Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hulde vir gevierde Harold Bloom (1930-2019)

Die gevierde literêre kritikus en akademikus Harold Bloom is vroeër vandeesweek op 89 jarige ouderdom dood. Joan Hambidge huldig hom.

Harold Bloom afgeneem in sy klas by die Yale-Universiteit.

Harold Bloom was ’n Sterling-professor aan die Yale-Universiteit in Amerika. Hy was die seun van ’n Ortodokse Joodse kleremaker. As kind het hy Hebreeus gelees en studeer aan die Cornell-Universiteit en die Universiteit van Cambridge in Brittanje.

Sy produksie was enorm met meer as 40 boeke. By geleentheid het hy bely dat hy sy nie-funksionerende seun moes onderhou en daarom so produktief was.

Sy teorieë is ’n unieke interpretasie van Freudiaanse teorie, New Criticism, die Kabbala en goeie oordeel. Daar was een kreatiewe teks, ’n wetenskapfiksie-roman.

Drie van sy tekste bly vir my literêre handleidings: The Western Canon (1994) waarin hy nie skroom om goeie, klassieke tekste as bakens te besing nie, The Anxiety of Influence (1973) en A Map of Misreading (1975). Laasgenoemde twee tekste het my as digter gevorm. Ek onthou hoe ek in ’n bitter koue New Haven die eerste keer hierdie tekste gelees het. My tekste is vol potloodinskrywings en uitroepe oor hoe dit my bekoor het. Dit was 1985. Ek het in hierdie yskoue winter Bloom se seminare bygewoon en ek was daarna nooit weer dieselfde nie.

Die hartstog en intensiteit waarmee hy klasgegee het en die webbe van die kanon kon roer, was uitsonderlik. Ook sy uitspraak dat ons nie ’n Freudiaanse lesing van Shakespeare moet maak nie, maar eerder ’n Shakespeariaanse analise van Freud, is tersaaklik.

Bloom het ook by geleentheid geskryf dat daar geen tekste is nie; net onsself.

Binne-lesers sal weet hoe Bloom te velde trek teen die sogenaamde School of Resentment, oftewel die literatore wat meer teorie lees as wat hulle boeke bestudeer. En boonop die estetiese aspek van die teks ontken. So beskou, meen Bloom, kan ’n middelmatige teks (wat politiek korrek is) op dieselfde vlak gelees word as Shakespeare of ’n klassieke werk.

Bloom het ook by geleentheid geskryf dat daar geen tekste is nie; net onsself. En die agonistiese aspek van die letterkunde waaroor hy ’n hele boek geskryf het; Agon: Towards a Theory of Revisionism (1982) wys op die inherente kompetisie in sowel die skryf- as die leesaksie.

En die kundigheid van so ’n meester-leser word duidelik gemaak in ’n lesing oor Herman Melville se Moby Dick (Harold Bloom on Melville’s Moby Dick – YouTube. Besoek 17 Oktober 2019). Sekere aspekte van hierdie roman begryp ek nou beter ná Bloom se lesing.

Camille Paglia se Sexual Personae is onder sy leiding geskryf. Haar Break, Blow, Burn (2005), waarin sy 43 van die beste Engelse gedigte lees, is ’n obiter dictum aan haar mentor.

Bloom is veral beïnvloed deur Northrop Frye en William K. Wimsatt.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.