Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hond se weegskaal vir die hart

Op ’n dag, ’n hond

John Miles

HUMAN & ROUSSEAU, R290

John MilesFoto: JACO MARAIS

’n Goeie teks skep sy leser, lei jou as’t ware op in die lees van die teks, sonder dat jy dit agterkom. Met hierdie nuwe roman van John Miles kan jy, nadat die slot jou effe verdwaas en melancholies hunkerend gelaat het, gerus weer die eerste hoofstuk lees om agter te kom hoe jy daar as leser georiënteer word: Jy word letterlik in die donker voor die venster van ’n tuinwoonstel staangemaak.

Saam met die verteller staan jy daar en kyk van ’n afstand na die man wat daar geboë oor ’n boek sit. Daar is ’n alt wat op ’n CD sing van verlies en aanvaarding, en as jy mooi kyk, kan jy van die romantitels op sy boekrak ontsyfer.

Miles verwag van jou om mooi te kyk, om te ontsyfer en te ontstrengel. Let byvoorbeeld daarop dat die boek wat daardie man lees ’n omgekeerde beeld van die lewe voorhou, een waarin daar aan die begin ’n afskeid is, en aan die einde ’n bekendstelling.

Weldra kom jy dan ook agter dat die normale chronologie in Miles se roman omgekeer is, en dat byvoorbeeld die bekendstelling van karakters en gebeure telkens eers volg nadat daardie karakters en/of gebeure hul reeds aangemeld het. Ook word die begin van dialoog deur ’n kaslyn (lang aandagstreep) aangedui en nie deur aanhalingstekens nie, maar nie die einde daarvan nie, sodat die stemme van karakters en verteller vervloei en die leser ook in hierdie opsig verplig word tot ’n haas letterlike ontrafeling.

Waarom?

’n Leidraad kry jy in die motto van die boek, ’n aanhaling uit De Montaigne se essay oor afsondering/alleenheid, wat dui op die gevare daaraan verbonde om liggaam en siel te skei. Dit is ’n belangrike motief in die roman, hierdie onskeibaarheid of verstrengeldheid van teenpole. Ook op struktuurvlak moet jy voortdurend ontstrengel om juis agter te kom hoe sake op inhoudsvlak verstrengel is, en uiteindelik besef jy dat hierdie roman juis ’n inskrywing is teen konvensionele opvattings van hoe sake inmekaarsteek.

Dalk is hierdie roman veral ’n inskrywing teen konvensionele moraliteit. Die hondmotief wat reeds deur die titel aangekondig word, betrek byvoorbeeld die antiek Egiptiese seremonie van die weeg van die hart. Aan die begin van elke onderafdeling is daar ’n afdruk van ’n skildery waarin hierdie seremonie uitgebeeld word: ’n hond met ’n hart in die een poot en ’n veer in die ander. Die mensehart word geweeg – dit moet ligter as ’n veer wees, anders word daardie mensesiel vernietig.

Dit klink dalk nog nie so aweregs nie, maar in Miles se roman is juis die hond die bepaler van die mens se lotsbestemming omdat die hond weet dat niks magtiger as die dood is nie. So gebeur dit ook in hierdie verhaal dat ’n hond op ’n dag by hierdie man, die protagonis wat ons net as “die onderwyser” leer ken, opdaag en hom onskeibaar aan die onderwyser vaskleef.

Uiteindelik sorg hierdie hond dat die onderwyser ’n wonderlik vreemde tog onderneem na Bloemfontein, en dié keer is die reis na die Vrystaat nie soos tipies in die Afrikaanse prosa ’n reis na die dood nie, maar eerder na iets soos die verstrengeldheid van lewe en dood.

Die hond is ook nie die enigste wat as ’t ware gestuur is om die onderwyser se lewensweg te bepaal nie. Voor die hond was daar ’n vrou. (Daar is in der waarheid meer as een hond, en meer as een vrou.) Nadat die onderwyser se eggenote op tipies Suid-Afrikaanse wyse in hul aftreehuis op Oubaai (ja, alle eiename in ’n
Miles-boek is veelseggend) vermoor is – en hy die aanval oorleef het – het hy hom in afsondering daaraan toegewy om sy eggenote, in lewe ’n suksesvolle skrywer, se laaste manuskrip te voltooi.

Op ’n dag klop ’n jongerige vrou aan sy deur en oorreed hom om by haar skool te kom help met remediëring. Hy trek hiervoor stad toe, woon in die tuinwoonstel waar die leser hom in die eerste hoofstuk aangetref het, met sy enigste noemenswaardige sosiale kontak die eienaar van ’n boekwinkel en ’n paleontoloog. Die kontak met laasgenoemde is nie soseer omdat hierdie man ’n ryke bron van inligting oor die aarde se voorgeskiedenis is nie, maar eerder omdat hy ’n skakel is met die onderwyser se droewe persoonlike geskiedenis.

Soos in die paleontologie word die persoonlike geskiedenis in hierdie verhaal vanuit die hede terug na die oertyd laag vir laag blootgelê.

Soos in die paleontologie word die persoonlike geskiedenis in hierdie verhaal vanuit die hede terug na die oertyd laag vir laag blootgelê. Die teks self het so ’n intertekstuele gelaagdheid: Markus Aurelius se Meditasies funksioneer hier spesifiek as ’n voor-Christelike morele rigsnoer; daar is Rilke se gedagte dat ons bye is wat heuning uit die sigbare versamel om op te gaar in die goue korf van die onsienlike, ’n gedagte wat uitloop op een van die mooiste sinne in Miles se hoogs gekomponeerde prosa: “Ons verwyl die tyd om te omvorm en te verinnig sodat die uiterlike gaandeweg veryl.”

Soos dikwels by Miles praat die mitologie saam in ’n komplekse besinning oor onder meer die opvatting dat identiteit nie unitêr is nie maar tweevoudig, dat ons op velerlei maniere twee keer onsself is. Dit is ’n besinning oor die skryfkuns en oor dit waarmee die skryfkuns sig bemoei, naamlik die ontdekking van die lewe, spesifiek ’n lewe in hierdie wye en droewe land waar die bekamping van misdaad en geweld net so lukraak is soos die geweld self.

Is van die verhaalgebeure darem net te toevallig vir goeie prosa? Kyk mooi, ook hierdie toevallighede word so berekend herhaal dat jy dit sal moet verreken as net nog een van die onkonvensionele boustene van ’n hoogs uitsonderlike roman.

Francois Smith is ’n dosent in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat.

Meer oor:  John Miles  |  Fiksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.