Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Huldigingsbundel oor N.P. van Wyk Louw deur skoonseun verskyn gou

Verskeie mense deel hul herinneringe aan die digter N.P. van Wyk Louw 50 jaar ná sy dood in ’n huldigingsbundel waaraan sy gewese skoonseun prof. Ampie Muller nog gewerk het toe hy verlede jaar dood is.

Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP van Wyk Louw word na verwagting in September deur Hemel & See Boeke uitgereik.

Muller het ses jaar gelede met die projek begin.

N.P. van Wyk Louw

Sy vrou, Beverley Roos-Muller, het ná sy dood die projek voortgesit.

Muller, wat onder meer ’n omroeper en bedryfsielkundige was, was met Louw se dogter Ria getroud. Sy is in 1964 dood, maar Muller en Louw was vriende tot Louw se dood in 1970.

“Sommige van die mense wat oor Louw in die bundel skryf, is ook al intussen dood,” sê Helga Steyn, mede-eienaar van Hemel & See Boeke.

Ontslape skrywers soos Karel Schoeman, Adam Small en PG du Plessis het oor Louw geskryf.

Ander mense wat in die bundel skryf, sluit in die digter Antjie Krog, die skrywer JM Coetzee, die regisseur Katinka Heyns, die joernalis Max du Preez en die Suid-Afrikaans gebore skilder Marlene Dumas.

Louw se invloed is inderdaad verreikend, sê Steyn.

Dit strek verder as sy skryfwerk en sluit teater, musiek, kuns en ballet in.

Louw se kinders uit sy tweede huwelik, Reinet en Peter, lewer ook bydraes met die soeklig op Louw se privaat lewe.

Louw was ’n groot in vloed in Muller se lewe.

Hy het hom “vader” genoem, sê Roos-Muller.

Muller het die familiestories baie goed geken en Roos-Muller het gereken dit moet geboekstaaf word.

“Ampie was ‘n paar jaar gelede siek en ek het vir hom gesê al hierdie stories gaan verlore gaan as dit nie opgeteken word nie. Louw was ’n genie, ek gebruik nie woord ligtelik nie.”

Roos-Muller het ’n essay oor Louw se grootwordjare op Sutherland en op die familieplaas, Gunsfontein, geskryf. 

“Ons wou dit toeganklik maak vir jongmense van die toekoms. Daarom het ons ook bydraes ingesluit deur mense wat hom nie persoonlik geken het nie, maar wat deur hom beïnvloed is.”

Roos-Muller gee besonderhede oor sy familie en sy lewe as jong mens. Sy maak staat op die navorsing wat Louw se kleindogter, Anneke Muller, gedoen het.

Sommige van die bydraes handel oor mense se ervarings met Louw, terwyl ander ’n akademiese of literêre ervaring beskryf.

Sommige bydraes is in Engels.

“Die meeste medewerkers het Louw geken,” sê Steyn.

“Marlene Dumas het hom wel nie geken nie, maar sy het ’n kort stuk geskryf oor ’n sitaat (sy gebruik ’n bietjie Nederlands) wat sy met haar ma se tweede huwelik in die vorm van 'n Louw-gedig geskryf het. Daar is ook ’n illustrasie van die troukaartjie. Dumas hou baie van Louw omdat sy reken dat hy die essensie van ware kunstenaarskap verwoord. Sy skryf Louw se Raka is vir haar die belangrikste omdat jy al in die eerste sin voel hoe woorde liggaamlik raak en hoe bang dit jou kan maak."

‘Vuur in sy vingers – die verreikende invloed van NP van Wyk Louw’ verskyn na verwagting in September.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se geldelike steun het die navorsing en reise na Sutherland (Louw se grootworddorp) en Nederland (waar hy hoogleraar was) moontlik gemaak.

Die bundel se titel kom van ’n versreël uit ’n minder bekende gedig van Louw, “Piromaan”.

“Die bundel is ook polities,” sê Steyn. “Louw was andersdenkend as baie van sy tydgenote wat politiek betref.”

Lojale verset: Kritiese gedagtes oor ons Afrikaanse kultuurstrewe en ons literêre beweging het in die 1950’s verskyn. Dit is een van sy werke waarmee hy die Hertzogprys gewen het.

“Die boek eindig met sy toespraak. En (die ontslape politikus en sakeman) Frederik van Zyl Slabbert het ’n toespraak, ‘Dis tyd vir lojale verset’ gelewer. Dit word ook ingesluit. Slabbert het nooit sy toesprake laat tik nie, maar die papiertjies waarop hy die toespraak geskryf het, is opgespoor.”

Vuur in sy vingers: Die verreikende invloed van NP van Wyk Louw kos R250.

Meer oor:  N.P. Van Wyk Louw  |  Poësie  |  Boeke  |  Skrywers  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.