Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hoe SA se Bokke teen Rommel geboks het

In ‘South Africans versus Rommel’ bied David Katz ’n noukeurig nagevorste blik op die gemengde welslae wat Suid-Afrika behaal het in die Woestynoorlog in Noord-Afrika, skryf Rodney Warwick.

South Africans versus Rommel: The Untold Story of the Desert War in World War II deur David Brock Katz. Uitgewer: Stackpole Books. Prys: R560.

South Africans versus Rommel is ’n tydige toevoeging tot Suid-Afrika se oorlogsgeskiedeniswerke en bied ’n toeganklike maar tog gedetailleerde oorsig, veral vir die nageslag van die veterane wat van 1941 tot 1942 in die Woestynoorlog in Noord-Afrika geveg het. Die helfte van hulle was Afrikaners.

David Katz se boek is waarskynlik die eerste noukeurig nagevorste verslag van die soldate se gemengde welslae sedert die magistrale dog hoogdrawende Union War Histories-reeks in die 1950’s verskyn het, en Neil Orpen se War in the Desert in 1971 – albei is ewe gedetailleerd en swaarwigtig, maar apolities steriel.

Veral laasgenoemde is relevant omdat die wit Suid-Afrikaanse politiek in die vroeë 1940’s oorheers is deur diepgaande konflik oor Suid-Afrika se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog: Engelse Suid-Afrikaners en Afrikanernasionaliste (wat klaar nie ooghare vir hulle Sap-bloedverwante gehad het nie) het mekaar verafsku, terwyl die anti-Britse, amper nasionaal-sosialistiese Ossewabrandwag met ’n rebellie gedreig het.

Jan Smuts, die eerste minister, se aandrang dat die stryd teen Duitse nazisme en Italiaanse fascisme moreel korrek en in landsbelang was, is sonder twyfel histories voorgehou as die enigste eerbare keuse; dit maak Katz se vars ontleding van Suid-Afrika se opofferings en verliese des te meer noodsaaklik.

Ritchie se besluit om Klopper as aanvoerder by Tobroek aan te stel was gewoon bisar.

Sy boek bevat ’n kritiese en verdoemende ontleding van die Britse militêre doktrine en leierskap. Anders as die Nieu-Seelanders en Australiërs wat hulle op hul eie regerings kon beroep, was Suid-Afrikaners statutêr onderworpe aan Brittanje se besluite.

’n Goeie voorbeeld is die ramp by Sidi Rezegh waar die 5de Suid-Afrikaanse Brigade sonder enige statiese verdediging moes klaarkom. Die Britte se ontplooiing van die Suid-Afrikaners het sleg afgesteek teen die blitsige bewegings en taktieke wat die 1ste Suid-Afrikaanse Divisie vroeër met groot sukses – en onder aanvoering van hulle eie offisiere – teen die Italianers in Abessinië gebruik het.

In die nimmereindigende woestyne van Libië en Egipte het die Suid-Afrikaners te staan gekom teen aansienlik onwrikbaarder Italiaanse troepe wat ook beter toegerus was. Voeg hierby die gedugte Duitse Afrika Korps onder aanvoering van die waaghalsige genl. Rommel, wat snelle “gekombineerde” oorlogstaktieke en ewe snelle sterk konsentrasies troepe tot sy voordeel gebruik het. By Sidi Rezegh was die Suid-Afrikaanse verliese aan gevangenes reeds pynlik hoog, maar selfs nóg meer so by Tobroek, waar die nederlaag duidelik voorkom kon word. Onder die nagenoeg 10 700 garnisoenlede van die 2de Suid-Afrikaanse Divisie wat hier gevange geneem is, tel ook 1 200 swart Suid-Afrikaners. Oor die lot van een van hulle het Uys Krige, self ’n ooggetuie van die oorlog, die aangrypende kortverhaal “Die dood van die Zoeloe” geskryf. Die Suid-Afrikaners het wel later manjifieke oorwinnings by Gazala en vernaam die Slag van El Alamein behaal. Ook hieraan word aandag geskenk.

Katz identifiseer ’n menigte faktore wat tot Suid-Afrika se terugslae bygedra het: die Britte se doktrinêre opdragte tydens die sogenaamde Operation Crusader-offensief; die skeiding van pantser- en infanterie/artillerietroepe, elkeen met sy eie, onafhanklike rol; die Britse leierskap se aandrang op gefragmenteerde Statebonds-infanteriebrigades wat aanval of verdedig sonder dat hulle seker was of pantsermagte blitsig tot hulle redding sou kom; en die Britse aanvoerders se noodlottige oordrywings en/of mistastings oor die Duitsers se tenkverliese terwyl hulle eie pantservoertuie en -soldate ernstig deurgeloop het.

Ewe omstrede is Katz se beskrywing van brig. Dan Pienaar, aanvoerder van die 1ste Suid-Afrikaanse Brigade, en sy trae reaksie nadat die Britte hom opdrag gegee het om die bedreigde 5de Suid-Afrikaanse Brigade te hulp te snel. Dit is onbekend of die 1ste en 5de SA Brigade saam die pantseraanslag die hoof sou kon bied of saam ten gronde sou gaan. Sonder hul eie pantservoertuie was die Suid-Afrikaanse soldate kwesbaar vir ’n volslae aanval deur die Duitse tenks. Dit was die tragiese lot van die 5de Brigade. Voordat hulle die stryd moes gewonne gee, het die onverskrokke Suid-Afrikaanse artillerie meer Duitse tenks verwoes as wat die Britse pantservoertuie in daardie stadium kon regkry en só Rommel se planne tydelik in die wiele gery.

Pienaar was buitengewoon beskermend teenoor sy “Springbok”-span vrywilligers namate hy agterdogtig geword het oor die Britse aanvoerders wat oënskynlik min gepla is deur die enorme verliese. Pienaar was ’n uitgeslape en ambisieuse politikus en het geweet die Afrikanernasionaliste tuis sou jubel oor die Suid-Afrikaanse verliese. Met die daaropvolgende nederlaag by Tobroek het sy en Smuts se grootste nagmerrie ’n werklikheid geword.

Katz se bespreking hiervan bring verskeie moontlikhede byeen: Namate die Afrika Korps ooswaarts beweeg het, het Smuts en Churchill daarop aangedring dat Tobroek verdedig moet word; die Britse generaals Auchinleck en Ritchie het geaarsel toe hulle blitsig ’n besluit moes neem; en die garnisoenaanvoerder, genl.maj. Hendrik Klopper van die 2de Suid-Afrikaanse Divisie, met sy eie manskappe plus 22 000 Indiese en Britse troepe, het eers twee dae voor Rommel se aanval ’n finale bevel van die Britte ontvang om die hawestad te verdedig eerder as om saam met die res van die Statebondsmagte terug te val.

Klopper verdien om onder die vergrootglas geplaas te word: Die personeellêer van dié boorling van Somerset-Wes, ’n voormalige laerskoolonderwyser, toon hy het nie juis professioneel presteer nie en tog op ouderdom 40 – en sonder enige operasionele ondervinding – byna meteoriese opgang gemaak tot garnisoenbevelvoerder.

Ritchie se besluit om Klopper as aanvoerder by Tobroek aan te stel was gewoon bisar, veral as ’n mens in ag neem hoeveel meer ervare Britse en Australiese soldate hy kon kies. Klopper het oor geen militêre intuïsie beskik nie; hy kon nie besluite neem nie; hy het geen gesag oor sy ondergeskiktes gehad nie; verdedigingsplanne is nooit aangepas nie; artillerie is verbeeldingloos uitgestuur en teenaanvalle is nie behoorlik beplan of uitgevoer nie.

Met veel minder hulpbronne tot hulle beskikking kon Rommel se magte die garnisoen binnedring en die hoofkwartier se kommunikasiekanale verwoes. Klopper het toe die meeste Suid-Afrikaanse soldate beveel om die handdoek in te gooi sonder dat daar ooit ’n skoot gevuur is.

Katz se boek maak ’n mens woedend oor die onbeholpe manier waarop bevelvoerders die lewe van dapper mans op die spel geplaas het. Die inhoud van hierdie boek is ’n belangrike deel van ons geskiedenis en identiteit en verdien om wyd gelees te word.

  • Dr. Rodney Warwick is ’n geskiedenisonderwyser by Bishops in Kaapstad.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.