Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hierdie verhale is salig, sonderlik én skalks

Wat jou waaragtig teen die bors tref van die 55 stories in Frederik de Jager se bundel ‘Man op ’n fiets êrens heen’ is hoe meesterlik en individueel dié nuwe skrywerstem is, hoe deurspek dit is van sonderlikheid, varsheid en skalkse humor, skryf Jean Meiring.

Man op ’n fiets êrens heen: 55 stories van mense onderweg deur Frederik de Jager. Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R250.

Om te sê dat dié blink geskuurde bundel rubrieke oor verlies handel, sou wees om die reënboog temas en toonaarde daarin deerlik te verskraal.

Tog sal stip lesers wat eers al die rondomteks – hiér vernaam die kort Erkenningsblad, ’n grafsteen agterin – bestudeer, uit die staanspoor onder die indruk kom van hoe vinnig, hoe tersluiks, Afrikaanse lesers oor die afgelope jaar so baie verloor het.

In die weeklikse tydskrif Vrouekeur, wat weens Covid-19 saliger is, het uitmuntende leesstof verskyn.

Ook fiksie deur topskrywers. Én rubrieke – onder meer hierdie “55 stories van mense onderweg” deur ene Frederik de Jager, baie jare tevore Frikkie de Jaer, wie se pa, Gert, doerie tyd die skarniere van Lichtenburg se Volkskastak van finansolie voorsien het.

Frederik de Jager – so lees ’n mens hier – wat rakelings die kansel gesystap het en ná ’n honneursjaar in Maties se filosofiedepartement en ’n magisterverblyf onder die weermag se musiekmakers, as wafferse sendeling in ’n rykmanskosskool in die indertydse Natal Afrikaans moes gaan verkondig. Wat ná enkele jare as leermeester sy toga opgehang en hom die nering van uitgewer op die hals gehaal het – waar hy onder ingesworenes ’n dawerende reputasie verwerf het.

Ná soveel jare waarin De Jager ander siele se woorde en sinne weeg-weeg in sy hande gehou het, moet ’n mens seker nie agteroor steier by die gedagte dat dié ouduitgewer, en deesdae lesgeër, weet hoe om te skrywe nie.

Die leser kom telkens op ’n verrassende, bevredigende slot af.

As skrywer egter is De Jager, wat reeds “die laaste rafels van vyftig” (bl. 13) deur sy vingers laat glip het, vir die leespubliek ’n betreklike nuweling. Die rubrieke het tussen 2015 en verlede jaar in die tydskrif verskyn; hierdie boek is die eerste een waarop De Jager se naam pryk.

Maar wat jou waaragtig, selfs net enkele stukke in reeds, teen die bors tref – vir jou ’n “verrukking van sinne” (bl. 171) laat ervaar – is hoe meesterlik en individueel dié nuwe skrywerstem is, hoe deurspek dit is van sonderlikheid, varsheid en skalkse humor.

En hoe versigtig Protea Boekhuis te werk gegaan het om die rubrieke soos pêrels, ver buite die bereik van snorkende “swyne” (bl. 47), in ’n sinryke sekwens aaneen te ryg.

Die leeuegros van die stukke is inderwaarheid iets soos kort kortverhale: Nadat die gordyn telkens op ’n redelik tydlose situasie oopgaan, altyd met ’n eksentrieke rolverdeling, loop die spanning binne die bestek van een en ’n anderhalf bladsy dikwels hoog. Deur ’n blikverskuiwing of ’n onverwagte wending kom die leser telkens op ’n verrassende, bevredigende slot af.

Waarin ’n angel of ’n nog verdere knoop dikwels opgesluit lê.

Die enkele meer “rubriekerige” stukke het eweneens eerder ’n verhalende as ’n polemiese inslag; dáár smeer De Jager, soos ’n waterverfskilder, sagkens die een tema ’n ander, onverwagte kleur in.

Binne die geheel van die bundel dy die individuele brokke derhalwe tot iets groters uit: ’n beskeie, elliptiese biografie van die skrywer self, deurtrek van ootmoed en selfspot. Flitsgewys word aan ’n vol en oorwoë lewe gestalte gegee, als deur die verteller se fyn – nou melancholiese, nou sardoniese – oog betrag.

Tog word die grepies uit die verskillende stadia van De Jager se besige lewe meestal nie chronologies aangebied nie (’n reeks van drie onverkwiklike huurders kom wel tydmatig in gelid). Eerder speel die onderskeie verhale tematies in op dié wat voor en ná hulle inskouer.

Dis uit die temas waartoe De Jager se oog telkens getrek word, en deur sy interaksies met al die ander siele eweneens op pad na ’n onkenbare bestemming, dat lesers hom in sy stuwende lewensdrif leer ken.

Buitestanderskap. Menslike broosheid en die aftakeling wat die ouderdom meebring. Familie- en vriendskapsverhoudings. Musiek. Boeke. Reis. Suid-Afrika, kwinte of te nie. Lesbos in Griekeland, sy eilandtuiste die afgelope klompie jare.

En (dalk kan ’n mens sê bowenal): diere. Veral honde en katte en – wat ’n wonderlike ding! – donkies. Dis veral met die lees van die elegiese, langer stuk naby die bundel se rugkant “My beter vriend”, oor die veelbewoë koning der honde Kristoffel, dat lesers met moeite die sluise sal toehou. So ook met Columbo, die “[p]rins van vlam en grasie” (bl. 62).

As De Jager die edele Bileamsgedierte onder die pen bring, stroom ’n stuk onvergeetlike prosa voort (bl. 33): “ ’n Stroewe oefening in vertraging is hulle, in stowwerigheid, in loom onwilligheid, in stug dwarsboming van elke plan wat ’n mens op ’n trekpad kan bedink.”

Maar dan (bl. 33): “In weerwil van sy reputasie as ’n steeks duffel verraai die donkie se oog, omsoom van ’n wit band soos ’n teken van suiwerheid, ’n onskuldige aanskoue van die wêreld. Grootoog soos ’n kind, goedig en geduldig. ’n Koei se oog het die donkie.”

Dis hiér waar die knoop lê: De Jager se oog beoefen die aandagtigheid waartoe digters veelal gemaan word. En oor die taalvernuf en -vindingrykheid beskik hy ruimskoots om dít wat hy sien verrassend, onthutsend, snaaks – dikwels skatersnaaks – onder woorde te bring.

’n Bus kom “ronkende en knersend” op gang (bl. 9). Iemand se hoesbui klink soos “die slaginstrumentseksie in ’n Prokofiëf-concerto (bl. 61). ’n Skavuit pleeg ’n “skunnige rondloerdery in die kamer soos ’n jakkals in ’n skaapkraal” (bl. 95).

Die verlies wat hierbo aan die orde gestel is, neem ’n des te triestiger kleur aan wanneer ’n mens ná die derde lees van die boek besef: Daar is iets saligs aan stories soos dié, wat distel-lig sommer so weggewaai kan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.