Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hitler in ‘die buitenste ruim’ in Kombuis se novelle

Die Nazi-leier Adolf Hitler bevind hom in die “buitenste ruim in ’n wetenskapfiksie-storie gone wrong” in die sanger en skrywer Koos Kombuis se novelle, Sushi with Hitler.

Hitler raak boonop verlief op Mary Poppins en hy loop die sanger Bob Dylan raak. Terselfdertyd raak hy bevriend met Albert Einstein.

Sushi with Hitler
Koos Kombuis Foto: Albert Bredenhann

Die novelle is onlangs deur Naledi as ’n e-boek uitgereik.

“Ek is mal oor humoristiese wetenskapfiksie,” sê Kombuis, wat die boek onder die skryfnaam Joe Kitchen geskryf het.

In die novelle kom die leser twee Hitlers teë: “Die slegte Hitler is die een van ons aarde, en die goeie Hitler woon iewers op ’n idilliese planeet en hy wil slegs ’n mediocre portretkunstenaar wees. Hulle ontmoet mekaar, en die goeie Hitler is so gewalg deur die slegte Hitler dat hy hom vermoor.”

Gevolglik moet hy gestraf word, want moord is moord.

“Dit is my verskoning om die karaktertjie Hitler – die goeie een wat moord pleeg – op ’n willewragtig-avontuur deur die kosmos te vat. En hy besef ook vir die eerste keer dat hy nie so uniek is soos wat hy gedink het nie: Daar is baie ander Hitlers in die universe.”

‘Sushi with Hitler’ deur Koos Kombuis as Joe Kitchen.

Tog wil Kombuis allermins saam met Hitler aan tafel sit.

“Ek kan aan niks ergers dink as om Adolf Hitler in lewende lywe te moet ontmoet nie – beslis nie sonder ’n gesigsmasker nie.

"Internasionaal is die pulp fiction-genre nou, meer as ooit tevore, gefassineer met die Hitler-metafoor."

“Hitler is vir my wel ’n interessante en boeiende metafoor, selfs argetipe, ’n spesifiek twintigste eeuse argetipe. Soos Elvis ’n twintigste eeuse argetipe is. En daar is skrywers wat al die snaakse kant kon insien van ’n mens, van ’n tydperk in die geskiedenis, wat allesbehalwe snaaks was.”

Die boek spruit uit krabbels in die kantlyne van Kombuis se ernstige werk. Hy het van tyd tot tyd aan die boek gewerk wanneer hy verveeld was of as hy lus was om te lag.

“Toe, eendag, is die boek klaar, en ek dog: ‘Wat nou? Is dit ’n boek?’ Toe teken ek ’n paar prentjies by, (onder meer die voorblad), en gee dit vir Naledi. Karen Cronjé het die afronding en die layout gedoen.”

Kombuis het deurgaans die liedjie “Springtime for Hitler” vir inspirasie geneurie terwyl hy die boek geskryf het.

“En nadat die boek aanvaar is, het ek en my gesin een aand na (die fliek) Jojo Rabbit gaan kyk. Toe het ek besef: Ek is nie al ou wat so dink nie . . . internasionaal is die pulp fiction-genre nou, meer as ooit tevore, gefassineer met die Hitler-metafoor.”

Kombuis het die uitgewer van meet af aan laat verstaan die boek gaan nie enige van die swaargewig-onderwerpe aanroer waaroor tans in niefiksie geskryf word nie.

“En dit is, dank die hemel, ook nie outobiografies, soos al my ander boeke nie.”

* Sushi with Hitler sal na verwagting in Mei in druk verskyn.

Meer oor:  Koos Kombuis  |  Adolf Hitler  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.