Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Honderd jaar later: Vir Jan Alleman om te lees

‘Hel toe en terug’, Louis Scott se selfgepubliseerde Eerste Wêreldoorlog-gedenkboek vir die algemene publiek, vorm deel van die eeufeesvierings tot 11 November vanjaar om die einde van dié oorlog te gedenk, skryf Bill Nasson.

‘Hel toe en terug’, Louis Scott se Eerste Wêreldoorlog-gedenkboek.

Hel toe en terug: Die Eerste Wêreldoorlog – ’n 100 jaar later (Gedenkuitgawe) deur Louis Scott. Selfpublikasie. Prys: R250 (hardeband), R120 (sagteband).

Geskiedkundiges is oor herdenkings net so gaande soos ’n hond oor biltong. Vir almal wat geskiedenis skep (of versin) is die kersie op die koek die herdenking van die een of ander groot gebeurtenis wat simbolies is van ’n historiese voorval, prestasie of opoffering wat geskiedenis in ’n vorm van terapie verander.

In hierdie opsig kan min dinge by ’n eeufeesviering kers vashou. Dié geleenthede wek immers ’n wêreld van weleer uit die dood op, maar dit is ook ’n wêreld wat nog op die rand van onthou huiwer omdat dit betrekking het op ’n tyd toe ons oupas en oumas en grootjies die aarde bewandel het. (Dink maar aan die herdenking van die Groot Trek in 1938 of die onlangse viering van Nelson Mandela se geboortedag in 1918.)

Op ’n manier bied eeufeesvierings ook die geleentheid om te leer van dinge wat jy nooit geweet het nie. Vir professionele historici is die grootste kopseer juis om met vars “algemene” weergawes van welbekende gebeure vorendag te kom, of om mense te herinner aan herdenkings wat maklik agterweë bly, soos die stigting van die Nasionale Party in 1914.

Dié boek herinner ons ook aan die Britse skrywer H.G. Wells se opsomming van die Eerste Wêreldoorlog – “the war to end all wars”...

Eeufeesvierings maak ook die geskiedenis gewilder en toegankliker, en enigiemand wat entoesiasties is oor die verlede, kry só die geleentheid om ’n bydrae te lewer.

As dit kom by herinneringe en herdenkings in populêre leesstof, is oorloë beslis voor in die koor. Namate ons 11 November – die amptelike afsluiting van die eeufeesvierings rondom die einde van die Eerste Wêreldoorlog – nader, verskyn dié persoonlike bydrae deur Louis Scott.

Hel toe en terug: Die Eerste Wêreldoorlog – ’n 100 jaar later is ’n lieflike hardebandboek met 164 bladsye boordenstoe vol inligting, plus ’n nuttige register, interessante aantekeninge en selfs ’n kort leeslys wat van die voorste kenners oor die Eerste Wêreldoorlog, soos Gary Sheffield en David Stevenson, insluit. Die skrywer het dit self uitgegee en slaag sekerlik in sy doel om die storie van die Eerste Wêreldoorlog – en spesifiek Suid-Afrika se rol daarin – op ’n eenvoudige manier te vertel. Dit word versterk deur klein persoonlike gebare waarin die hede en verlede mekaar ontmoet. Só sien ’n mens byvoorbeeld die skrywer afgeneem by ’n 1916-oorloggedenkteken in KwaZulu-Natal, asook ’n foto van sy vrou, Linette, wat in die noorde van Frankryk by ’n bronsbeeld van Marianne, die mitiese simbool van die republikeinse Frankryk, poseer.

Scott se boek is allermins ensiklopedies in sy dekking, maar verskaf tog ’n redelik bondige oorsig van die basiese verhaal – van die oorsake en gevolge van die oorlog, die hel in die loopgrawe en die voorste linies en die sukkelende tuisfront tot die blywende kulturele en tegnologiese beelde, wat insluit Mar­lene Dietrich, Rudyard Kipling, hakiesdraad, tenks en natuurlik derduisende begraafplase en miljoene kruise.

Hel toe en terug het die gevoel van ’n geïllustreerde skoolhandboek, maar is verfrissend beskeie oor sy teikenmark: die gewone mense, beklemtoon Scott in sy inleiding. Aangesien dit ’n inleidende oorsig is, word hierdie gehoor beloon met ’n voorspelbaar kleurryke visuele uitbeelding van die Europese hartland van die Eerste Wêreloorlog, of, anders gestel: Dit is ’n redelik standaard kroniek wat wegtrek met aartshertog Franz Ferdinand en sy glimlaggende vrou, Sophie, onderweg na hul sluipmoord in Sarajewo in Junie 1914, en eindig met die onsekere toekoms van die 8 miljoen krygsgevangenes wanneer die oorlog in November 1918 tot ’n einde kom. Scott beskryf hul lot as ’n “logistieke nagmerrie”, een van die kleineres midde die menigte wat in Hel toe en terug uitgebeeld word.

Net so slaag Scott daarin om ’n bietjie ekstra in te prop deur ook die diepe trauma van die oorlog en die ingrypende implikasies vir samelewings uit te beeld. Jy beleef die bomskok, post-traumatiese stresversteuring en die uitwerking van die Groot Griep van 1918. Die outeur gee ’n lys noemenswaardige griepslagoffers, soos Walt Disney en Woodrow Wilson (wat dit albei oorleef het), maar laat na om ­Louis Botha, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika, te noem.

Die deel oor die betrokkenheid van die Suid-Afrikaanse Unieverdedigingsmag fokus op die bekende terrein van die Wesfront met veral die bloedige en duur skermutselings by Delvillebos in 1916 wat aandag kry asook die rol wat dit in daaropvolgende veldtogte in Frankryk en België gespeel het. Hoewel kort, kry Scott dit selfs reg om kommentaar in te sluit oor die Unie se inval in die destydse Duits-Suidwes-Afrika en sy deelname aan ander oorloë in Oos-Afrika en Palestina.

Dié boek herinner ons ook aan die Britse skrywer H.G. Wells se opsomming van die Eerste Wêreldoorlog – “the war to end all wars” – wat natuurlik glad nie die geval was nie. Was dit eerder ’n oefenlopie vir ’n ander, selfs skrikwekkender oorlog wat sou volg?

  • Prof. Bill Nasson is verbonde aan die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Eerste Wêreldoorlog  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.