Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hierdie jeugfiksie hoort op elke rak

Twee moderne Suid-Afrikaanse grootwordverhale waarby Zelda Bezuidenhout onderskeidelik as skrywer en vertaler betrokke is, hoort volgens Magdel Vorster op iedere boekrak.

Die 3 van onsdeur Zelda Bezuidenhout. Uitgewer: Pan MacMillan. Prys: R160.

Die beste stories is dié waaruit kinders iets kry sonder dat hulle begin lees het om iets te leer of uit te vind. Die beste karakters is geloofwaardig sonder om vervelig bekend te wees – jy moet óf dankbaar wees jy is nie soos hulle nie óf dankbaar wees jy is so (of wil so wees).

Jana, die hoofkarakter in Die 3 van ons, is nie ’n tipiese tween nie. Haar laaste jaar in die laerskool lê voor, sy besit nie ’n slimfoon nie en is mal oor feite wat sy alles met haar oorlede joernalis-oupa se ou tikmasjien opteken.

Bezuidenhout skryf met humor en deernis oor ’n wipplankvriendskap tussen drie nog-vis-nog-vlees-maats. Soos in haar vorige twee jeugboeke skep sy interessante karakters en oorspronklike dog geloofwaardige intriges.

Terwyl sy stoei om die dood van haar geliefde kinderoppasser en vertroueling te verwerk, lyk dit of Jana se beste vriendin ’n nuwe sielsgenoot in die einste huis met háár kosbare herinneringe gevind het.

Oor die ontknoping en waarom die titel drie in plaas van twee vriende suggereer, gaan ek niks verklap nie. ’n Mens wil nie dié heerlike ontdekkingstog en vindingryke slot vir lesers bederf nie.

Die 3 van ons is ’n aktuele, moderne Suid-Afrikaanse grootwordverhaal en ’n welkome toevoeging tot nege- tot 12-jariges se boekrak.

Skerwedeur Sally Partridge, in Afrikaans vertaal deur Zelda Bezuidenhout. Uitgewer: Lapa. Prys: R195.

Toe ek wegtrek met Zelda Bezuidenhout se Afrikaanse vertaling van Sally Partridge se Sharp Edges (2013), het ek dadelik geweet dié storie gaan my raak en moontlik hartseer maak. Reg aan die begin is dit tog duidelik die hoofkarakter is oorlede. Hoe alles gebeur het en wie ’n aandeel waaraan het, sou sekerlik in die verhaal duidelik word. Ek het elke voor die handliggende sondebok voorspel, maar die storie het my geruk en die legkaartstukke sou ek nooit vooraf logies kon sorteer nie.

Ses tieners woon ’n musiekfees by om Demi Lee se 17de verjaardag te vier. Daar heers groot opgewondenheid, want “ons kan doen net wat ons wil, want ons ouers sal nooit weet nie”. Maar Demi Lee oorleef nie haar partytjie nie. Wat daar afspeel, sal vir altyd by die vyf oorlewendes bly spook. Elkeen van dié vyf se eie spoke voor en ná die fees word in afsonderlike hoofstukke vanuit elkeen se perspektief duidelik.

Skerwe is ’n boeiende, hartverskeurende verhaal wat om verskillende redes lesers se hartsnare sal roer. Die maalstroom van jong lewens word sonder oorverduidelikings gewys eerder as vertel. Al word die raaisel reg aan die einde vir die leser opgelos, sal almal se verskillende stories en bydraes tot die gebeure die leser bybly.

Daar word nooit gemoraliseer nie, maar jong lesers sal flitse van besluite wat geneem is, kommunikasie tussen vriende asook tipiese optredes herken.

Skerwe bied baie stof tot nadenke. Trouens, ook die karakters, Demi Lee, Damian, V, Siya, Jaco en Annica, sou heelwat kon baat vind by die oop gesprekke wat hierdie verhaal sal ontlok.

Soos Partridge se oorspronklike titel suggereer, is dit die skerp kante van die hoofkarakters se lewens wat veroorsaak het dat die lewe van vyf jong mense aan die begin van die verhaal aan skerwe lê. Partridge gee in dié verhaal eerlik uitdrukking aan die etos van jongvolwassene-kultuur en die raamwerke van tipiese tienervriendskappe. Bezuidenhout se vertaling bly getrou hieraan en waarborg dieselfde aangrypende leeservaring.

Meer oor:  Zelda Bezuidenhout  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.