Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ier hoor hy wen Nobel – toe wen hy nie

Die Ierse skrywer John Banville was Donderdag die slagoffer van fopnuus toe hy telefonies “ingelig” is dat hy die ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde is.

John Banville. Foto: Getty Images

Die Sweedse Akademie, wat die wenners van die wêreld se gesogste letterkundeprys sedert 1901 aanwys, het eindelik die 2018- en 2019-prys aan onderskeidelik Olga Tokarczuk en Peter Handke toegeken – nie Banville nie.

Banville het aan The Irish Times gesê hy was midde ’n fisioterapiesessie toe hy rondom 11:23 ’n oproep vanuit Stockholm, Swede, ontvang het.

“Ek het gewonder waaroor dit sal wees,” sê Banville. “Toe sê die man (aan die ander kant van die lyn): ‘Ek is Mats Malm, ek is die sekretaris van die Sweedse Akademie. Jy het die Nobelprys gewen.’

“Hy het toe gevra of ek die 2018- of 2019-prys wil hê, en ek het gesê ek gee nie om nie. Hy het toe die motivering gelees wat hulle sou publiseer en gesê hulle sal binnekort weer kontak maak. Hy was baie geloofwaardig.”

Banville sê hy was baie opgewonde – sy fisioterapeut was die eerste om hom geluk te wens.

“Ek het toe huis toe gegaan en ’n bietjie brandewyn gedrink om myself te kalmeer. Toe bel my dogter om 12:00 en sê: ‘Pa, ek kyk regstreeks (na die aankondiging). Wat gaan aan? Jou naam is nie genoem nie.’”

“Ek het toe dadelik gedink: ‘O, dit moes ’n poets gewees het,’” sê Banville teleurgesteld. “Ek het toe inderhaas almal gebel wat ek die afgelope halfuur (van die prys) in kennis gestel het, om te sê ek het nie gewen nie.

“Die eerste sowat halfuur was rof. Toe drink ek nog ’n drankie en nog ’n drankie, en dit het naderhand makliker geword.”

Volgens The Irish Times het Banville kort ná die amptelike aankondiging ’n stemboodskap van dieselfde persoon gekry wat beweer daar was ’n toutrekkery oor die eintlike wenners en dat sy prys ter elfder ure onttrek is.

Die skrywer, wat in 2005 die Booker-prys vir sy roman The Sea gewen het, het die nommer op sy foon teruggeskakel en die kantoor van die akademie bereik, maar kon nie in kontak met iemand daar kom nie.

Die akademie het intussen op die voorval gereageer en ontken dat hulle Banville enigsins gekontak het.

“Niemand van die akademie het so ’n oproep gemaak nie,” sê Malm. “Dit het al voorheen gebeur. Toe ek met Olga Tokarczuk se uitgewer praat, moes ek eers bewys wie ek sê ek is voordat ek met haar kon praat.”

Malm was ook glo tydens die Banville-oproep reeds by die mediakonferensie waar Tokarczuk en Handke as die wenners aangekondig is. Hy het wel gesê die voorval sal ondersoek word.

Die omstrede oproep is die soveelste skandaal waarby die akademie betrek is. Die toekenning van die 2018-prys is met ’n jaar uitgestel nadat die fotograaf Jean-Claude Arnault van ’n reeks seksuele misdrywe beskuldig is en later twee jaar tronkstraf weens verkragting opgelê is.

Arnault is die eggenoot van Katarina Frostenson, een van die akademie se 18 paneellede, wat ook daarvan beskuldig is dat sy en haar man van die akademie se fondse misbruik het.

Die bewerings het tot agt bedankings uit die akademie gelei en het eindelik die toekenning van die 2018-prys ontspoor.

Meer oor:  Boeke  |  Nobelprys  |  Nobelprys Vir Letterkunde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.