Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
In die land van melk, heuning

‘Kanaän’, Sophia Kapp se eerste historiese roman, skroom nie om verbande en affiniteite tussen die gebeure van die verlede en die hedendaagse problematiekte suggereer nie, skryf Jonathan Amid.

Kanaän deur Sophia Kapp. Uitgewer: Lapa. Prys: R365.

Verlede jaar se indrukwekkende Kantelpunt het my oortuig om Sophia Kapp meer stip dop te hou. Hoewel ek kennis geneem het van haar liefdesromans en romanzas – die twee is nie met mekaar te verwar nie en verskil heelwat betreffende die wêreldbeskouing en die uitbeelding van intieme verhoudings – het Nellie van der Merwe se geestesreis in Kantelpunt my finaal oortuig.

Dit word aangebied in die vorm van ’n hipomnemata (Grieks vir “herinnerings”), ’n formaat waarin navorsingsuittreksels, verskillende idees en inskrywings (ook uit ’n dagboek), aanhalings en die persoonlike verweef word om ’n lewensverhaal te vertel.

Ek het nie gedink ek sal Foucault in ’n hoofstroomroman raaklees nie, maar dit was nietemin ’n aangename verrassing.

Nellie se verhaal is juis een waar die gedienstige, goedgelowige, wit, middeljarige, Afrikaanse vrou luidkeels aankondig: tot hiertoe en nie verder nie. Dit is ’n lewensverhaal wat tred hou met groter gesprekke om geslagsgelykheid en die vrou se rol.

Die besoek aan haar ginekoloog is die motoriese moment wat Nellie dwing om haar hele bestaan, haar lewenskeuses en -beskouing, waardes en uiteindelik haar toekoms, onder die mikroskoop te plaas.

Kantelpunt se feministiese aanslag, bereidwilligheid om lesers sover moontlik uit te daag deur kaalvuis oor seks, die vroueliggaam en seksualiteit te skryf, en die teks se opregte eerlikheid is verfrissend en diep bevredigend.

Kapp antwoord vroeër vanjaar met Kanaän, haar eerste historiese roman, wat verdien om ’n groot gehoor te trek. Dit is die soort historiese roman wat die leser se intelligensie respekteer, ’n konsekwente en dikwels fassinerende blik op die verlede kaats en nie skroom om buitengewoon skerp verbande en affiniteite tussen die gebeure van die verlede en die hedendaagse problematiek te impliseer nie.

Wat ek baie waardeer is hoe die skrywer telkemale, sonder om die verlede te verromantiseer of om karakters ongeloofwaardig te laat optree, ’n heerlik tasbare, atmosfeerryke, sensuele liefdesverhaal vertel binne ’n konteks van wêreldverandering, onsekerheid en diep ideologiese konflik. Kanaän se byna 500 bladsye is suiwer leesplesier. Al gebeur daar verskriklik baie in die roman en al is die gebeure goed gemotiveer en heel maklik om te volg, gaan dit in wese oor die verhouding tussen twee individue wat in agtergrond en temperament soos dag en nag verskil: Catherine en Chrisjan.

Catherine kom van Johannesburg, uit ’n gegoede huis en gewoond aan die beste.

Chrisjan is die innemende, plat-op-die-aarde boer, ’n Vrystaatse Afrikaner wat hom in sy daaglikse take op die plaas nie met beuselagtighede ophou nie.

Die leser weet alte goed hoe onwaarskynlik die ontmoeting van die twee hoofkarakters sou wees, maar Kapp is vaardig genoeg om die leser te herinner presies hoeveel “ongewone” ontmoetings en hoeveel “konfrontasies” in die tyd van die Tweede Wêreldoorlog in warrelwindromanses en intense liefdesverhoudings sou uitloop.

Soos dit ’n goeie liefdesverhaal betaam word Catherine en Chrisjan se ontmoeting goed gekontekstualiseer, met albei karakters en hul agtergrond wat eers duidelik geskets word. Wanneer Catherine alles wat aan haar bekend is verloor en ’n nuwe heenkome moet vind, is Chrisjan ’n soort reddingsfiguur – let op die “soort”, want deur die loop van die roman word die leser op ’n letterlike en figuurlike reis geneem waar die rol van die dominante figuur in die verhouding telkemale onder die loep geneem word.

Met ’n besonder dramatiese agtergrond van konflik – ideologies, tussen families, vriende en vreemdelinge, asook die verskeie dimensies van oorlogvoering en die verskillende koste daaraan verbonde – het ek groot waardering vir Kapp se hantering van ’n brose, besielende verhouding. Aangesien albei karakters maklik is om van te hou, wat nie ook impliseer dat die leser altyd van hul keuses sal hou en dit sal ondersteun nie, kan Kanaän floreer.

Kanaän vermy goedkoop truuks. Dit manipuleer nie ooglopend leser-gevoelens nie. Dit bly ver weg van karikatuuragtige skurke en “goeie”, ordentlike karakters wat bloot marionette word vir die skrywer se opinies. Dit hanteer die liefde as ’n oeroue, lewenskragtige bron van konflik, maar ook versoening.

Kanaän is eenvoudig lieflik.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Sophia Kapp  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.