Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
'Hoeveel skrywers het hy nie ontdek nie!'
Danie van Niekerk het in Mei 1950 sy loopbaan as Burger-verslaggewer begin en later die Van alle kante-rubriek geskryf

Danie van Niekerk en ek loop ’n lang pad saam. As jong digter stuur ek vir hom ewe vermetel gedigte uit Skandinawië wat later in my bundel Geslote baan in 1988 opgeneem word. Hy reageer per brief en vra ek moet nog stuur.

Voor die publikasie van die bundel is ek eendag in Kaapstad en laatmiddag ontmoet ek hom in sy kantoor saam met die befaamde meneer Jürgen Fomm.

Ons sit by ’n ronde tafel in sy kantoor en hy skink vir my ’n whisky en gesels met ’n jong digter oor reis en die digkuns asof ons gelykes is. Die volgende dag gaan eet ons by Rozenhof en hy behandel my asof ek ’n belangrike skrywer is.

Ons deel twee passies, ek en hierdie gentleman: reis en goeie kos met wyn.

En ons word vriende.

Deur die jare kuier ons gereeld saam (met sy sjarmante en slim vrou Anneke) en hierdie skerpsinnige man kan in een gesprek deurdring tot die essensie van ’n saak.

Danie van Niekerk saam met Dirk en Marie Opperman.

Taalkwessies kom dikwels aan bod en op ’n keer vertel hy my as ’n jong aansoeker by Tafelberg Latyn as skoolvak gehad het, is hy of sy summier aangestel.

Hy het groot skrywers uitgegee en dit is algemeen bekend dat hy die manuskripte (saam met sy redakteurs) gelees het. Hoeveel skrywers het hy nie ontdek en gehelp nie! Ons dink gewoon net aan T.T. Cloete.

By die bekendstelling van Jan Spies (links) se Pille vir servette.

’n Fout sal hy bepaald oppik en jou daarop attent maak.

Sy diskreetheid is ’n belangrike karaktereienskap. By geleentheid het ek veel te segge oor ’n skrywer se gedrag wat my irriteer. Hierop reageer hy ferm. Hy wil nie deel neem aan die gesprek nie; dit was sy skrywer.

Uiteraard het ek apologie aangeteken en met waardering gedink dat so ’n soort mens dun gesaai is.

In 2002 verskyn Ruggespraak (by Protea) ek dra dit o.a. op aan hom en Anneke. ’n Klein blyk van waardering.

Ons gesels ook oor goeie rolprente en gee vir mekaar titels deur.

Toe hy en Anneke verskuif uit hul huis in Oranjezicht na ’n aftreeoord, skenk hy sy groot versameling plate aan my. Sy kennis van klassieke musiek moet eweneens vermeld word.

Maria Callas (1923 – 1977)

Vir Danie van Niekerk

A woman sings with her ovaries — you’re only as good as your hormones.

– Carol Neblett

La Divina,

temperamentis,

tessitura uniek;

die bybel van opera,

doop Leonard Bernstein

haar speels,

verewig

op ’n Griekse munt

haar asse gestrooi

in die Egeïese see

soos sy vra.

Haar stem

onlosmaaklik

deel van haar lyf:

eers gewigtig,

later afgeskaal.

Sy blameer glo

haar moeder, Evangelia,

vir haar skroom.

Sny haar los

van háár wat kleintyd

applous weerhou’t

soos ’n ryke sy krummels

van ’n bedelaar.

Nimmer erkenning genoeg:

die media en operahuise

net ’n skynverblyf.

Telkens hunker sy

in herinnering

honger na haar moeder

se goedgevinde terug,

na die suinige porsies

afgeweeg,

liefde op voorskrif.

Vaders vind sy elders:

Giovanni Battista Meneghini

vergoed vir haar vader se onbestendigheid

tot haar nemesis verskyn:

Onassis die goëlaar, minnaar,

befonkfaaier,

brutale vetsak

’n eend

wat munte

in die water

skyt –

tot Jacqueline Kennedy,

elegant en afgerond,

’n mooier, jonger diva

haar in die derde bedryf

lammermoor:

liefde, verraad, skandaal

uitgespeel in die openbaar

Sy kruip weg, verloor haar

in ’n glansbestaan

vereensaam

tot haar terugkeer

met ’n stem wat vulgêr

en vals weerklink.

Lucia se waansin

het verruk,

haar ondergang aanskoulik;

joune daarenteen speel af

in die stad van liefde en lig,

en die staccato flitse

van paparazzi was alles

’n oop geheim.

Joan Hambidge

In ’n brief gedateer 29 November 1987 beklemtoon Elize Botha die bedagsaamheid van die Van Niekerks (Elize Botha – gespreksgenoot – ’n brieweboek saamgestel deur Heilna du Plooy, uitgegee deur Litera, 2017).

En die wonder van vriendskap.

Ek drink op jou ’n ottermaklottertjie, Danie!

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.