Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Holderstebolder boek oor Chris Barnard stel teleur

Dié biografie oor Chris Barnard sal dalk ’n leersame leeservaring wees vir oningewyde, kritieklose lesers, maar vir Jean Meiring was dit ’n ‘beduidende teleurstelling’.

Hartebreker: Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting deur James-Brent Styan. Uitgewer: Jonathan Ball.
Prys: R240.

In ’n teater in die Groote Schuur-hospitaal vermag Chris Barnard laatnag op 3 Desember 1967 die onmoontlike: Hy neem ’n dooie rooiborsduif koesterend in sy hande op en gooi dit hoog die lug in. Wonderbaarlik vlieg dit – en sleur Barnard sáám die hemele in.

Dié verbeeldingsvlug is allermins vergesog as ’n mens die gebeure rondom die hartoorplanting bekyk wat Louis Washkansky ’n nuwe lewe gegee het. Dít waarin Barnard en sy span daardie nag geslaag het – om die eerste keer mens tot mens ’n indringerhart in ’n vreemde liggaam te laat klop – is die stoffasie vir ’n mite of Bybelverhaal.

Terstond is Barnard, ’n boorling van Beaufort-Wes en nog maar 45, Zeus op ’n troon. Die pous én die president van die VSA ontbied hom. Die wêreldmedia is gaande, hul paparazzi-op-petrolperde op loop.

In sy nabyheid kry vroue reëlmatig hartkloppings, wat die goeie dokter dikwels noop om agter ’n diggetrekte deur sy doepa aan hulle toe te dien. As Barnard by die Italiaanse rolprentdiva Gina Lollobrigida ’n nagwaak hou, is dit oral­oor rugbaar – ook in Suid-Afrika, waar sy vrou, Louwtjie, en hul kinders op hom wag.

Soos die maanlanding anderhalf jaar later is dié opspraakwekkende operasie iets waaroor iedereen ’n stuiwer in die armbeurs wil glip. Die meeste wit Suid-Afrikaners maak met hul vingers ’n V-teken in die lug, ander sê Barnard het die buiteposte van die mediese wetenskap oorskry en hom op die onbegaanbare terrein van God begeef.

’n Streng redakteur en noukeurige proefleser sou die ergste bloeding kon gekeer het.

Uit die buiteland word Barnard, ook deur sy oudmentors en -kollegas in die VSA, lof toegeswaai, wat soms vertroebel word deur onderstrominge van ongeloof dat hierdie iets nuuts uit Afrika kon kom, professionele afguns en die aantyging dat hy op die rug van ander se navorsing gery het.

Die oudjoernalis James-Brent Styan had dus ’n ryke oorvloed edelmetale tot sy beskikking waaruit hy in sy smidswinkel iets werklik glimmends kon smee.

Maar ’n biografie oor iemand soos Barnard sal altyd besonder uitdagend wees, veral in ’n tyd waarin die biografiegenre wegbeweeg van ophemeling tot iets veel meer ewewigtigs. Styan teken wel ruim kritiese aspekte aan.

Tog, al beskik die eindproduk – as ’n mens jou oë op skrefies trek – oor deug, is dit in die geheel en op die keper beskou ’n beduidende teleurstelling.

Dis des te jammerder, want die betreklik uitvoerige bronnelys en die nuutjies – soos Styan se opspoor van die tot dusver weggesteekte kiekies van die latere Blaiberg-hartoorplanting, asook sy vars (maar onderbenutte) onderhoude met onder andere twee verpleërs wat Barnard in die eerste oorplanting bygestaan het – toon duidelik dat die skrywer ’n yweraar is.

Kortom, die dramatiese gebeure wat skering en inslag van Barnard se lewe was, maak dat Hartebreker vir oningewyde lesers wat redelik kritiekloos lees ’n skaf­like en leersame leeservaring kan wees. Dit neem wel etlike boeiende etiese en ander kwessies onder die loep, soos die navorsing wat die operasie moontlik gemaak het, Barnard se uitgesprokenheid teen die apartheidsregering en sy latenstydse betrokkenheid by ’n bedenklike verjongingskuur.

Maar lesers wat op samehang, konsekwentheid en welluidende Afrikaans gesteld is, sal op bl. 1 al die rooi pen opneem. Die boek se gebreke is volop én baiekantig.

Wat die navorsing en inweef van feite betref, laat Styan dikwels noodsaaklike inligting uit. Dít wat hy wel besluit moet ín, word soms in ’n vreemde sekwens gerangeer. Ook verskyn daar dan en wan in bindings- of agtergrondpassasies aanvegbare punte én word daar tussendeur boeiende retoriese stellings laat val wat dan nooit behoorlik ontgin word nie.

Die eerste hoofstuk, “Karooseuns”, oor die prille Barnard en sy huisgesin, dien as voorbeeld. Daar word van die Barnard-ouers se konserwatiewe Calvinisme vertel en die pa, Adam, kom as ’n eksentrieke figuur uit die verf, maar niks word oor Barnard se skoolopleiding gerep nie, nie eens waar hy op skool was nie. Ook Barnard se graadkursus aan die Universiteit van Kaapstad en sy intellektuele invloede daar word grootliks verswyg.

Barnard se sibbes word genoem, maar weinig van belang word oor hulle gesê totdat hulle later weer opduik. ’n Mens wil veral weet van Barnard se verhouding kleintyd met sy broer Marius, met wie hy as medikus sou saamwerk en met wie hy later ’n ingewikkelde verhouding gehad het.

Op bl. 11 vertel Styan hoe Barnard sy ouers se verbod verontagsaam het om danse by te woon. Dan verskuif die aandag na sy pa se stryd ter wille van die bruin mense se skool, voordat dit op bl. 13 weer gaan oor die Barnard-jongens se besoeke aan die plaaslike bioskoop. Daar is baie sulke spronge.

Op bl. 5 verskyn dié stelling oor Beaufort-Wes en die platteland in die algemeen, sonder enige maatskaplik-geskiedkundige bronverwysing: “Miskien weens ’n gebrek aan Engelse mense om te teiken, is daar op die platteland algaande gefokus en gediskrimineer volgens ras.”

Op bl. 6 en 7 word gesuggereer dat die heengaan van Barnard se peuterbroer Abraham weens ’n hartkwaal dalk sy professionele trajek beïnvloed het. Tog dobber dié stukkie psigologiese aas enduit ongeherkou.

Die boek se Afrikaans is deurgaans stram, hortend en onelegant. Dikwels word ’n naam byvoorbeeld in opeenvolgende sinne herhaal waar ’n voornaamwoord gebruik moes gewees het. Daar word volkome inkonsekwent na individue verwys. Nou is die hooffiguur Barnard, dan Chris Barnard, en weer Christiaan Barnard. Dan net Chris, of Chris­tiaan.

Vertaalde aanhalings en talle ander passasies bevat on­idiomatiese klippe wat in die krop vassteek. Op bl. 4 word byvoorbeeld gesê Barnard se pa het “van onder af deur die geledere opgekom”.

Growwe kontinuïteitsfoute deurspek eweneens die teks. Op bl. 34, byvoorbeeld, word gesê teen 1956 was Barnard ’n toegewyde “registrateur” (kliniese assistent?) by Groote Schuur, en op die bladsy daarna staan daar: “In Desember 1955 het Christiaan Barnard alleen na Minneapolis toe gevlieg” om te gaan studeer.

Verrassende voorsetsels en ander basiese taalfoute is ook legio (byvoorbeeld “ ’n afkeer aan Engeland”, op bl. 5).

Kortom: Dis klinkklaar dat Hartebreker holderstebolder die rakke moes haal. ’n Streng redakteur en noukeurige proefleser sou die ergste bloeding kon gekeer het.

Selfs Barnard se dood word vertroebel: Op bl. 217 word verwys na Paphos, waar hy gesterf het, as “die eiland”. In der waarheid is dit ’n verwysing na die stad Paphos, aan die westekant van die eiland Ciprus, waar Aphrodite, die Grieke se godin van die liefde, gebore is.

Ons eie gevalle hartensgod verdien beter.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.
Meer oor:  James-Brent Styan  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.