Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Hy is sonder bedrog (maar met bagasie)

In ‘Soekmekaar’ deel Dana Snyman weer sonder pretensie sy ervarings as reisiger deur landskappe van Suid-Afrika en die mense wat sy pad só kruis, skryf Fanie Olivier.

Op dié foto wat ook op die agterblad van Soekmekaar verskyn, is van links Koos Bogosi, die skrywer en Lettie en Johannes Bogosi.

Soekmekaar deur Dana Snyman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R270.

As skrywer en reisiger op die beeldradioskerm het Dana Snyman oor die jare ’n vertroude huisvriend van duisende Afrikaanssprekendes geword. Ons nooi hom graag ons huise in, want hy is, voel ’n mens, die spreekwoordelike Israeliet sonder bedrog, maar met ’n boel dinge wat hy saamdra.

Hy deel onvoorwaardelik en sonder ’n verskuilde agenda sy ervarings as reisiger deur bekende en onbekende landskappe van Suid-Afrika en ontmoet in die proses altyd mense wat ons in ’n bladsy of twee leer ken. Die meeste van hulle is onbekend, maar ander, soos die skilders Willem Pretorius en wyle Walter Meyer, Karel Schoeman en Eugène Terre’Blanche, lui wel ’n klokkie.

Snyman is op ’n manier die prosa-eweknie van die fotograaf Obie Oberholzer, iemand wat sonder pretensie en vooroordeel na mense kyk. Die klompie klein foto’s versprei deur Snyman se jongste boek, Soekmekaar, bevestig hierdie idee. Maar hulle is swart-en-wit en wek die indruk dat hulle in die verbygaan met die sommerse druk van ’n knoppie geneem is, net om sê: Kyk, hulle of dit bestaan regtig anderkant die woorde.

Soek mekaar voordat dit te laat is...

“Soek mekaar” is inderdaad wat hierdie 59 vertelsels wil doen – met die verdere veronderstelling dat ’n mens mekaar sal vind en vir ’n paar oomblikke kan vashou voordat jy verder gaan. Soms is die soeke in die geheue en die verlange, na ou tye en bekendes, na familie; soms is dit toevallige ontmoetings waarin die skrywer besef dat om mens te wees, beteken jy bly altyd op soek na ander mense. In hierdie verslae van Snyman word die titel amper ’n opdrag: Soek mekaar voordat dit te laat is!

Die stukke, die meeste rubrieklengte van ongeveer 500 woorde, word waarskynlik tematies goed saamgevat met die volgende sinnetjie uit “Van Riebeeckstraat 28”: “ ’n reis vol ompaaie waarvan ek party dinge nou eers probeer verstaan” (bl. 70).

Hierdie ompaaie neem Snyman én die leser op reis deur ’n Suid-Afrika van die laaste 40 jaar of so. Dit word oorheers deur herinneringe aan sy eie gesinslewe, die onbaatsugtigheid van sy moeder en die verskillende mense wat oor die jare vir hulle gewerk het en deel van hul lewe was. Een van hulle, Johannes Bogosi, is ’n karakter wat as bindingselement deur die bundel loop. ’n Ander motief wat telkens na vore kom, is depressie, die swart hond, waarvoor Snyman se werklike honde ’n teëwig word.

Maar daar is ook talle terloopse ontmoetings. ’n Mens kan sê die bundel verken ook verhoudings tussen mense van verskillende agtergronde en teen verskillende agtergronde met die wete dat medemenslikheid, hoe groot of hoe klein ook al, sal verseker dat ons oorleef.

Dana se pa, Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman (1935-2012), afgeneem by die kombuistafel in sy huis op Ventersdorp.

Hy dink aan sy ma en die swart vrou Katrina wat in dieselfde begraafplaas begrawe is en besluit op bl. 201: “Alles oor twee vroue, Ma en Katrina, wat in desperate tye nie hulle menslikheid verloor het nie.”

So ’n poging om die inslag van Soekmekaar vas te vang is natuurlik misleidend. Dit is nie ’n “maklike” boek nie en sommige dinge wat die skrywer rondom kerk en volk skryf en oor Afrikaners en Afrikaans sê, gaan sekerlik nie in almal se klere sit nie. Steve sal nie hou van wat oor hom geskryf word nie en diegene wat Eugène Terre’blanche en die AWB onthou, ook nie . . .

In baie opsigte loop talle wêrelde saam rondom Ventersdorp, waarheen die skrywer in verskeie stukke terugkeer. In die langste stuk, “Ventersdorp – ’n ware lewensdrama”, probeer Snyman nie alleen die feit dat sy pa kapelaan van die AWB was verwerk nie, maar word swart-wit-verhoudings, skynheiligheid, vrees en agterdog ook aan die orde gestel.

So verwikkeld en verwilderd is ons lewe hier, wil hierdie verhaal sê (en al die ander waarin Dana sy eie storie uitstippel): Hoe maak ’n mens sin daarvan? Hoe soek en kry ons mekaar anderkant alles wat ons uitmekaar hou?

Soos sy pa op bl. 88 antwoord wanneer die skrywer hom vertel dat die eerste Snyman bruin was: “Al wat ek vir jou kan sê, is ek bly jou pa.”

Soms, net soms, word ’n hele stuk kwaai en kwaad. Ongenadig, amper. En feitlik altyd in die derde persoon aangebied. Ek dink aan iets soos “John-Henry” (bl. 60): “God wil hê ons moet ryk wees. God wil ons bless met geld. Hy wil hê ons almal moet miljoenêrs wees . . . Dis al amper weer Desember en hy en Nita-Marie gaan weer in Europa ski. What a blessing! Nêrens voel hy nader aan God as op die Alpe se ski slopes saam met sy Investec-pelle nie.”

In hierdie stuk asook sy tweeling, “ ’n Ander wêreld”, is die taalgebruik opmerklik anders, asof die skrywer die leser wil laat verstaan dat sulke soort Afrikaans ook saamhang met ’n denk- en leefwêreld waarmee hy hom nie wil identifiseer nie.

Omdat die meeste van die stukke die skrywer se persoonlike ervarings verwoord, bestaan die gevaar dat die vertelling maklik eenselwig kan word. Hy ontkom dit deur telkens sy fokalisasie of vertelperspektief te verander. Nou is die ek inderdaad “ek”, dan weer word dit “hy” of “Seun”; soms is dit “jy”. Op hierdie manier skep hy afstand, ook emosioneel, al is dit duidelik dat dit moeilik is. Net enkele kere syfer dit uit, nêrens aangrypender as in “Onuitspreeklike sugtinge” nie.

Daar is hier en daar ander stemme wat op ’n ander manier aan die beurt kom, die opvallendstes hiervan die transkripsie van selfoonopnames.

Die slotstuk, “Opruim”, is eintlik op ’n manier ook ’n voorwoord. Dit is een van die langstes in die bundel en betrek al die verskillende soekes, ontmoetings en afskeide waarmee die leser kennis gemaak het. Hy vertel hierin van sy besluit om sy huis op Jacobsbaai prys te gee (bl. 228): “Miskien suig ’n huis se mure en dak jou verdriet en verwildering op soos ’n spons water opsuig.”

Die huis staan inderdaad in die teken van die verdriet wat met die persoonlike verlies van die skrywer saamhang, maar daardie eng persoonlike word besweer deur ’n openhartige groter belydenis. Die huis word ook ’n metafoor vir die wêreld – polities, maatskaplik, religieus – waarin die skrywer grootgeword het, wat ons al lesende leer ken het en waarmee die meeste wit Afrikaanssprekendes wat voor 1980 (sê maar) gebore is, inderdaad vertroud is.

“Ek is ’n onsekere, leierlose Afrikaner op soek na ’n nuwe credo,” lees ons op bl. 229. En verder: “Ek dink ek verstaan iets van mense, my mense, Afrikaners, se dwars woede en gevoel van vervreemding in die land . . . Maar ek vertrek nou op ’n reis op soek na iets meer wyd en oop en genadig tussen ons, hierdie vernielde land se mense, ondanks die wolke van wantroue en haat wat op die horison saampak.”

Natuurlik is daar onder die vertellings ’n paar wat teleurstel, dreig om prekerig of opsetlik te word in die slot, maar dit vergeet en vergewe ’n mens maklik. En hoewel daar ander skrywers in Afrikaans is wat ook graag oor hulle reise verslag doen, is daar niemand by wie die aanslag so intiem, onopgesmuk en roerend is nie.

  • Fanie Olivier is ’n digter, taalpraktisyn en afgetrede akademikus.
Meer oor:  Dana Snyman  |  Resensie  |  Soekmekaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.