Een waar die dansende nar se sirkus halfpad deur die vertoning wreed inmekaar geval het.

  • Herman Lategan is ’n vryskutjoernalis en rubriekskrywer van Groenpunt, Kaapstad.
Meer oor:  Charné Kemp  |  Boek  |  Bloed  |  Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.