Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hoog tyd dat oor dié draak gepraat word

Met ‘Die dag toe die draak kom’ spreek Fanie Viljoen die netelige kwessie van kindermolestering sensitief en dapper aan – en sonder om doekies om te draai, skryf Magdel Vorster.

Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir seuns en Die dag toe die draak kom: ’n Boek vir meisies deur Fanie Viljoen met illustrasies deur Tumi K. Steyn. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R110 elk.

Party boeke is maklik én lekker om te skryf; ander is weer maklik om óór te skryf. Hierdie een is ánders.

Dit kon nie vir Fanie Viljoen maklik gewees het om Die dag toe die draak kom uit sy gestel te kry nie, maar met skokkende statistieke wat toon een uit elke drie Suid-Afrikaanse kinders word voor die ouderdom van 17 seksueel misbruik, het hy nie veel van ’n keuse gehad nie.

Om te beklemtoon dat seuns én meisies misbruik word, het Human & Rousseau twee weergawes uitgegee: ’n boek gemik op meisies en een gemik op seuns.

Albei weergawes verskyn terselfdertyd ook in Engels om die boodskap so wyd moontlik te versprei.

Geen vermoede of suggestie van misbruik mag geïgnoreer word nie.

Die hoofkarakters, wat onderskeidelik Kyla en Kevin heet, word deur ’n ooglopend ongelukkige ouer sussie, Abby, gewaarsku teen ’n draak in die huis.

Viljoen gebruik die draakmetafoor slim: In hul onderskeie fantasiewêrelde is Kyla ’n prinses en Kevin ’n ridder wat albei deur ’n draak bedreig word. Al twee hou hulle oë oop vir leidrade om uit te vind wie die draak is wat volgens Abby soms soos ’n mens lyk.

Wanneer die draak dan wel gemoedelike en gemaklike grense oortree, lei ’n voorligtingsles van juffrou Arendse uiteindelik tot die ontmaskering van die draak in die huis.

In dié voorligtingsles het Kyla en Kevin deur middel van ’n rympie geleer wat toelaatbaar en ontoelaatbaar is wanneer ander mense hulle aanraak. Hulle het ook van die veilige hand geleer: Die vyf vingers van die veilige hand verteenwoordig elk ’n vertroueling na wie die kind kan gaan “as iemand iets leliks met jou probeer”, soos die karakters dit stel.

Agterin die boek, wat gemik is op kinders van ses tot nege jaar oud, deel Viljoen ook belangrike bykomende inligting vir kinders, ouers, ander gesinslede en onderwysers om hulle in te lig en te bemagtig in die stryd teen die draak.

Die skrywer het duidelik omvattende navorsing gedoen. Waaroor dit uiteindelik gaan, is dat daar met kinders oor seks gepraat moet word en dat ’n mens geen vermoede of suggestie van misbruik mag ignoreer nie. Met hierdie toeganklike verhaal, sjarmant geïllustreer deur Tumi K. Steyn, spreek Viljoen ’n netelige onderwerp sensitief, maar dapper aan en sonder om doekies om te draai.

Die dag toe die draak kom móés geskryf word, en net so moet dit wyd gelees en oor geskryf en gepraat word. Kinders moet bemagtig word om enige ongemaklike toenadering vanuit hul eie portuurgroep of ’n ouer persoon aan ’n vertroueling te rapporteer. Daarbenewens moet ouers en alle ander toesighouers gesensitiseer word oor die drakekwessie.

Kinders moet inderdaad gesien én gehoor word.

  • Magdel Vorster is ’n voormalige kinderbibliotekaresse en eienaar van ’n kinderboekwinkel wat vir oorsese publikasies oor plaaslike boeke in dié genre skryf.
Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.