Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Impak van die liefde

Poësie

Ou laaie

Fanie Olivier

NALEDI, R240

Daar is sekere digters wat hártdigters is. Hulle is digters wie se werk jy van buite ken en jy dra hulle saam as ’n visum op jou digterlike paspoort.

So ’n digter is Fanie Olivier vir hierdie leser. gom uit die sipres (1971), om alleen te reis (1973), paradysrigting van die wind (1976), skimmellig (1978), verklarings 1967-1978 (1988) en apostroof (2010) heet sy vorige bundels.

As bloemleser het hy vier antologieë op sy kerfstok en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte staan op alle digkunsliefhebbers se rakke.

Hy het Disgrace van J.M. Coetzee vertaal en ’n tesis oor mistieke en religieuse digkuns voltooi.

Ou laaie is ’n bundel veral met liefdesverse; meer nog, dit is ’n besinning oor die impak van die liefde as ’n soort woordtestament. Terselfdertyd ondersoek die digter die aard van die liefdesgedig: hoe skryf jy ’n gedig oor die liefde, daardie gedragene extase? In die Engelse digkuns is Carol Ann Duffy se Rapture ’n baken en wat ou laaie so ’n wonderbaarlike leeservaring maak, is hoe die digter vernuftig sy files oopmaak. Hierom heet ’n gedig “redding- variasies”.

Ons sien op die agterblad ’n tikmasjien en rekenaar. Daar is verwysings na hoe hy skype; met die hand skryf (hy bedank selfs die Egiptenare vir papier) en groet . . . Die digter het lank in die buiteland vertoef waar hy in Pole klas gegee het. Verskillende landskappe of ruimtes kom aan bod: Natal, die Karoo, Venda, die noorde van ons land, die buiteland.

Hy skryf landskapverse, stemmingsverse, politieke verse en die apostrofiese vers (die sametrekking van klanke of woorde), maar apostroof ook as retoriese strategie waar daar ’n afwesige aangesprokene is.

In ou laaie is dit die geliefde, of dalk geliefdes, wat vertrek het en die gedig staan in die plek van afwesigheid/vertrek/teleurstelling. Die vorige bundel handel dan oor die dood van sy vrou, Rike Vaughn, ’n literator.

In hierdie bundel is daar ’n wegsteekproses aan die gang asof die digter nie die gedigte wou deel met die geliefde of leser nie.

In ou laaie word ’n liefdesgeskiedenis weergegee en die gedig is altyd méér as ’n getuigskrif of ’n representasie van die werklike ervarings. Rapture (2005) van Duffy gee die ontwikkeling van een liefdesverhouding weer met kritiese lesers wat sommer besluit het wie die geliefde is.

Die fokus moet dus altyd eerder op die gedigte wees en die prosesse wat dit weergee, herhaal of verander. Met apostroof beperk ’n mens dalk ook die leeservaring as jy net Rike en haar geheueprobleme inlees.

Olivier is bewus van lesers se nuuskierigheid:

die digter hét geen verbeelding nie dis die troos: elke lies

elke wang elke jy elke dy is outobiografies

(“ingebed”, bl. 69)

Duffy praat onder andere met Shakespeare se liefdessonnette en ’n hele skare van Engelse digters. Olivier gesels met Jan Hendrik Leopold en sy beroemde gedig “O nachten van gedragene extase”:

O nachten van gedragene extase

en diep gedronkene verzadiging,

als elk met zijn geluk te rade ging

en van alleenzijn langzaam wij genazen.

(. . .)

En innerlijker naar de drift te horen

van de verborgen donkre hartenklop . . .

Daar is ook verwysings na Van Wyk Louw en Cussons soos in “ingebed” (bl. 69).

Hierdie digter het ’n eie liefdes-idiolek geskep. In sy debuut is daar die klein villanelle “eerste aand” waar die geliefde op ’n fiets ry met ’n karba wyn, ’n blaar en ’n duifie; dus beelde gelaai met seksuele innuendo.

In hierdie bundel is daar ’n wegsteekproses aan die gang asof die digter nie die gedigte wou deel met die geliefde of leser nie. Dis gebêre in laaie. ’n Laai is immers ’n private bergplek.

In die kamer was ’n kas, in die kas was ’n laai, in hierdie laai is daar gedigte. ’n Gepubliseerde gedig kry ander betekenisse. Die leser neem die plek in van die geliefde of aangesprokene, soos Olivier dan waarsku in “aanhef 3”:

geagte leser: hier is geen ander ordening geen dieper sin

nie as bloot die letter – net dit – waarmee die eerste reël begin

En dis hierdie ambivalensie oor die liefdesgedig – wegsteek, dog ook oopmaak – wat die bundel so opwindend maak. Die vers (as objek) kry ook agentskap en hoef haar nie aan die digter te steur nie!

Poësie is niks meer as virtuele werklikheid nie en moderne tegnologie (fone, Skype, Facebook) word metafories ingespan met ’n voetnoot wat ’n stelling dekonstrueer (bl. 43). Die digter is immers met die papier toe gewapen (bl. 27).

Daar is nugterheid in die distigon wat heet “objective correlative” (bl. 13) waar die digter telkens die liefde buite hom plaas.

In “aankoms 2” (bl. 97) skryf hy oor ’n kapingsproses, maar die vers word meer as ’n letterlike kaping; dis ook ’n gedig oor hoe die koördinate eens gerym het in ’n liefdesverhouding.

In die gevlegte fuike van die digkuns het hy pragtige gedigte gevang, om een van sy beelde aan te haal.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.