Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hiér vind lesers godin van vergeet

In ‘Waar onthou begin’ vervleg Connie Luyt die verhale van ’n vrou met geheueverlies en dié van Mary Livingstone, wederhelf van die bekende ontdekkingsreisiger. Juliana Coetzer kon dit nie neersit nie.

Waar onthou begin deur Connie Luyt. Uitgewer: Penguin. Prys: R280.

Elfrieda Rademeyer word uit ’n koma wakker met geen geheue oor haar identiteit, verlede of die ongeluk wat haar in die hospitaal laat beland het en die oorsaak is van haar traumatiese brein- en ander beserings nie.

Die mediese personeel wat na haar omsien, noem haar Pixie vanweë haar jeugdigheid en tenger voorkoms. Die neuropsigiater, dr. Michael Stewart, toon intense belangstelling in die pasiënt. Terwyl Elfrieda oor weke genees van die veelvuldige beserings, ontwikkel daar ’n vertrouensverhouding tussen psigiater en pasiënt wat die klimaat skep waarbinne sy geleidelik haar geheue herwin. Die ingrypendste herinnering – hoe sy in die hospitaal beland het – bly egter ’n misterie.

Terwyl Elfrieda herstel, begin lees sy die verhaal van Mary Livingstone, eggenoot van die bekende ontdekkingsreisiger. Dié verhaal van ’n vrou wat te veel moes ontbeer ter wille van haar beroemde man word parallel met Elfrieda se storie vertel. Daar is duidelike raakpunte en ’n gedeelde vasberadenheid, maar waar Mary nie van die teëspoed terugdeins nie, al is dit tot haar en haar kinders se nadeel, is Elfrieda geneig om te vlug. Dit word ’n tema wat homself herhaal en geweldige implikasies inhou totdat sy uiteindelik van die volle waarheid bewus word en vrede kry.

Die skrywer vertel die verlies aan herinneringe is ’n onderwerp wat haar nog altyd geboei het. In die Griekse mitologie is byvoorbeeld ’n godin van onthou, Mnemosune, maar nie een van vergeet nie. Hoewel die verlies aan herinnering ’n belangrike tema in Waar onthou begin is, is dit nie die somtotaal van die boek nie. Net toe Elfrieda weer op haar voete kom, moet sy nogmaals die verlies van ’n geliefde verwerk.

Elfrieda pen self die verloop van haar lewe ná die herstelpad neer. “Ek moet dit opskryf sodat dit nie verlore sal gaan nie, soos wat ek vir ’n lang tyd verlore was,” sê sy in die inleiding. Sy kom te staan voor lewensingrypende besluite en moet met die gevolge daarvan saamleef. Dit is belangrike detail wat ek nie hier wil verklap nie. Vele mense kruis haar pad – dié wat help en ondersteun en dié wat haar wantrou en verguis.

Dis twee komplekse verhale wat met groot sukses ineengevleg word.

Met die aanvanklike lees was daar ’n naïwiteit in die verhaal wat my gepla het, byvoorbeeld die veer wat oral uit die niet verskyn en wat Elfrieda ervaar as ’n teken van haar pa se alomteenwoordigheid, en die psigiater wat nie sy verliefdheid op sy pasiënt wegsteek nie en beslis ’n paar etiese reëls oortree. Dalk het die skrywer gedink dié reëls was minder streng gedurende die 1980’s waarin die gebeure afspeel.

Op sommige plekke in die boek word die psigiater as sielkundige aangespreek. En op bl. 223 verwys Michael na homself as ’n sielkundige. Daar is ’n groot verskil tussen die twee beroepe.

Desnieteenstaande dié klein kwellings het die verhaal my ingetrek en kon ek dit nie neersit nie. Die skrywer se beskrywing van Elfrieda se begeerte na liefde, maar ook terselfdertyd haar vrees en wantroue daarin, het my aangegryp.

Die vertelling van die onbekende Mary Livingstone se geskiedenis in die agtergrond van Elfrieda se lewensverhaal het ek baie insiggewend gevind. Elkeen se storie beskryf hoe swaarkry en verlies hul lewens help vorm het. Dis twee komplekse verhale wat met groot sukses ineengevleg word.

Luyt is ’n bedrewe fiksieskrywer wie se werk ook al in Nederlands vertaal is. Met die lees van haar jongste het Maya Angelou se woorde by my opgekom: “I’ve learned that people will forget what you said, people will forget what you did, but people will never forget how you made them feel.”

Dit geld sekerlik vir boeke ook. Lesers vergeet die klein foutjies, maar nooit hoe die boek hulle laat voel het nie. Ek het Waar onthou begin met genoegdoening gelees en vir baie lank draal daardie gevoel steeds binne my.

  • Juliana Coetzer is ’n skrywer, vryskut-resensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.